Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Aardklop bied vanjaar weer hope vermaak vir boekwurms (7 – 11 Oktober)

 
Die Clover Aardklop kunstefees is al ‘n instelling in Suid-Afrika. Sedert 1998 stroom kunsliefhebbers van heinde en verre na Potchefstroom vir een van die land se grootste Afrikaanse kunsmakieties.

Die program sluit iets vir almal in, oud en jonk. Die deel waarna Books LIVE egter die meeste uitsien is die ATKV Boeke-oase, waar boekwurms bymekaar kom vir gratis boekgesprekke en geleenthede wat deur boeke geïnspireer is.

Vanjaar kan feesgangers verwag om onder meer die vogende skrywers in die oase raak te loop: Tom Lanoye, Ilse Salzwedel, Daniel Hugo, Simon Bruinders, Harry Kalmer, Kerneels Breytenbach, Chris Karsten, Danie Marais, Wilna Adriaanse, Marthie Maré, Tertius Kapp, Francois Smith en verskeie gunstelinge van die Kokkedoor-faam insluitend Errieda du Toit.

Marguerite Robinson het vroeër die jaar op Dagbreek gesels oor die algemene feesprogram. Kyk na die video te sien wat jy kan verwag:

YouTube Preview Image

2014 se feesleuse is, “Dis jou fees,” met Arrie, die fees se gelukbringer, wat jou nooi om jou avontuur daar te kom vind. Ons sien uit daarna om gehoor te gee en Aardklop te gaan eien!

Hier volg die volledige program vir die 2014 Aardklop ATKV Boeke-oase:

KamphoerInboekelingDie sideboardDie pad bysterSprakeloosKokkedoor 2 - VersamelresepteMakietieMoord op GriekwastadVan sprokie tot tragedie in die kollig’n Man van min belangLegkaart van jou gesigDie houtbeen van St SergiusSolank verlange die sweep swaaiValsrivierDubbelspelA History of South AfricaDonkerlandDie staat teen Anna BruwerOorseeKry my by die gewone plek aguurStippellyn

Dinsdag 7 Oktober

  • Teatergesprek 1: Poskantoor
    Met Jaco Bouwer (regisseur), Braam du Toit (komponis) en lede van die geselskap

    Clover Aardklop slaan ’n slag met die aanbieding van die eerste komiese Afrikaanse opera van die 21ste eeu. Dit speel af in ’n klein Karoo-dorpie en is in murg en been Suid-Afrikaans. Almiskie word opera beskou as ’n genre vir ’n uitgelese groep, maar Poskantoor sal beslis tot ’n wyer gehoor spreek.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    11:00

  • Die Griekwastad-seun, Oscar Pistorius… soos bekendes in ons huise
    Met Ilse Salzwedel, Charné Kemp en Kabous Meiring (gespreksleier)

    Op Goeie Vrydag in 2012 word ’n familie koelbloedig op Griekwastad vermoor. Op Valentynsdag 2013 skiet ’n sportheld sy meisie. Twee aangrypende verhale begin. Die hofsaak van die sportster is wêreldwye nuus en word regstreeks uitgesaai. By tye is dit selfs vermaaklik soos die aanklaer Gerrie Nel en die advokaat vir die verdediging, Barry Roux, swaarde kruis. Die Griekwastad-hofsaak, met die minderjarige beskuldigde wie se gesig nooit gewys kon word nie, is ’n gans ander saak met beriggewing oor die seun wat skaars enige emosie wys. Hoe het Suid-Afrikaners die jaar ervaar? Hoekom wil ons so baie weet en weet ons nou al meer? Kom luister hoe Kemp en Salzwedel die onderskeie boeke Moord op Griekwastad en Van sprokie tot tragedie in die kollig aangepak het.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    13:00

  • Wat verklap jou gesig van jou persoonlikheid?
    Met Marthie Maré

    Het jy geweet Helen Zille is hardkoppig? Jy knik instemmend en sê dat jy geweet het, maar nie voordat sy dit in die parlement gewys het nie. Maré sou lankal reeds die afleiding kon maak, want Helen het hoë wangbene. Oor Rian van Heerden sê sy: “Hy verwag die beste, volle samewerking en professionaliteit, niks halfhartig nie.” Kom vind uit wat fisionomie is en hoe dit gebeur het dat Maré een van Suid-Afrika se top-fisionome geword het. Wie weet… dalk vertel sy vir jou meer oor jou eie gesig.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis
    15:00

Woensdag 8 Oktober

  • Dubbelspel, Stippellyn en Vermis op Allesverloren
    Met Wilna Adriaanse, Erika Murray-Theron en Anchien Troskie

    Dié drie gewilde en ervare skrywers, wat elkeen vanjaar nuwe boeke op die rak het, gesels met mekaar oor hul boeke en die lewe van ’n skrywer. Adriaanse se Dubbelspel is haar eerste spanningsverhaal, wat beloof om net so gewild te wees as haar liefdesverhale. Theron skryf oor menswees en ontnugtering in Stippellyn, haar jongste roman ná Tapisserie met klein diere wat in 2008 verskyn het. Troskie het lesers laat regop sit met Dis ek, Anna (onder haar skuilnaam Elbie Lötter) – daarna verskyn Die staat teen Anna Bruwer en Nooit is ’n lang, lang tyd onder haar eie naam.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    10:30

  • Sprakeloos
    Met Tom Lanoye en Daniel Hugo

    Tom Lanoye is spesiaal in Suid-Afrika vir die debuut van die aanbieding van sy epiese drama Bloed & Rose: Die lied van Jeanne en Gilles (waarmee Hugo ook met die vertaling gehelp het) by Clover Aardklop. Hulle gesels oor vertaling in die algemeen, maar in die besonder oor Sprakeloos, Hugo se vertaling van Lanoye se outobiografiese roman, waarvoor Hugo vanjaar die Suid-Afrikaanse Akademieprys vir vertaalde werk gekry het.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    12:00

  • Teatergesprek 2: Die seemeeu
    Met Christiaan Olwagen (regisseur), Saartjie Botha (vertaler en verwerker) en lede van die geselskap (wat insluit Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Gerben Kamper, Alyzzander Fourie en Rolanda Marais)

    Botha se nuwe verwerking van een van die grootse tragikomiese dramas van Anton Tsjechof bewys hoe tydloos die temas is waarmee hy werk. Kom luister na hoe so ’n magistrale werk aangepak word en die belang daarvan om klassieke werke in Afrikaans op te voer.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    14:00

  • Die sideboard
    Met Simon Bruinders

    Dit is die jaar 1939 – ’n waterskeidingsjaar vir die Afrikaner. By George onder die Outeniquaberge kom ’n ongeletterde Abraham tot die besef van die belangrikheid van boekgelerentheid. Abraham droom van ’n familie met Stella, die jong onderwyseres… Simon Bruinders, bekende akteur van Broer Matie, Egoli en Swartwater, is nou ook skrywer. Hy gesels oor sy boek en sal ook daaruit voorlees.
    ATKV Boeke-oase – 45 min. – Gratis.
    15:30

  • Inboekeling
    Met Hans du Plessis en Kabous Meiring (gespreksleier)

    Skrywer, navorser, akademikus en taalman Hans du Plessis beloof om die leser opnuut mee te sleur met sy jongste historiese roman, Inboekeling. Wie was hierdie mense? Die “inboekelinge”? Dié boek delf in die geskiedenis van trekleiers wat kinders van veediewe weggevoer en as slawe grootgemaak het.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    17:30

Donderdag 9 Oktober

  • Teatergesprek 3: Dogma
    Met Christiaan Olwagen (skrywer en regisseur) en lede van die geselskap

    Dogma is bekroon met ’n Kanna vir beste debuutproduksie asook beste produksie tydens Absa KKNK 2014. Olwagen werk hier met stofgegewe van sy eie lewe – ’n verhaal oor grootword in ’n huis met Dylan en dogma. Wat is deel van werklike ervaringe en wat word “by gelieg”.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    11:00

  • Een teks, talle vorms: Hartland, Donkerland en Kruispad
    Met Saartjie Botha en Kerneels Breytenbach

    Ons is gewoond aan boeke wat draaiboeke word en mettertyd rolprente, maar draaiboeke en toneeltekste wat boeke word? Riana Barnard van Tafelberg het op ’n dag besluit as die televisiereeks Hartland so gewild is onder kykers, hoekom nie die storie in boekvorm vertel nie. Deon Opperman, wat die draaiboek saam met Saartjie Botha geskryf het, het nie oortuiging nodig gehad nie en vir Breytenbach was dit ’n lekker uitdaging. Dít was maar net die begin. Kom luister na die wisselwerking tussen hierdie twee interessante skrywers, noudat daar reeds drie televisiereekse was, waaronder Donkerland. Die derde boek in die trilogie, Kruispad, word eersdaags uitgegee.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    12:30

  • Kamphoer
    Met Francois Smith, Loftus Marais, Tertius Kapp en Fransjohan Pretorius

    Kamphoer is die ware verhaal van ’n vrou wat gedurende die Anglo-Boereoorlog wreedaardig verkrag en vir die aasvoëls gegooi is. Met die hulp van ’n reeks weldoeners ontsnap sy aan die kloue van die dood en wy uiteindelik haar lewe aan die genesing van presies die soort trauma waaraan sy onderworpe was. En in die proses kom sy weer haar verkragters teë… Dié sielkundige riller word allerweë deur resensente geloof.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    14:00

  • ’n Duisend stories oor Johannesburg
    Met Harry Kalmer en Loftus Marais (gespreksleier)

    Kalmer is ’n Johannesburger in murg en been en met dié stadsroman bring hy hulde aan die stad en sy mense – uitgewekenes, terugkerendes en dié wat nog altyd daar gebly het, hul wel en wee deur die twintigste eeu en die plekke waar Suid-Afrika hulle in hul lewens laat beland het. Soos wat die geval met ’n 1001 Arabiese nagte is, kan gedeeltes van ’n Duisend stories oor Johannesburg byna in enige volgorde gelees word!
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    15:30

  • Hardop
    Met Danie Marais, Loftus Marais, Melt Myburgh, Dominique Botha, Daniel Hugo en Tertius Kapp

    Daar word maklik gekla dat dit sleg gaan met die digkuns. Dié retoriek verloor gou trefkrag as jy by Hardop na gatskop-digters kom luister. Dié ouens se bundels verkoop goed en hul voorlesings is uiters gewild. Kom drink ’n glas wyn en luister hoe die digters met woorde toor – hardop.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    18:00

Vrydag 10 Oktober

  • Teatergesprek 4: Bloed en rose: Die lied van Jeanne en Gilles
    Met Marthinus Basson (regisseur) en die geselskap (Nicola Hanekom, André Roothman, Anna-Mart van der Merwe, Antoinette Kellermann, Dawid Minnaar, Wessel Pretorius en Stian Bam)

    Die vertaling van die epiese drama van die Belgiese skrywer Tom Lanoye debuteer vanjaar by Aardklop. Dit vertel die verhaal van Jeanne d’Arc en haar gevegsgenoot maarskalk Gilles de Rais. Wat het dié geskiedkundige figure uit die 15de eeu vir gehore in die 21ste eeu te sê?
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    11:00

  • Die wonder van die goddelike liefde
    Met prof. Chris van der Merwe en prof. Heilna du Plooy (gespreksleier)

    Ons kan die liefde dalk nie ten volle begryp nie, maar ons kan dit ook nie opsyskuif nie. Vir talle is die liefde die wese van God, die mees fundamentele dryfveer in die handelinge van God. En vir dié wat God wil leer ken, moet ons in sy liefde bly, soos dit in Jesus aan ons bekend gemaak is. In dié boek gee Van der Merwe aan die leser leidrade om die misterie van die goddelike liefde beter te kan verstaan.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    12:30

  • Die respektabele mnr. Hartslief
    Met Chris Karsten (boekbekendstelling)

    Wanneer ’n nagklubbaas die katelknaap van sy minnares laat vermoor deur ’n eksentrieke huurmoordenaar, loop hy hom vas in die vermoorde se familie, die Hartslief-clan van Brixton. Elie Hartslief is die brein; Antie Engel met haar sopkombuis en sesde sintuig die hart; neef Boela met die slaghuis die spiere; en die verfynde Moks met sy helderkleurige Mohawk-haarstyl en daggakoekies die bek. Elie is deesdae amper respektabel en mnr. Morkel van Morkel Wealth se regterhand, maar sy broer se moord noodsaak dat die Hartsliefs laer trek. Kom drink ’n glas wyn en luister na spanningsverhaalskrywer Chris Karsten, wat deesdae in Kanada woon.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    14:00

  • Die houtbeen van St. Sergius
    Met prof. Chris van der Merwe

    Dié wonderlike boek met die eienaardige titel is ’n bundel opstelle van prof. Chris van der Merwe oor die Suid-Afrikaanse letterkunde. Hy het begin skryf om die beperkinge wat die akademie op kommentaar plaas, teen te gaan en dus is die boek baie toegangklik. Van der Merwe wys die Groot Afrikaanse Roman van die 90’s uit, naamlik die drieluik van Karel Schoeman en op ’n vraag van Elmari Rautenbach oor wat dié roman sou wees uit die 2000’s is sy antwoord Agaat. Kom luister na die indrukwekkende skat van kennis oor letterkunde wat ons na aan die hart lê.
    ATKV Boeke-oase – 60 min. – Gratis.
    15:30

Saterdag 11 Oktober

  • Jannie Smuts: die staatsman, die vriend, die poësieliefhebber
    Met prof. Christof Heyns, adv. Willem Gravett, kol. Charles Comley en prof. Kobus du Pisani

    Moenie hierdie rare geleentheid misloop nie. Die kenners, kritici en aanhangers van J.C. Smuts is almal saam op een verhoog. Vir ’n uur-en-’n-half sal hulle die gehoor vasgenael hou met inligting oor dié interessante staatsman: een van Suid-Afrika se bekendste internasionale figure, wat ook ’n groot aanhanger was van die digter Walt Whitman.
    ATKV Boeke-oase – 90 min. – Gratis.
    10:00

  • Kokkedoor
    Met Errieda du Toit, Mynhardt Joubert, Tiaan Langenegger, Johnny Hamman en Tannie Poppie

    Al die kokkedore onder een dak. Kom gesels oor die proses om deel te neem aan Kokkedoor, maar veral oor kosmaak en die skryf van kookboeke. Kom vier die afsluiting van die Boeke-oase se program vir 2014 met wyn en resepte wat uitgeruil word. En wat sal die gesprek wees sonder Tannie Poppie? Sy is ook daar.
    ATKV Boeke-oase – 120 min. – Gratis.
    12:30

Boekbesonderhede

 

Recent comments:

  • <a href="https://twitter.com/helenayp" rel="nofollow">helenep</a>
    helenep
    September 12th, 2014 @08:23 #
     
    Top

    Persverklaring

    Die ATKV Boeke-oase se program by vanjaar se Clover Aardklop Nasionale

    Kunstefees in Potchefstroom is oudergewoonte propvol opwindende

    boekbekendstellings, boekgesprekke, teatergesprekke en voorlesings.

    Geleë in Hoffmanstraat (oorkant Die Bult) is dit ’n ware oase met Graffiti se reuse-
    boekwinkel, Jan se tweedehandse boeke, ’n lekker koffiewinkel en die lokaal waar

    alles plaasvind gerieflik bymekaar. Alle gesprekke/geleenthede wat by die Boeke-
    oase aangebied word, is gratis.

    Daar word vier teatergesprekke deur die loop van die week aangebied waar die

    geselskappe oor die produksies gesels en vrae beantwoord, onderskeidelik die

    komiese Afrikaanse opera Poskantoor (7 Okt. – 11:00); die nuwe vertaling en

    verwerking van Anton Tsjechof se Die seemeeu (8 Okt. – 14:00); die omstrede

    Dogma, wat verskeie pryse by die Absa KKNK gewen het (9 Okt. – 11:00); en die

    epiese, historiese drama Bloed & Rose: Die lied van Jeanne en Gilles (10 Okt. –

    11:00).

    In Die Griekwastad-seun, Oscar Pistorius... soos bekendes in ons huise gesels

    Charné Kemp en Ilse Salzwedel oor hul onderskeie boeke Moord op Griekwastad

    – Die storie van die Steenkamp-treurspel en Van sprokie tot tragedie in die kollig (7

    Okt. – 13:00); terwyl Marthie Maré in Wat verklap jou gesig van jou persoonlikheid?

    vertel wat presies fisionomie is. (7 Okt. – 15:00)

    Die gewilde en ervare skrywers Wilna Adriaanse, Erika Murray-Theron en Anchien

    Troskie gesels so saam-saam oor hul onderskeie boeke Dubbelspel, Stippellyn en

    Vermis op Allesverloren. (8 Okt. – 10:30)

    Feesgangers gaan die seldsame geleentheid hê om die Belgiese skrywer en

    dramaturg Tom Lanoye en Daniel Hugo vir die eerste keer ná die verskyning

    van Sprakeloos op dieselfde verhoog te hê. Hugo het vanjaar die Suid-
    Afrikaanse Akademieprys vir vertaalde werk gekry vir sy vertaling van Lanoye se

    outobiografiese roman. (8 Okt. – 12:00)

    Simon Bruinders, bekende akteur van onder meer Broer Matie, Egoli en Swartwater,

    is nou ook skrywer. Hy vertel van waar die storie van Die sideboard, wat in 1939

    afspeel, vandaan kom en lees ook daaruit voor. (8 Okt. – 15:30)

    Skrywer, navorser, akademikus en taalman Hans du Plessis beloof om die leser

    opnuut mee te sleur met sy jongste historiese roman, Inboekeling, wat delf in die

    geskiedenis van trekleiers wat kinders van veediewe weggevoer en as slawe

    grootgemaak het. (8 Okt. – 17:30)

    Een teks, talle vorms: Hartland, Donkerland en Kruispad met Kerneels Breytenbach

    is ’n gesprek oor die andersoortige en uitdagende pad wat geloop is om Deon

    Opperman se gewilde televisiereekse tot romans te verwerk. (9 Okt. – 12:30)

    Francois Smith se Kamphoer, die ware verhaal van ’n vrou wat gedurende die Anglo-
    Boereoorlog verkrag, vir dood agtergelaat is en jare later weer haar verkragters

    teëkom, maak opslae sedert dit uitgereik is. Tertius Kapp en Fransjohan Pretorius

    praat met Smith oor dié boek wat deur resensente geloof word. (9 Okt. – 14:00)

    Harry Kalmer is ’n Johannesburger in murg en been en met ’n Duisend stories

    oor Johannesburg bring hy hulde aan die stad en sy mense – uitgewekenes,

    terugkerendes en dié wat nog altyd daar gebly het, hul wel en wee deur die twintigste

    eeu en die plekke waar hulle in hul lewens beland het. (9 Okt. – 15:30)

    Die gewilde Hardop met vers en wyn is terug. Die digters wat van hul gedigte gaan

    voorlees, is Danie Marais, Melt Myburgh, Dominique Botha, Daniel Hugo en Tertius

    Kapp. (9 Okt. – 18:00)

    In Die wonder van die goddelike liefde gee prof. Chris van der Merwe aan die leser

    leidrade om die misterie van die goddelike liefde beter te kan verstaan. Prof. Hennie

    van Coller gesels met hom. (10 Okt. – 12:30)

    Die verhaal van die reeksmoordenaar Abel het uitgeloop en nou is Chris Karsten

    terug met ’n splinternuwe spanningsverhaal, Die respektabele meneer Hartslief.

    Karsten kom al die pad van Kanada af vir die bekendstelling van die boek. (10 Okt. –

    14:00)

    Loftus Marais gesels met prof. Chris van der Merwe oor Die houtbeen van St.

    Sergius, ’n bundel opstelle oor die Suid-Afrikaanse letterkunde. Diegene wat wonder

    watter boeke die titel van die Groot Afrikaanse Roman verdien, moet beslis aansluit.

    (10 Okt. – 15:30)

    Die week se boekprogram word afgesluit met Jannie Smuts: die staatsman, die

    vriend, die poësieliefhebber met prof. Christof Heyns, adv. Willem Gravett, kol.

    Charles Comley en prof. Kobus du Pisani. Met kenners, kritici en aanhangers saam

    op een verhoog beloof dié gesprek van ’n uur-en-’n-half om die gehoor vasgenael te

    hou. Verskeie boeke oor Smuts is te koop. (11 Okt. – 10:00)

    Die fees word van 7 tot 11 Oktober in Potchefstroom aangebied. Die program is

    beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen

    word deur Computicket.

    Einde

    Vir verdere navrae kontak Chrizanda Botha by chrizanda@aardklop.co.za of 084 831

    3142.

    Bottom

Please register or log in to comment


» View comments as a forum thread and add tags in BOOK Chat