Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

2015 UJ-pryse aangekondig: Grote aan Buys deur Willem Anker, debuutprys aan Nagmusiek deur Stephanus Muller

Willem Anker

 
Aandag! Willem Anker is pas aangewys as die wenner van die 2015 UJ-Prys vir sy grensroman, Buys, en Stephanus Muller wen die 2015 UJ-debuutprys vir Nagmusiek.

Buys – ’n GrensromanNagmusiek

 

Anker, wie se jongste roman die resultaat is van die Jan Rabie Marjorie Wallace-skryfbeurs wat hy in 2012 ontvang het, is al voorheen deur die Universiteit van Johannesburg bekroon vir sy debuutroman, Siegfried. Hy het hierdie prys in 2009 ontvang. Buys is die verhaal van Coenraad de Buys – die gevaarlikste man in die Kolonie. ‘n Droster. ‘n Legende.

Muller se nou bekroonde debuut is ‘n unieke bydrae tot die literêre kanon – deels Engels, deels Afrikaans en deels fiksie, deels biografie. Dit is ‘n akademiese werk oor die lewe van die Afrikaanse komponis Arnold van Wyk waarin die skrywer/biograaf se eie wese verstrengel raak met sy onderwerp. Dit stel ondersoek in na die komplekse verhouding tussen feit en fiksie.

Marlene van Niekerk en Dominique Botha is verlede jaar met hierdie twee onderskeie pryse bekroon.

Lees die mediaverklaring, uitgereik deur Dr Karen de Wet, voorsitter van die keurpaneel, om te sien watter ander boeke op die twee kortlyste verskyn het:

 

* * * * * * * *

 

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van genres heen, toegeken. Die pryse is die UJ-debuutprys vir die beste kreatiewe debuut in Afrikaans (met ’n prysgeld van R30 000) en die UJ-prys vir die beste kreatiewe teks in Afrikaans (met ’n prysgeld van R75 000).

Titels wat in aanmerking vir die UJ-pryse kom is Afrikaanse kreatiewe tekste gepubliseer in die voorafgaande kalenderjaar. Vir die 2015 UJ-pryse is altesaam 56 titels is ingeskryf, waaronder 18 debute.

Die keurpaneel verteenwoordig lesers in Afrikaans betrokke by akademiese instellings en die media.*

Dit is ’n groot voorreg en ’n groter plesier vir die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Johannesburg om hiermee graag die wenners van die 2015 UJ-pryse bekend te maak. Uiteraard ons gelukwense van harte en met groot erkenning en dank aan die twee skrywers wat bekroon word, maar ook so aan die skrywers wie se werk uitgesonder is deur die kortlyste.

Onder die debutante is die volgende titels deur die beoordelaars uitgesonder (alfabeties volgens outeur):

Draalnoot vir ’n janfiskaalNagmusiekKamphoer

 
Draalnoot vir ’n janfiskaal – Henry Jack Cloete
Nagmusiek – Stephanus Muller
Kamphoer – Francois Smit

Stephanus Muller se magistrale werk Nagmusiek waarin die grense van oa biografie, biografiese fiksie en metafiksie in Afrikaans verken en verskuif word, word met die 2015 UJ-debuutprys bekroon.

Die titels wat opgeneem is in die kortlys vir die UJ-prys, is (alfabeties volgens outeur):

Buys – ’n GrensromanEster’n Duisend stories oor JohannesburgOorseeMede-wete

 
Buys – Willem Anker
Ester – Kerneels Breytenbach
’n Duisend stories oor Johannesburg – Harry Kalmer
Oorsee – Tertius Kapp
Mede-wete – Antjie Krog

Die wenner van die 2015 UJ-prys is Willem Anker (tevore ’n wenner van die UJ-debuutprys) met sy eweneens grens verskuiwende en histories ge-ankerde “grensroman” oor die lewensgrootte en ook alomteenwoordige, alwetende, alles oorheersende Buys.

Die funksie vir die oorhandiging van die pryse vind plaas op 9 Mei 2015 in Johannesburg plaas.

* Vir 2015 was die paneel van nege beoordelaars:

prof Marné Pienaar (UJ)
prof Thys Human (NWU)
prof Ronél Johl (UJ)
dr Karin Catell (US)
dr Karen de Wet (UJ)
mnr Frederick Botha (UJ)
me Ihette Jacobs (UVS)
me Ilse Salzwedel (RSG / Skrywers en boeke)
mnr Jo Prins (Media24)

 

* * * * * * * *

 

Al die bogenoemde boeke, met die uitsondering van Nagmusiek, is deur NB-Uitgewers gepubliseer.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment