Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

2015 UJ-pryse: “Soms is die waarheid oor ’n lewe meer storie as feit”

Stephanus Muller en Willem Anker

 
Buys – ’n GrensromanNagmusiekSoms is die waarheid oor ’n lewe meer storie as feit

deur Frederick J Botha

Die UJ-pryse vir Skeppende Skryfwerk in Afrikaans is vanjaar vir die 15de keer toegeken. Uit ʼn totaal van 55 inskrywings is Willem Anker se grensverskuiwende Buys: ʼn Grensroman as wenner van die UJ-prys aangewys, met Stephanus Muller se magistrale Nagmusiek wat met die UJ-debuutprys bekroon is.

Die oorhandigingsfunksie het op Saterdag 9 Mei in die Raadsaal van die Universiteit van Johannesburg se Kingswaykampus plaasgevind – een van die Departement Afrikaans se spoggeleenthede waartydens die publiek uitgenooi word om na die pryswenners se formele antwoord op die prys te kom luister.

Stephanus MullerProf. Ronél Johl (Vise-dekaan, Fakulteit Geesteswetenskappe) het die commendatio vir Stephanus Muller se Nagmusiek gelewer, ʼn teks oor die lewe en werk van die Suid-Afrikaanse komponis, Arnold van Wyk, waarin die grense van biografiese fiksie verskuif word. Johl het uitgewys dat hierdie lywige werk van 916 bladsye in drie volumes, die resultaat van dertien jaar se navorsing, deur musiekjoernaliste betempel word as die mees omvattende biografie nóg van enige Suid-Afrikaanse komponis, maar terselfdertyd is dit ook volledig roman, met ʼn volle arsenaal literêre middele om sy doel te bereik. Sy het die keurpaneel se mening soos volg opgesom: “Dit is ʼn groot werk: groot, in opset, omvang en reikwydte; in lieflike obsessie: die obsessiewe aandag aan detail en die strewe na meerkantigheid, volledigheid; in die proses van worsteling met die geykte maniere van akademiese doen, en die sukses waarmee die beperkinge oorkom is. Groot die uiteindelike resultaat: ʼn hibriede-teks wat tegelyk ʼn geslaagde biografie en selfbeskouende fiksie/ ‘outobiografie’ en vernuwende musiekkunde is (in Afrikaans, nogal), ʼn boek wat ʼn uiteenlopende leserspubliek op verskeie maniere uitdaag.”

As antwoord het Muller die anekdote vertel van sy oudste seun wat vir sy sestiende verjaarsdag ʼn tweedehandse Italiaanse motorfiets wou hê. Die Cagiva Mito waarop hy besluit het, is deur een van Muller se vriende as ʼn “crotch rocket” beskryf. Muller het sy seun gewaarsku dat indien hy ʼn tweedehandse Italiaanse fiets koop, hy hom moet regmaak om nie dikwels te kan ry nie, waarop sy seun geantwoord het: “Pappa, ek het eerder ʼn pragtige fiets wat nie ry nie, as om gesien te word op ʼn lelike fiets wat ry.”

Muller het skertsend verduidelik dat soos sy seun se motorfiets is Nagmusiek ʼn pragtige objek wat deur die UJ-prys se keurpaneel aangewys is as die debuut “crotch rocket” van 2014. Hy het die anekdote verder gekoppel aan sy dankbetuiging teenoor sy uitgewers, Fourthwall Books, wat bereid was om ʼn kans te waag op sy projek en vorentoe te kyk “na ʼn tyd waarin die Afrikaanse boek nie ʼn problematiese deelnemer is aan ʼn anti-intellektuele, esteties onverskillige besigheidsmodel vir eenvormige verbruikers nie, maar waarin die Afrikaanse boek spesifiek weens die karakter van die taal en sy historiese en kontemporêre posisie ʼn intellektuele en estetiese modaliteit het wat sin maak van nuwe soorte vorms en boeke as vorms.”

Willem AnkerDie commendatio vir Willem Anker se Buys: ʼn Grensroman, ʼn tipe historiese roman oor die legendariese trekboer, Coenraad de Buys, is deur Frederick J Botha (Lektor, Departement Afrikaans) gelewer. Botha het genoem dat Anker, wie in 2008 die UJ-debuutprys vir Siegfried ontvang het, se bekroning vanjaar met die UJ-prys ʼn mylpaal in die geskiedenis van hierdie literêreprys verteenwoordig, aangesien dit die eerste keer is dat ʼn skrywer wat voorheen met die UJ-debuutprys bekroon is ook later die hoofprys ontvang. “Indrukwekkend, veral as daar in ag geneem word dat Buys die prosateks is waarmee Anker sy debuutroman opvolg,” het Botha gesê. Anker is deur Botha bestempel as een van die opwindendste en belangrikste nuwe prosaïste wat die afgelope dekade op die Afrikaanse literêretoneel verskyn het, ʼn skrywerstem wat indien daar na die literêre gehalte van Siegfried en Buys gekyk word, spoedig ʼn sentrale en belangrike rol binne die Afrikaanse literêre kanon gaan inneem. Volgens Botha het Anker met Buys nie net ʼn baie hoë standaard vir sy eie toekomstige prosawerk gestel nie, maar het hy ook ʼn uitdaging gestel vir skrywers wat op die terrein van die historiese roman wil beweeg.

“Om vanaand hierdie prys te ontvang vir my tweede roman, nóg ’n boek oor ’n opgeneukte man wat verdwaal in Suid-Afrika, is ʼn groot eer, verrassing, bevestiging en aanmoediging. Dit maak my byna lus om eendag weer iets so pervers soos ʼn roman aan te pak,” het Anker op Botha se commendatio geantwoord. Anker het die gehoor meegedeel oor die skryftyd van die roman en die vreemde paaie waarop die navorsing en beplanning van die roman hom geneem het. Anker het byvoorbeeld vir meer as drie weke gesoek na ʼn leenplaas waarop Buys sou bly, net sodat hy die plek korrek kon beskryf. Nadat Anker uiteindelik die ligging in George se museum opgespoor het, die plaas besoek en tientalle foto’s geneem het, is al wat uiteindelik in die boek staan: die swart grond, die vaal bossies, die skielike ooptes. “Dit was alles die moeite werd,” het Anker gesê.

“My werksreël was dat ek hou by die feite, waar hul te vinde is, maar soms is die waarheid oor ʼn lewe meer storie as feit,” het Anker vertel oor die verpersoonliking van hierdie brutale historiese figuur. Anker het ʼn uiters komiese vertelling gelewer oor die uitdagende en omvangryke ontstaan van ʼn toneel van bietjie meer as 9 bladsye in die roman, spesifiek om ʼn oplossing te vind vir sy wens om Buys buskruit te laat brou. “Die resep vir romanskryf blyk ooreenkomste te hê met dié vir agterplaas-buskruit,” het Anker gesê. “Al twee benodig konkoksies van uiteenlopende materiale. Op hul beste gee albei ʼn mooi knal en vonk van ontlading af. Mens moet maar net hoop dat albei góéd droog is. En reg gemeng is. Sodat dit sal vuur waar en wanneer dit moet. En nie in jou gesig sal opblaas nie.”

Die voorsitter van die keurpaneel, dr. Karen de Wet, het die prysgeld van R75 000 namens die Universiteit van Johannesburg aan Willem Anker oorhandig, asook die prysgeld van R30 000 aan Stephanus Muller.

UJ-pryse

 

UJ-pryse

 

Frederick J Botha doseer Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Johannesburg en was deel van die keurpaneel vir die 2015 UJ-pryse. Hy was ook die wenner van die 2014 Nuwe Stories 3-kompetisie.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment