Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

BooksLIVESA

Who's your favourite fantasy book heroine? @SciFiNow lists its top 10: http://t.co/6o0dFhL3hm

Huldeblyke stroom in vir Gerrit Komrij en PH Nortje wat verlede week oorlede is

Die elektries gelaaide handOp \'n hoe nootVerlede week het twee groot stemme uit die Afrikaanse en Nederlandse literêre geledere stil geword – dié van PH Nortjé en Gerrit Komrij.

Komrij, een van die grootste Nederlandse digters en skrywers, is op 5 Julie aan kanker oorlede. Hy was onder meer die wenner van die PC Hooft-prys en het heelwat gedoen om die band tussen Afrikaanse en Nederlandse letterkunde te versterk. Komrij het die opspraakwekkende De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten (Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte) saamgestel. Sy eie gedigte is deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal en in die bundel Die elektries gelaaide hand versamel. Saam met Henk van Woerden was Komrij ook die eerste Nederlandse skrywer wat by die US Woordfees opgetree het.

PH Nortjé het op 6 Julie op die ouderdom van 91 in ‘n aftree-oord in die Strand gesterf. Nortje was veral bekend vir sy bundels sketsverhale en jeugboeke. Hy het onder meer die Scheepers-prys vir jeuglektuur ontvang. Mees onlangs is van sy sketse deur Danie Botha in Op ‘n hoë noot: Die lekkerste stories van PH Nortjé versamel. Hy word deur sy seuns Charl, Francois en Pierre-Henri en agt kleinkinders oorleef.

Die afgelope week het verskeie huldeblyke aan dié twee skrywers in die Afrikaanse media verskyn.

Willem de Vries het met verskeie skrywers en akademici oor hul herinneringe aan Komrij gesels:

Die Nederlandse digter Gerrit Komrij (68) word onthou vir sy reuse­bydrae tot die Afrikaanse en ­Nederlandse poësie.

Hy is eergisteraand oorlede ná ’n kort siekbed in die Onze Lieve Vrouwe-hospitaal in ­Amsterdam, is berig.

“Die digkuns was vir hom die siel van ’n taal,” sê die ­Afrikaanse digter Daniel Hugo. Hy het ’n keur uit Komrij se poësie as Die elektries gelaaide hand in Afrikaans vertaal.

Louis Esterhuizen het op Versindaba oor Komrij geskryf en ‘n uittreksel uit sy Hugo Claus-gedenklesing geplaas waarin Komrij onder meer na Versindaba verwys het:

Pas is ek terug na wekelange afwesigheid in die buiteland, of dit is my hartseertaak om bekend te maak dat Gerrit Komrij gister, 5 Junie, oorlede is. Hy was 68-jaar oud. Volgens die kort berig op De Telegraaf se webtuiste is dit nog nie bekend waaraan hy oorlede is nie … Blykbaar sal die familie later vandag ‘n persverklaring uitreik: “Het is nog niet bekendgemaakt waaraan de schrijver is overleden. Volgens bronnen in de literaire wereld was Komrij al geruime tijd ziek. Hij overleed in het Onze Lieve Vrouwe Gasthuis (OLVG) in Amsterdam. De familie komt vrijdagochtend met een persbericht. “

Komrij was bekend as digter, skrywer, kritikus en polemis. Uiteraard ook as bloemleser; onder andere die omvattende bloemlesing oor die Afrikaanse digkuns, Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte, wat in 1999 by Uitgeverij Bert Bakker verskyn het. Van 2000 tot 2004 was hy die Dichter des Vaderlands en het as sulks tot en met sy dood ‘n besonderse invloed op die Nederlandse digkuns gehad. In sy veelbekroonde loopbaan is sy werk onder andere vereer met die P.C. Hooftprys, die Gouden Uyl en ook die Herman Gorterprys. Verlede jaar het die Universiteit van leiden ‘n eredoktersgraag aan hom toegeken.

Carina van der Walt het Komrij se lewe en werk op LitNet bespreek. Sy wys op die masker wat ‘n handelsmerk in al Komrij se literêre werk geword het en plaas sy gedig “Maskers”:

Gerrit Komrij (68j.) is volkome onverwags op 5 Julie oorlede. Sy biograaf, Onno Blom, was een van die min mense wat bewus was van ’n siek Komrij. In Afrikaans het Komrij vir kontroversie gesorg as samesteller van die bloemlesing De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten (1999). In die Nederlandse literêre wêreld was Komrij ’n duisendpoot, want hy was ook roman-, toneel- en rubriekskywer, verteller, vertaler en gevreesde kritikus. In 1993 het hy die P.C. Hooft-prijs gekry vir sy beskouende prosa, maar dit is die eretitel Dichter des Vaderlands (2000 – 2004) wat hom die naaste aan die hart gelê het.

Nog voor sy verkiesing as Vaderlandsdigter het Komrij hom geroepe gevoel om die Nederlandse groot drie (Reve, Hermans en Mulisch) op te volg. “En daarvoor moet ik me verenigen met de homoseksualiteit van de heer Reve, de scherpte van de pen van de heer Hermans en de ijdelheid van de heer Mulisch”, het Komrij op ’n keer skertsend gesê, aldus Arjen Fortuin in die NRC-Handelsblad (6 Julie). Iets wat Komrij egter van sy voorgangers onderskei het, was sy vermoë om ander skrywers en digters te bewonder en om hulle te ondersteun. In sy sosiale omgang was Komrij ’n liewe man, maar as skrywer en kritikus vlymskerp. Wanneer hy ’n slegte boek of gedig gekry het om te keur, het hy dit altyd as ’n persoonlike belediging beskou en dit ook dadelik te kenne gegee.

Van der Walt het ook op Versindaba oor Komrij geskryf en die lykdig geplaas wat die huidige “Dichter des Vaderlands”, Ramsey Nasr, vir Komrij geskryf het. Komrij was die eerste Vaderlandsdigter, van 2000 tot 2004.

Op 5 Julie het die grootse Nederlandse digter, Gerrit Komrij, onverwags aan kanker gesterf. In twee dokumentêre films op televisie en in talle koerant artikels die afgelope naweek het die huldeblyke binne gestroom. Sy literêre nalatenskap is diep en breed. Nie net was hy die eerste Dichter des Vaderlands (2000 – 2004) nie, maar het hy ook die P.C. Hoofd-prys gekry (1993), is ‘n eredoktorsgraad aan hom uitgereik deur die Universiteit van Leiden, rig hy die literêre tydskrif Awater op en het hy die voortou geneem met die Turing Nationale Gedichtenwedstryd. Ondanks al hierdie prestasies en erkenning, was Komrij egter die ewige buitestaander wat hom agt-en-twintig jaar gelede in Portugal gaan vestig het.

Saam met sy lewensmaat, Charles Hofman, het hulle in 1984 verhuis na Alvides in die noorde van Portugal. Uiteindelik het die kleinburgerlike uitsigloosheid van die plek hulle onder gekry en het hulle na Villa Pouca da Beira vertrek. Hierdie dorpie lê in ‘n uitloper van die Serra da Estrela en hiér het hulle saam gebly tot sy dood verlede week. In die dokumentêre film De gelukkige schizo uit 2005 (gemaak deur Jan Lauret en Onno Blom) vertel Komrij dat ‘n digter geen liefdessorge, geldelike sorge of daaglikse sorge moet hê nie. Net dán kan hy in die juiste stemming kom waarby hy ‘n gedig kan skryf. Maar ten spyte daarvan dat hy hierdie ideale omstandighede nagejaag het, was daar tog ‘n periode van twintig jaar in sy lewe waartydens hy nie ‘n enkele gedig geskryf het nie. “Blijkbaar is het dichterschap geen constante toestand”, het hy volgens Arjen Fortuin gesê (NRC-Handelsblad, 6 Julie).

Herman Toerien het op Maroela Media ‘n huldeblyk aan Nortjé, “die sonskynskrywer”, geskryf:

Lus vir net ‘n bietjie ontspan na ‘n dag van die gewone bedrukkende dinge? Geen probleem nie. Gaan haal net een van PH Nortjé se bundels sketsverhale uit die boekrak, sit agteroor, en verhuis na ‘n wêreld so eie aan die Afrikaner waar die son byna altyd skyn. Ontspan in ‘n wêreld van humor, maar waar humor nooit vervlak nie.

Maar nou is sy pen finaal stil na hy op 91-jarige ouderdom in ‘n aftree-oord in die Strand oorlede is. PH Nortjé sal veral as humorskrywer onthou word, maar sy oeuvre is baie, baie wyer. Die rou aardsheid van sy grootwordwêreld in die Baviaanskloof waar hy op 20 Oktober 1920 in sy ouers se hoofslaapkamer gebore is, tot jeugverhale, tot die sonskynboeke oor sy geliefde Wellington, wat om sy gesin, sy bure en oupa Grootbul van Bonnievale geweef is.

Nortjé se seun, Pierre-Henri, het ‘n deernisvolle kort briefie oor sy pa se heengaan op LitNet geplaas:

My pa, die Afrikaanse skrywer PH Nortje, is laasnag oorlede op die ou ouderdom van 91 jaar.

Maar dit bly my pla, die hele tyd, wat die verskil is tussen hom en enige ander pa.

Marina le Roux, wat met Nortjé en sy vrou Mikie bevriend was, het oor Nortjé se hartlike, spontane geaardheid en sy lewe op Wellington in Die Burger geskryf. “Die innigste vriendskappe, buurskappe, kinderkaskenades en rare dorpsgebeure, beeld Nortje op humoristiese wyse uit in sy ­gewilde Son-reeks,” sê sy:

Ek het vir P.H. (Henry) Nortje (91) en sy vrou, Mikie, op ’n vrééslike lekker plek ontmoet, op ’n dans op Wellington. En kon die man dans! Ligvoet, ligvoet, met só ’n ragtime swing, en ’n vaste hand wat sy maat met gemak kon stuur in alle windrigtings. En kon die man kitaar speel en nootvas sing! Al die nostalgiese golden oldies totdat al die gaste later saam harmonise: “Cheek to cheek”, “Have you ever been ­lonely?, Have you ever been blue?”, “Isle of Capri”…

Maar soos dikwels die geval is, ken jy die skrywer uit sy boeke lank voordat jy hom in lewende lywe ontmoet. Ek het toe reeds Pennie se vuur (1959) en Die groen ghoen (1963) as gewilde voor­leesboeke in die klaskamer en die ­biblioteek gebruik.

Boekbesonderhede

Foto’s te danke aan NB-uitgewers en Versindaba

 

Recent comments:

Please register or log in to comment


» View comments as a forum thread and add tags in BOOK Chat