Nederlandse viering van Afrikaanse roman met Etienne van Heerden, Marita van der Vyver en kie
Die week van 19 tot 28 September 2014 staan vanjaar as Week van de Afrikaanse Roman bekend in beide Nederland en Vlaandere.
Die ontwisbare band tussen Afrikaans en Nederlands sal verder versterk word deur gesprekke tussen Etienne van Heerden, Irma Joubert, Sonja Loots, Kirby van der Merwe, Marita van der Vyver en ‘n verskeidenheid Nederlandse lettergieriges in verskeie plekke regoor die lae lande.
Hierdie viering van Afrikaanse skryfkuns, aangebied deur Afrinetwerk, is voorwaar ‘n pluimpie in die hoed van Suid-Afrikaanse letterkunde.
Persverklaring
Van 19 tot en met 28 September 2014 staan Nederland en Vlaandere in die teken van die Afrikaanse roman. Die Week van de Afrikaanse roman is ’n leesbevorderingsveldtog wat hernude aandag wil vestig op Afrikaanstalige romans wat in Nederlands vertaal is. Die doel van dié veldtog is om in Nederland en Vlaandere breë en duursame aandag te genereer vir die Afrikaanse roman.
Vyf Afrikaanse skrywers kom spesiaal voor die Week van de Afrikaanse roman na Nederland: Etienne van Heerden, Irma Joubert, Sonja Loots, Kirby van der Merwe en Marita van der Vyver. Dié skrywers sal tydens die Week op ’n groot aantal plekke in Nederland en Vlaandere aanwesig wees. Die veldtog bestaan uit verskillende aktiviteite: optredes in boekwinkels en biblioteke, ’n akademiese simposium, groot openings- en afsluitingsbyeenkomste, ’n vertalersdebat, ’n “Eat & Read” en ’n spesiale aand vir Suid-Afrikaners wat in Europa woon. Vir biblioteke is ’n volledige oorsig opgestel van Afrikaanse romans wat in Nederlandse vertaling verskyn het, en vir boekwinkels is ’n pamflet met kerntitels beskikbaar. Die aktiwiteite word ondersteun met ’n eie webtuiste, en ’n Facebook- en ’n Twitter-bladsy.
De Week van het Afrikaanse Roman werk saam met plaaslike organisasies. Die openingsbyeenkoms in Amsterdam staan onder die verantwoordelikheid van Spui25 en die slotbyeenkoms in Den Haag is in hande van Writers Unlimited. Ander vennote is die Universiteit van Leiden, die Rijksuniversiteit Groningen, die Spraakmakende Boekenfestival in Groningen, die Expertisecentrum Literair Vertalen en gerespekteerde boekwinkels op verrassende plekke soos Haarlem, Hoofddorp, Groningen en Sittard in Nederland en Mechelen, Roeselare en Temse in Vlaandere.
In September verskyn die Nederlandse vertaling van Klimtol, die nuutste roman van Etienne van Heerden, by die uitgewer Podium. Tydens die Week van de Afrikaanse roman word ook die boek De poort naar Afrika van die historikus Bart de Graaff en vertaalster Riet de Jong-Goossens bekend gestel, oor skrywers en storievertellers uit gemeenskappe waarvan nie altyd bekend is dat Afrikaans ook onder hulle gepraat word nie.
De Week van de Afrikaanse Roman is ’n inisiatief van werkgroep Afrinetwerk. Dit word gelei deur Bert Buiten (Stichting Dibana), Ingrid Glorie (hoofredakteur Maandblad Zuid-Afrika), Louis Krüger (skrywer), Ingrid Scholtz (Stichting Afrinetwerk), Leopold Scholtz (joernalis en historikus), Karen Vegt (SASNEV) en Corinne Vuijk (uitgewer Mozaïek). Vanuit Vlaandere word die projek ondersteun deur Frank Judo, voorsitter van de Vlaams-Zuid-Afrikaanse Cultuurstichting, en Ludo Helsen, oud-politikus.
Die logo van die Week van de Afrikaanse roman is ontwerp door die Suid-Afrikaanse kunstenaar en skrywer Nathan Trantraal.
Die projek word geborg deur:
Nederland: ANV, ZASM
Vlaandere: VZACS
Suid-Afrika: Afrikaanse Taalraad, Hiemstra Trust, Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, Van Ewijck Stigting
Nederland, Vlaanderen, Suriname: Nederlandse Taalunie
Meer inligting, soos die volledige program en biografieë van die deelnemende skrywers, is beskikbaar op ons webtuiste.
Boekbesonderhede
- Klimtol deur Etienne van Heerden
Boek se tuisblad
EAN: 9780624057796
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Tussen stasies deur Irma Joubert
Boek se tuisblad
EAN: 9780799364057
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- Sirkusboere deur Sonja Loots
Boek se tuisblad
EAN: 9780624053354
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
- ‘n Fontein voor ons deur deur Marita van der Vyver
Boek se tuisblad
EAN: 9780624064305
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
Please register or log in to comment