Books LIVE Community Sign up

Login to BooksLIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Books LIVE

BooksLIVESA

Do you know your sonnets from your epigrams? 10 terms you need to know to understand poetry, via @HuffPostBooks: fb.me/2PyVoTOL4

Hemelse Program vir Woordfees 2013 bekendgestel

 
Hoe om “iets hemels” te skep in ‘n wêreld van “stryd en spanning”, waar “plase brand en myne bloei” – dít is volgens prof Russel Botman, rektor van die Universiteit Stellenbosch, waarmee kunstenaars in Suid-Afrika dikwels worstel.

Botman, die beskermheer van die US Woordfees, het gisteraand by die bekendstelling van die 2013 feesprogram kommentaar gelewer op die gepastheid van vanjaar se feestema, “Hemels”, terwyl ons “wonder oor hoe hemels Suid-Afrika kan wees en wat gedoen moet word om dit te bereik”. Hy meen “werklike protes” kan deur kunstenaars gelewer word wanneer “die meeste ander sfere ons in die steek gelaat het”.

Russel Botman Dorothea van Zyl Japie GouwsBun Booyens Johan van Zyl

Gaste by die programbekendstelling, wat by Knorhoek-wynlandgoed se Towerbosch Aardkombuis aangebied is, het ‘n voorsmakie gekry van presies hoe wyd vanjaar se tema aangewend kan word toe die sprekers van die aand, Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV, Daniël Kriel, hoof-uitvoerende beampte van Sanlam se private beleggings, en Bun Booyens, redakteur van Die Burger, elk hul eie interpretasie van “hemels” in hul toesprake gegee het.

Dorothea van Zyl, Woordfeesdirekteur en gasvrou by die geleentheid, het genoem dat die tema geïnspireer is deur die feit dat ons almal die Majas se voorspelling van die einde van die wêreld oorleef het. Die hemel het toe nie geval nie, maar by die Woordfees 2013 sal hemel op aarde beleef word met al die wonderlike boekgesprekke, teaterstukke, musiekvertonings, kunsuitstallings en meer!

Die laaste jagtogHoogtyLiewe Heksie OmnibusDie reise van IsobelleThe Captain's TigerAn Ordinary CountrySheila Cussons: Versamelde gedigte

Books LIVE het vinnig deur die program geblaai en van ‘n paar hoogtepunte kennis geneem soos die profiele vir groot geeste Dot Serfontein, E Kotze, Verna Vels, Elsa Joubert en Athol Fugard, ‘n huldeblyk aan Neville Alexander wat verlede oorlede is en ‘n bespreking van Sheila Cussons se werk. Die Woordfees is bekend vir sy Nederlandse komponent en vanjaar gaan die romanskrywer Saskia de Coster en digter Arjen Duinker uit die lae lande aan die fees kom deelneem.

LabirintDie vrou in die vuurGetuieDie neusDie aanspraak van lewende wesensWerfsondeIn die niks al om

Voorts gaan vele skrywers oor hul boeke kom gesels, onder andere Chanette Paul (Labirint), Riana Scheepers (Die vrou in die vuur), Christine Barkhuizen le Roux (Getuie), Deborah Steinmair (Die neus), Ingrid Winterbach (Die aanspraak van lewende wesens), Kleinboer (Werfsonde), Rene Bohnen (In die niks al om), Carel van der Merwe (Skaduwee), Marius Crous (Vol draadwerk), Karin Brynard (Onse Vaders), Marita van der Vyver (Die blou van onthou), Myra Scheepers (Om die Nguni-vure), Chris Barnard (Die Wonderwerker) en Deon Opperman (Hartland).

Skaduwee Vol draadwerkOnse vadersDie blou van onthouOm die Nguni-vureDie wonderwerkerHartland

Etenstydgesprekke kan onder meer saam met Dirk en Reinet Nagtegaal (Loorita se griekse voorskoot), Deon Meyer (7 Dae) en Jan Braai (Vuurwerke) bygewoon word.

Loorita se Griekse voorskoot7 DaeVuurwerke

Die program sluit nog baie ander aanbiedinge in en feesgangers sal beslis stadig en deeglik daar deur moet werk. Ons het nog nie eens geraak aan die kuns-, musiek- en teaterproduksies nie.

Gisteraand, by die programbekendstelling, is daar ‘n voorsmakie van die musiekprogram gegee. Die kunstenaars wat by die geleentheid opgetree het, het ook die tema “Hemels” ontgin.

Die hiernamaals het ter sprake gekom in Marika Reinke en Pierre van Heerden se vertoning. Reinke het ‘n lied gesing wat deur Coenie de Villiers geskryf is ná Lucas Maree se afsterwe, terwyl Van Heerden Amanda Strydom se lied oor die ontslape Johannes Kerkorrel gesing het. Hulle is op die klavier begelei deur Lucas Heinen.

Op ‘n ligter noot het Karen Zoid en Henry Steele ‘n interpretasie van hemel op aarde aangebied met hul eie verwerking en samevoeging van die liedere “Heaven is a place on earth” en “Bringing Sexy Back”.

Kyk videos van die optredes:

YouTube Preview Image YouTube Preview Image

Persverklaring

Die veertiende Woordfees van die Universiteit Stellenbosch vind plaas van 1 tot 10 Maart 2013. Oor die feestema “hemels” sê prof. Dorothea van Zyl, feesdirekteur: “Die skrywers en kunstenaars is die sterre aan ons firmament – wat ons saam met ons lojale donateurs en ondersteuners wil ophemel en vir wie ons hemel en aarde sal versit.”

Die hoofdonateurs van die US Woordfees is die Universiteit van Stellenbosch, Die Burger, Sanlam (Musiekfees), ATKV en Die Dagbreek Trust. Volgens dr. Johan van Zyl, Sanlam se uitvoerende hoof, sien hy baie uit na dié fees der feeste: “Te oordeel aan die sukses wat die Woordfees die afgelope 13 jaar behaal het, vertrou mens dat die paar dae in Maart elke jaar ʼn stukkie hemel op aarde is. Sanlam ondersteun verskeie projekte en dit bly vir ons ʼn aangename ervaring om met die US Woordfees geassosieer te word.”

Skrywersfees

Mense wat lief is vir die letterkunde kan hul lippe aflek vir die room van Suid-Afrikaanse skrywers. Athol Fugard, wat al deur Time-tydskrif beskryf is as die wêreld se grootste lewende dramaturg, is ʼn spesiale Woordfees-gas. Fugard word vereer met ʼn profiel-aanbieding. Ander skrywers wat op dié wyse gehuldig word, is Elsa Joubert, Dot Serfontein, E. Kotze en Verna Vels.

Gunstelinge soos Marita van der Vyver, André P. Brink, Antjie Krog, Deon Meyer, P.G. du Plessis, Chris Barnard en Riana Scheepers is almal by Woordfees 2013, en nog vele meer. Arjen Duinker en Saskia de Coning bring besoek uit die Nederlande. Adam Small word gehuldig met ʼn bundel waarin 23 hedendaagse digters verse oor dié ikoon lewer.

Verskeie werkswinkels, gesprekke en boekbekendstellings maak deel van die program uit. Anton Goosen en Valiant Swart begelei liriekskrywers in Sanlam en LitNet se Sing ’it lirieke-werkswinkel.

Feesgangers kan skouers skuur tydens etes en wyntoere saam met bekende woordkunstenaars.

Die fees skop af met ʼn spesiale Woord-en-Wyn Paradys: ʼn heerlike kuierfees van kultivars, kos en klank tydens die eerste naweek.

Musiek

Die Sanlam musiekverhoog spog met die beste aan die Suid-Afrikaanse musiekfront. Die Woordfees en Sanlam sorg oudergewoonte vir verrassende kombinasies op die verhoog: Karen Zoid en Arno Carstens, Elvis Blue en Heinz Winckler, Jan Blohm en Jimmy Dludlu, Emo en Loukmaan Adams, Laurika Rauch en Wessel van Wyk en Koos Kombuis en Die Skynmaagde. Groot name soos Chris Chameleon, Stef Bos, Bobby van Jaarsveld, Theuns Jordaan, Coenie de Villiers, Jannie Moolman, Richard van der Westhuizen en Gert Vlok Nel sal feesvoete beslis laat jeuk.

ʼn Opwindende teenwoordigheid op die musiekprogram is die hoog aangeskrewe Larry Joe, wie se debuutalbum in die tronk op Douglas opgeneem is. Larry Joe Live waarborg om ʼn meesleurende ervaring te wees.

Die gewilde rapper Jack Parow, wie se ‘Hosh Tokolosh’ geskiedenis gemaak het toe dit die eerste Afrikaanse lied was in die nommer 1-posisie op die SA Top 40 Chart, tree ook op. Nederland se gewildste rap-groep, De Jeugd van Tegenwoordig, maak ʼn gasverskyning by Parow se optrede.

Fokofpolisiekar vier hul eerste 10 jaar in die bedryf met ʼn spesiale optrede by die Woordfees, terwyl Johannes Kerkorrel, wat ʼn dekade gelede selfmoord gepleeg het, vereer word met ʼn huldeblyk, Die hart is ʼn eensame jagter.

Die tweede volume van die FAK Sangbundel word bekendgestel met ʼn sterbelaaide konsert. Amanda Strydom, Jak de Priester, Les Javan, Anna Davel, Brandon October, Richard van der Westhuizen, Jannie du Toit en Viva Cantare kom vir dié geleentheid bymekaar op een verhoog en die legendariese Nico Carstens maak ʼn gasverskyning.

Rina Hugo en Zanne Stapelberg tree saam op in ʼn pragproduksie van die ATKV. Amen is ʼn aanbieding van liedere wat fokus op die woord gebed. Musiek uit verskillende genres (klassiek tot rock, musiekblyspele tot pop, opera tot gospel) is aangepas vir dié twee hemelstemme saam met ’n orkes en ʼn massakoor.

Amanda Strydom en die Libertaskoor se uitvoering van Misa Criolla en Navidad Nuestra gaan ʼn onvergeetlike ervaring wees.

Amazink Live by Amazink in die hartjie van Kayamandi, verskaf ʼn unieke fees-ervaring. Dié gewilde musiekproduksie vertel van die lief en leed van ʼn township-taverne.

Liefhebbers van klassieke musiek kan hulle verlustig in ʼn lys uitnemende aanbiedings. Die flambojante sopraan Zanne Stapelberg neem met die oog op ʼn CD ʼn reeks konserte regstreeks op saam met die US Simfonie-orkes. Mezzo-sopraan Minette du Toit-Pearce sluit by haar aan vir ʼn aantal duette.

In Die 14 Stasies van die Kruis beeld die orrelis Winand Grundling die laaste dae van Jesus op aarde uit. Dié produksie het in 2012 twee Kannas by die Absa KKNK verower. Die beroemde pianiste, Luis Magalhaes en Nina Schumann, tree vir die eerste keer tydens die Woordfees saam op in 2Pianists.

Hanneli Rupert, Albie van Schalkwyk en die Schola Cantorum is te sien in Die Afrikaanse Lied, terwyl van die land se voorste soprane – Goitsemang Lehobye, Janelle Visagie, Jo-Nette le Kay, Lynelle Kenned en Minette du Toit-Pearce – byeenkom vir Niël Rademan se Hemelse klanke: met die Suid-Afrikaanse soprane!

Drama

Die Woordfees se dramaprogram spog in 2013 met ʼn groot verskeidenheid uitstekende aanbiedings. Die immergewilde Sandra Prinsloo is te sien in Liefde, Anna, wat handel oor die gevierde teater-doyenne Anna Neethling-Pohl. Prinsloo skitter ook in haar nuwe eenvrouvertoning Oskar en die pienk tannie as beide die 10-jarige Oskar én die Pienk Tannie wat hom as vrywilliger in die hospitaal besoek. Sy hanteer ook die regie van Jeanne Goosen se Kopstukke, met Lizz Meiring en André Stoltz.

Antoinette Kellermann tree op in Die melktrein stop nie meer hier nie. Sy vertolk die rol van ʼn veelgetroude weduwee-miljoenêres wie se laaste dae opgehelder word deur ʼn aantreklike jong digter wat metgesel speel vir ryk ou vrouens kort voor hulle sterf.

Nog ʼn produksie wat groot byval sal vind, is Kytie – ʼn Koos Kombuis-storie, wat handel oor ’n seun wat effe anders was, se verhouding met sy gesin se huishulp. Teater-legendes Cobus Rossouw en Sandra Kotzé verskyn saam op die verhoog in Kind Hamlet, ʼn aangrypende stuk geregisseer deur Marthinus Basson.

André P. Brink se trefferroman Bidsprinkaan is vir die verhoog verwerk deur Saartjie Botha. Janice Honeyman hanteer die regie en Elton Landrew, Gys de Villies, Gideon Lombard en Lee-Ann van Rooi tree daarin op.

Die jong, opkomende regisseur en Fleur du Cap-wenner, Christiaan Olwagen, wat in 2012 groot opgang by die Woordfees gemaak het, is betrokke by produksies soos x + y, The F Word, Tjop en dop en Die lelike eend.

Johan en Lida Botha, besonder gewild weens die kykNET-reeks Oupa en Ouma, kielie die lagspiere met Oupa en Ouma op toer. Dowwe Dolla gaan mense laat skaterlag met Dowwe Dolla dink diep. Die land se gunsteling-blondine is dié keer op ʼn trip op die Costa Concordia. Die poppe begin dans wanneer Dolla ’n uitnodiging van die kaptein ontvang om te kom kuier.

Die Afrikaanse poësie word lewendig in Leserskring se verhoogproduksie Die 100 gewildste Afrikaanse gedigte. Stian Bam, Nicole Holm, Marlo Minnaar, Waldemar Schultz en Tinarie van Wyk Loots tree hierin op.

Waldemar Schultz maak ook sy verskyning as die bankrower André Stander in die produksie waarin Albert Maritz ʼn dekade gelede uitgeblink het. Maritz is dié keer regisseur van Stander. Lizz Meiring bring Vier briewe vir Jan Ellis, gegrond op Steve Hofmeyr se gewilde boek, na die verhoog. Tertius Kapp se veelbekroonde Rooiland maak ook ʼn Woordfees-draai.

Soos in die verlede, bied die Koowee Kinderfees by Oude Libertas en PJ Olivier Kunssentrum vrolike vermaak vir die jongspan. Sanlam se Takalani Sesame leer kleuters en peuters goeie waardes by die Kinderfees.

Gesprekke

Die US Woordfees is bekend as forum vir kritiese gesprekke. RSG saai daagliks weer Monitor, Spektrum en Praat saam uit vanaf die Plataankafee. Waldimar Pelser, adjunkredakteur van Rapport, het die Praat saam-gespreksreeks vir die Woordfees saamgestel. Dié gewilde reeks, wat altyd sorg vir ʼn volgepakte feeskern, word onder die vaandel van USB-Ed, Die Burger en RSG aangebied.

Maties se SR sorg vir ʼn reeks kritiese interaksie-gesprekke, terwyl oud-dosente van die US sake uitpraat in die Beste Professor-gespreksreeks. Martie Retief-Meiring en Alayne Reesberg is verantwoordelik vir die Saxenhof-gespreksreeks waarin prominente politici, sakelui en ander meningsvormers gesprek voer oor onderwerpe wat Suid-Afrikaners raak.

Kuns

Die Woordfees se feeskunstenaar vir 2013 is Wim Botha, bekend vir aangrypende beelde soos ʼn kruisigingstoneel gekerf uit Bybels, asook ʼn Piéta gemaak van mieliepap. Botha sorg tydens die fees vir ʼn enorme nuwe installasie-kunswerk in die Sasol Kunsmuseum.

Ander kunstenaars wie se werk tydens die fees te sien is, sluit in: Evette Weyers, Clare Menck, Louis Jansen van Vuuren, Stephen Hobbs en Elizabeth Gunter. Rondleidings deur kunstenaars kan meegemaak word, en kunsliefhebbers op soek na winskopies kan gerus die Stellenbosse galerye wat op die “Kunsroete” aangedui word, besoek.

Die Woordfees se WOW

Die Woordfees se Woorde Open Wêrelde (WOW)-leesbevorderingsprojek bied weer ʼn reeks opvoedkundige werkswinkels, praatjies en boekbekendstellings aan vir onderwysers en leerders van alle ouderdomme. Bekende skrywers en rolmodelle inspireer die jeug met optredes en motiveringspraatjies.

Die WOW Projek, wat in 2012 meer as 160 000 mense in skolegemeenskappe bereik het met ʼn verskeidenheid projek-aksies, se gewilde Karnaval op die Van der Stel-sportterrein het al ʼn instelling geword. In 2012 het meer as 17 000 mense dié geleentheid bygewoon. Daar is hope pret met stalletjies en mallemeulens. Op die Sanlam Musiekverhoog by die Karnaval sorg Emo Adams, Dr. Victor en die Rasta Rebels, The Rockets, Salome, Tururu en SON se Battle of the bands-wenners vir vermaak uit die boonste rakke.

Pendeldiens en spesiale pakkette

Weens die probleme met parkering op Stellenbosch maak die Woordfees in 2013 besoekers se lewens makliker met ʼn pendeldiens. Feesgangers word aangemoedig om veilig by Hoërskool Stellenbosch te parkeer en ʼn pendelbussie te neem na spesifieke Woordfees-bestemmings. Roetes en vertrektye verskyn in die middel van die programboekie agterop die kaart, asook by www.woordfees.co.za.

Mxit is die Woordfees se amptelike sosiale netwerk-vennoot. Feesgangers kan ʼn Mxit-toepassing op hul telefone aflaai deur m.mxit.com te besoek. Gaan dan na Tradepost> Entertainment> Festivals & Events> Woordfees, en siedaar! Nou het jy toegang tot die feesprogram, kompetisies en inligting met die druk van ʼn knoppie op jou telefoon!

Vir ʼn kontantvrye Woordfees-ervaring kan mense vanaf 26 Februarie ʼn armband koop waarop krediet gelaai is wat by sekere fees-venue’s geskandeer word in ruil vir drankies, versnaperinge en kaartjies vir vertonings. Hou die pers dop vir meer inligting.

Spesiale pakkette word ook vir feesgangers aangebied. Afslag word gebied op toegang tot vertonings, gebruik van die pendeldiens en verblyf in ʼn spoghotel of ʼn gastehuis. Skakel gerus die Woordfeeskantoor by 021-808 2901 vir inligting.

Die volledige program is vanaf 22 Januarie 2013 beskikbaar op www.woordfees.co.za en by www.litnet.co.za wanneer besprekings by Computicket open. Programboekies is beskikbaar by uitgesoekte boekwinkels en Computicket-takke, en ook by Stellenbosch Toerisme.

Ends

Boekbesonderhede

E-boek-opsies – Laai dit nou af!


E-boek-opsies – Laai dit nou af!


E-boek-opsies – Laai dit nou af!


  • Vuurwerke deur Jan Braai
    Boek se tuisblad
    EAN: 9780798155403
    Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
 

Please register or log in to comment