Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Die wenners van die UJ-pryse vir Skeppende Skryfwerk 2011/2012 is Dan Sleigh en SJ Naude

Wals met MatildaAlfabet van die voelsDit is pas bekendgemaak dat Dan Sleigh se roman Wals met Matilda met die Universiteit van Johannesburg-prys vir Beste Skeppende Skryfwerk 2011/2012 bekroon is en dat SJ Naudé se kortverhaalbundel Alfabet van die voëls die wenner van die UJ-prys vir die Beste Skeppende Debuutwerk is.

Vir albei skrywers is hierdie die tweede prys wat hulle vanjaar ontvang. Wals met Matilda is ook met die WA Hofmeyr-prys bekroon en Alfabet van die voëls met die Jan Rabie Rapport-prys.

Sleigh en Naudé het ‘n indrukwekkende kortlys vir die UJ-pryse uitgestof om met die louere weg te stap. Hulle sal die pryse op 11 Oktober 2012 tydens ’n glansgeleentheid by die Universiteit van Johannesburg in ontvangs neem. Veels geluk aan die wenners!

Persverklaring

Die UJ-Prys vir die beste skeppende skryfwerk in Afrikaans wat gedurende 2011 gepubliseer is, gaan aan Dan Sleigh se Wals met Matilda. [Sleigh was ook die wenner van dié prys vir sy roman Eilande in 2002.] Dit is die twaalfde jaar wat hierdie prys toegeken word. Vorige pryswenners is onder meer: Elsa Joubert (2009), Etienne van Heerden (2008), Breyten Breytenbach (2007), Ingrid Winterbach (2006), André P. Brink (2005) en Marlene van Niekerk (2010 en 2004). Antjie Krog was die eerste ontvanger van die prys in 2000.

Wals met Matilda (Tafelberg) is deur die keurpaneel van nege lede uit ’n kortlys van vyf werke as die wenner van die R65 000-prysgeld aangewys. Die ander werke op die kortlys was:

Net ’n lewe – Fransi Phillips
Onversadig – T.T. Cloete
Piekniek by Hangklip – Kerneels Breytenbach
Sirkusboere – Sonja Loots

Keurdersmenings oor Wals met Matilda:

“Dan Sleigh se metafiksionele Wals met Matilda bewerkstellig op tipies postmoderne wyse ’n verbeeldingryke konneksie met ’n stukkie populêre Australiese historiografie, ingebed in die dilemma/onsekerheid van hedendaagse skrywerskap/-blok en ongedurigheid oor taal/die Taal, en met genoeg van ’n onnutsigheid om die afloop van Japie se avontuur “Down Under” ter stigting voor te hou vir die nuwe avonturiers wat hulle heil, of uitkoms, deesdae in Australië gaan soek.”

Wals met Matilda getuig van ’n beleë vakmanskap. Die roman is ’n uitdagende leeservaring oor “die dood se dans met die lewe” (p. 396): die diepgang van die hoofkarakter se selfinsig en -kastyding, die oorheersende verlies en futiliteit waaronder Koos gebuk gaan en waarby die leser ingetrek word, en die komplekse maar hoopvervulde interaksie tussen Koos en Carelina vra om intense meelewing van die leser. Dit maak egter ook van die roman ryk en lonende leesstof. Soos Sleigh se vorige romans, beïndruk die uitgebreide en noukeurige navorsing in Wals met Matilda, onder meer oor die genealogie van die Van der Merwes, die landbou in Nieu-Suid-Wallis in die laat negentiende eeu en die bekende liedjie “Waltzing Mathilda”. Die roman lewer ook skerp kommentaar oor verskeie aktuele kwessies, byvoorbeeld die posisie van Afrikaans.”

Wals met Matilda is ’n roman oor ’n mislukte skryfprojek wat ook die tekens van mislukking in homself dra. Die suurheid en misantropie, die gevoel van gestrand-wees, die skerp siniese ingesteldheid teenoor die hede en die Afrikaanse letterkunde, is alles dinge wat lof verdien.”

Die UJ-Debuutprys van R25 000 gaan aan S.J. (Fanie) Naudé se Alfabet van die voëls (Umuzi) wat uit ’n kortlys van drie werke as die wenner aangewys is. [Dit is die vierde keer dat ’n kortverhaalbundel as wenner van dié prys aangewys word.] Die ander werke op die kortlys was:

Skool – Theo Kemp
Wanpraktyk – Andries Samuel

Keurdersmenings oor Alfabet van die voëls:

“Hierdie kortverhaalbundel is ’n ryp debuut wat suksesvol met die inskrywings vir die hoofprys sou kon meeding. Dit spreek uitdagings aan waarmee die moderne mens worstel, byvoorbeeld buitestaanderskap, vervreemding (veral wat die Afrikaner-diaspora betref) en terminale siekte, en situeer hierdie uitdagings in die konteks van ’n samelewing waarmee Afrikaanse lesers in die algemeen sou kon identifiseer. Die hoofkarakters is byna almal buitestaanders wat ’n komplekse ontwikkelingsproses gedurende die verhale deurgaan. Sommige verhale tree in gesprek met mekaar deurdat dieselfde karakters daarin optree en hul situasies telkens vanuit ’n ander hoek belig word. Alfabet van die voëls is ’n indrukwekkende debuut wat ’n daadwerklike bydrae tot die Afrikaanse letterkunde lewer.”

Alfabet van die voëls is ‘n versameling gekenmerk deur tegniese afronding en ‘n aansienlike taalvermoë. Elk van die verhale is sterk, maar hulle word nog sterker deur subtiele onderlinge verbande en terugkerende motiewe, veral die enigmatiese voëls. Tegniese beheersing en noukeurige konstruksies gaan hier gepaard met soms ekstreme ontreddering. In belangrike opsigte is dit ‘n boek oor die moderne Afrikaner wat met sy of haar eie lewe oorhoops is, met ‘n opvallende diasporiese inslag en ‘n onbehae met die tydgenootlike moment. Hier het ons beslis ‘n “nuwe stem”, iemand met ‘n sterk greep op sowel tegniek as die lewensbeskoulike aspekte wat deur die verhale heen kristalliseer.”

Die Pryse word op 11 Oktober 2012 tydens ’n glansgeleentheid by die Universiteit van Johannesburg aan die wenners oorhandig.

Einde

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment