Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

BooksLIVESA

PEN Afrikaans: Jong skrywers kan $1000 en ’n reis na Ysland wen met kortverhale http://t.co/VxFgEuXKWW

Breyten Breytenbach-fees: Essays deur Abraham de Vries, Francis Galloway en Charl-Pierre Naude

 
Die eerste Breyten Breytenbach-fees is van 13 tot 15 Julie op Montagu aangebied. Dié dorpie is deur die feesorganiseerder Darryl Earl David gekies omdat Breytenbach in die buurdorp Bonnievale gebore is en ‘n vakansiehuis in Montagu gehad het.

Die beginsel van stofDie ongedanste dansTrue Confessions of An Albino TerroristYsterkoei-bluesImagine Africa

Alhoewel daar nie veel berigte oor die gebeurtenis verskyn het nie, het Books LIVE op drie van die sprekers, Abraham H de Vries, Francis Galloway en Charl Pierre-Naudé, se essays oor Breytenbach afgekom. De Vries skryf oor die Klein-Karoo, Breytenbach se grootwordwêreld, Galloway bespreek die drie fases in Breytenbach se uitgeegeskiedenis en Naudé noem Breytenbach se poësie as ‘n voorbeeld van ritmiese innovasie in die Afrikaanse digkuns.

Notes from the Middle WorldOorblyfsel/Voice overDie windvangerA Veil of FootstepsBoklied

“‘n Klein-Karoo-kortverhaal vir Breyten” deur De Vries is ná die fees in Die Burger gepubliseer:

Die behoue huisKom ons maak die landkaart oop. In die binneland van die Suid-Kaap, tussen Barrydale en Ladi­smith, waar die Karoo­rantjies die Oukoppies heet, staan twee kennisgewingborde langs die pad. Die een vertel dis die einde van die Overberg, en die ander sê hier begin Eden. Dié kennisgewings is die soort grap waarmee koloniale regerings eeue lank al Afrika met kaart en liniaal verdeel het.

Die Klein-Karoo is natuurliker afgeperk met onsigbare grensdrade tussen gannabossie en oor berge. Die wesgrens aan die Kaapse kant is die Kogmanskloof by Montagu. ’n Mens ry die Klein-Karoo in deur ’n tonnel; bo-op staan ’n klipfort wat gebou is deur soldate wat die Slag van Magersfontein oorleef het. Van Montagu af oos loop die pad oor De Tradouw, tussen bewerkte aarde en wit plaashuise en vrugtetuine deur tot by James Barry se naamdorp, Barrydale.

Galloway het by die fees ‘n praatjie getiteld “In die stal én die wye wêreld in: Die tweede periode in Breyten Breytenbach se uitgeegeskiedenis” gelewer. Lees haar essay oor Breytenbach se publikasiegeskiedenis wat ná die fees op LitNet verskyn het:

My navorsing oor Breyten Breytenbach se uitgeegeskiedenis is gefundeer in die institusionele benadering tot die “kulturele veld”. Die kulturele veld is die ruimte van beskikbare posisies wat verskillende rolspelers gedurende hulle loopbane opbou en wat op mekaar inspeel. Literêre werke het hulle status, waarde en rangorde nie alleen aan die aktiwiteite van skrywers te danke nie, maak ook aan die kwaliteit en status van materiële produsente (byvoorbeeld die prestige van ’n uitgewery) en verspreiders (byvoorbeeld die elite-boekhandel teenoor die boekklub of supermark) asook simboliese rolspelers (byvoorbeeld die reputasie van kritici, prysbeoordelaars, mediakanale).

Die uitgewery word gewoonlik geassosieer met ’n hekwagtersrol, maar dit speel ’n veel omvattender rol in die loopbaan en reputasie-ontwikkeling van ’n skrywer wat basies in drie fases verdeel kan word: die leertyd-fase, die aanloop-tot-erkenning-fase en die fase van definitiewe erkenning.

Naudé het by die fees oor “‘Praatpoësie’ en die poëtiese tradisie in Afrikaans” gesels. ‘n Essay deur Naudé met dieselfde titel het voorheen op Versindaba verskyn:

In die geheim van die dagIn my vorige bloginskrywing impliseer ek dat ritmiese innovering van die versreël makliker en suksesvoller sal plaasvind as digters genoegsaam kennis neem van die tradisie en bewustelik daarop voortbou.

Helaas, om te bou op die tradisie beteken nie om die tradisie na te skryf nie. Wees gerus anders, wyk af, doen verskillend, maar maak net seker dat die voorafgaande tradisie weldeeglik verteer is, vir die eenvoudige rede dat dit jou taak as innoveerder gaan vergemaklik. Die Afrikaanse poësie het ’n sterk klassieke moderne tradisie vergelykbaar met die beste soortgelyke tradisies op ander plekke. Daar skuil vele leidrade vir die toekoms in. Dis sanerend om te onthou dat dit die tradisie is wat aan jou die digtaal gegee het waarin jy skryf. Tale verskil, en mens moet bewustelik omgaan met die partikulariteite van die taal waarin jy skryf. Die aflosstokkie waarmee jy hardloop, kom van iewers. Waarheen dit op pad is, is deels ingeskryf in daardie “iewers”.

Boekbesonderhede

Foto te danke aan Stellenbosch Writers

 

Please register or log in to comment