Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

BooksLIVESA

Congratulations to Alex Smith (@africa_alex), whose Devilskein & Dearlove has been nominated for a Carnegie Medal! fb.me/3iD79TzOa

Liefde en oorlog: Malene Breytenbach se historiese roman, Eenoogkoning, by Koopmanskloof bekendgestel

Dawie van Velden, Malene Breytenbach en Karen Breytenbach

 
Die Duwisib kasteel in die middel van die Namib-woestyn en die geheimsinnige geskiedenis van die Duitser wat dit laat bou het, het gedien as inspirasie vir Malene Breytenbach se nuutste historiese roman, Eenoogkoning.

EenoogkoningBreytenbach het vir die eerste keer van hierdie kasteel gehoor toe haar vriend Dawie van Velden vir haar vertel het dat hy gedurende ’n besoek aan Namibië die 300km vanaf Luderitz aangepak het om dit te besigtig. Daarom is dit gepas dat Van Velden Saterdag met Breytenbach in gesprek getree het om Eenoogkoning se ontstaan by die boek se bekendstelling te bespreek.

Tydens die geselligheid by Koopmanskloof-wynkelders het Van Velden vir die gaste vertel dat ’n Duitse edelman die kasteel in die wildernis laat oprig het. In 1909 het hy dit saam met sy mooi jong Amerikaanse bruid ingewy. Die Duitser het in Suid-Wes Afrika teen die Hereros en Namas geveg en toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, moes hy ook daar gaan diens doen. Hy is in 1914 in die oorlog gedood, slegs vyf jaar nadat hy getroud is en sy bruid was op die ouderdom van 26 ’n weduwee. Vandag behoort die kasteel aan die toerismeraad van Namibië en kan dit besoek word. Dit is egter steeds baie moeilik om die kasteel te bereik.

Waarom sou ’n Duitse adellike met ’n vreemde vrou trou wat nie van dieselfde stand was nie en in die middel van nêrens gaan bly? Watter donker verlede het hy gehad om weg te steek? Hierdie vrae het Breytenbach aangespoor om haar eie fiksionele weergawe van die gebeure te skep.

Malene Breytenbach In haar verhaal is die jong bruid, Salomé, ‘n Kapenaar wat kort voor die Anglo-Boereoorlog tussen twee mans moet kies: ‘n Engelsman en die Duitser, Graaf Klaus von Mittelbach. “Soos met Breytenbach se ander boeke, bring sy die politiek by,” het Van Velden uitgewys. Die Afrikanermeisie se familie verkies die Duitser teenoor die “vyand” wat vir die Britte veg.

“Sy is so soortvan gedwing om met hom te trou,” verduidelik Breytenbach. “Hy is ‘n geweldige indrukwekkende, dominerende, kil soort mens en hy beïndruk almal.”

Die Duitser gaan veg teen die Hereros, waar hy die sig in sy een oog verloor. Dít is waar die titel van die boek vandaan kom, het Breytenbach verduidelik. “Hy is blind in sy een oog en hy is die koning van sy eie koninkrykie. Hy oorheers almal en hulle moet doen wat hy sê.”

Salomé word word deur die Graaf weggeneem na die kasteel in die Namib-woestyn waar dit duidelik word dat hy ’n vreeslike rokjagter is. Hy slaap onder andere by Salomé se kamermeisie, ’n bruin vrou wat sy saam met haar van die Kaap af gebring het. Die nageslag wat die Duitser by die kamermeisie verwek se verhale kom ook in die boek ter sprake.

Van Velden het daarop gewys dat daar baie romanse en baie oorloë in hierdie boek (en Breytenbach se ander boeke) voorkom. “Daar is niks wat ’n storie dra soos ’n oorlog nie,” het Breytenbach gelag. Sy het vertel dat sy dit geniet om navorsing vir haar historiese romans se doen. Sy hou daarvan om haar fiktiewe karakters in ’n werklike geskiedkundige en politieke situasie te plaas en ook regte historiese persone in die verhaal in te werk. “Ek skryf altyd eers te veel geskiedenis en dat moet ek later daarvan uithaal, maar dit is tog nodig vir die onderbou.”

Sy meen ook “die meeste mense stel maar in die liefde belang.” Haar boeke mag dalk in ’n historiese tyd afspeel, maar “mense is oor die eeue maar dieselfde. Hulle het dieselfde pyne, dieselfde liefdes, dieselfde telleurstellings, dieselfde hoop en alles”.

Adinda Vermaak het die bekendstelling afgesluit met ’n paar inleidingsinne tot witwarm liefdestonele uit Eenoogkoning om die gaste se nuuskierigheid verder te prikkel.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment