Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Marlene van Niekerk en Dominique Botha wen 2013/2014 Universiteit van Johannesburg-pryse

ValsrivierKaarDominique Botha en Marlene van Niekerk kan elk nóg ‘n prys by die groeiende lys bekronings vir hul mees onlangse werke voeg nadat die 2013/2014 Afrikaanse Universiteit van Johannesburg-pryse pas toegeken is.

Marlene van Niekerk se jongste digbundel, Kaar, wen vanjaar die UJ-prys vir Beste Skeppende Skryfwerk in Afrikaans, terwyl Dominique Botha se meesleurende roman, Valsriver, met die UJ-debuutprys bekroon is. Botha behaal boonop die besonderse ongeëwenaarde prestasie om vanjaar met twee UJ-pryse bekroon te word! Dit volg na die Engelse weergawe van dié roman verlede week met die gelykstaande prys vir Engelse werk bekroon is.

Vroeër vanjaar is Van Niekerk en Botha ook albei met Akademiepryse bekroon. Kaar het die Hertzogprys ontvang en Valsrivier het die Eugène Maraisprys ingepalm.

Vrydagaand het dié twee skrywers weer koning gekraai by die 2014 Media24 Boeke Literêre Toekennings. Van Niekerk is met die Elisabeth Eybers-prys vir digkuns in Engels of Afrikaans bekroon terwyl Botha met die gesogte Jan Rabie Rapport-prys weggestap het.

Verlede jaar het die UJ-prys vir Beste Skeppende Skryfwerk aan Inrid Winterbach se Die aanspraak van lewende wesens gegaan en die UJ-debuutprys aan André Krüger se eerste roman, Die twee lewens van Dieter Ondracek.

Persverklaring

Die UJ-pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van genres heen, toegeken. Die pryse is die UJ-debuutprys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans, met ’n prysgeld van R30 000 en die UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans, met ’n prysgeld van R75 000.

Die keurpaneel verteenwoordig lesers in Afrikaans betrokke by akademiese instellings en die media. Vir die 2013 UJ-pryse is 59 inskrywings ontvang waarvoor twee kortlyste bekend gemaak is.

Die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg maak hiermee graag die wenners van die 2013 UJ-pryse bekend en wens die twee skrywers van harte geluk.

Die wenner van die 2013 UJ-prys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans is Marlene van Niekerk met haar digbundel Kaar.

Van Niekerk se bundel is deur die keurpaneel aangeprys vir o.a. die vernuwende en grensverskuiwende aard daarvan – nie net ten opsigte van die ontginning en uitbuiting van taal nie, maar ook ten opsigte van die genre van die poësie. Die teks en die taal is uitdagend, opwindend en verruimend.

Die wenner van die 2013 UJ-debuutprys vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans is Dominique Botha met Valsrivier. Botha se vermoë om ’n Bildungsroman sonder sentimentaliteit te kon skryf, maar met deernis, humor en ironie, is veral beklemtoon. So ook die oorrompelende poëtiese kwaliteit van haar prosa.

Die keurpaneel is dit eens dat die kwaliteit van die inskrywings uitsonderlik was en dat al die titels wat op die kortlyste verskyn het, uitsonderlike boeke is en stewige kompetisie vir die wenners. Maar vir die Afrikaanse publikasie-oes van 2013 stap twee vroue met die louere van die UJ-pryse weg.

Einde

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment