Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Die Seemeeu tref Kaapstad – Klassieke Tsjechof in Afrikaans by die Baxter

Die Seemeeu

 
Saartjie Botha se meesterlike vertaling en verwerking van Anton Tsjechof se bekende klassieke toneelstuk The Sea Gull sal binnekort in Kaapstad geniet kan word.

The Sea GullMet ‘n rolverdeling soos min, uitsonderlike regie deur Christiaan Olwagen en ‘n ongelooflike stel, beloof hierdie produksie ‘n onvergeetlike teater-ervaring.

Die Seemeeu is vanaf 20 tot 31 Oktober om 19:30 by die Baxter-teater te sien. Die looptyd van 125 minute sluit ’n 20 minute pouse in. Die ouderdomsbeperking is 14 jaar en Engelse onderskrifte word voorsien, dus kan jy jou anderstalige vriende saambring.

Kaartjies vir Die Seemeeu beloop R80 – R150 en is te koop by Computicket of by die Baxter se kaartjieskantoor by 021 685 7880. Gewone afslagtariewe geld vir Vriende van die Baxter, blokbeprekings vir 10 of meer, asook pensioenarisse. Studente betaal R60 (Dinsdag – Donderdag) met bewys van ’n geldige studentekaart.

Die toneelstuk het reeds by die Woordfees, KKNK en Aardklop gewys en verskeie toekennings ingepalm. Een feesganger by die Woordfees-vertoning het dit beskryf as “‘n Wes Anderson-ervaring in Afrikaans” – dít wil gedoen wees!

Moet dit nie misloop nie!

Besonderhede

  • Datums: Daagliks vanaf 20 tot 31 Oktober 2015
  • Tye: Maandag tot Sondag om 19:30, Saterdag ook om 15:00
  • Plek: Baxter-teater
    Hoofweg
    Rondebosch
    Kaapstad | Padkaart
  • Regisseur en ontwerp: Christiaan Olwagen
  • Vertaling en verwerking na Afrikaans: Saartjie Botha
  • Rolverdeling: Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Gerben Kamper, Alyzzander Fourie, Deon Lotz, Rolanda Marais, Martelize Kolver, Albert Pretorius, Geon Nel en Cintaine Schutte
  • Produksiespan: Birrie le Roux (Kostuums); Wolf Britz (Beligtingsontwerp); Charl-Johan Lingenfelder (Klankbaan)
  • Koste: R80 – R150
  • RSVP: Aanlyn by Computicket, of by Baxter-kantoor – 021 685 7880

Persverklaring

Met ’n rolverdeling om een van die eerste ware moderne teaterstukke gestand te doen, bied Saartjie Botha met trots die Afrikaanse vertaling van Anton Tsjechof se drama Die Seemeeu aan. Dié klassieke verhaal van onbeantwoorde liefde, soeke na sukses, aftakeling en vervulling het vol sale Aardklop, die KKNK en Woordfees op hul voete gehad. Nou is dit die beurt van Kaapse gehore om die stuk – wenner van twee Fiëstas en twee Kannas asook ’n Aardvark-toekenning vir grensverskuiwende werk – van 20 tot 31 Oktober in 3D, volkleur en kringklank!

Irina Arkadina (Sandra Prinsloo) is ’n suksesvolle aktrise wat weet haar geluk – en lyf – gaan nie vir ewig hou nie, breek weg vir ’n kort vakansie op haar broer, Pjotr Sorin (Marius Weyers), se plaas. Aan haar sy is die skrywer Boris Trigorin (Alyzzander Fourie), ’n forse man … met ’n wandelende oog. En dan is daar Irina se seun, Konstantin Treplyov (Albert Pretorius), wat smag na ’n meisie wat hom nie wil hê nie en roem wat hom nie beskore is nie. En jy’t gedink jóú familie is disfunksioneel?!

Voeg hierby ’n fladderende nimf (Rolanda Marais), ’n plaasbestuurder (Deon Lotz) sonder ’n grein emosionele intelligensie (wel, as Martelize Kolver jóú vrou was, sou jy dalk ook so optree), ’n buierige tienerdogter (Cintaine Schutte) wat enige ouer na die bottel sal laat gryp, en jy begin die prentjie kry. O ja, moenie van die orige onderwyser (Geon Nel) en die erg onbeholpe dokter (Gerben Kamper) vergeet nie. En die vodka. Og, die vodka!

Die Seemeeu is die eerste van Tsjechof se vier, groot dramas – en so amper ook sy laaste. Met die openingsaand in 1896 is dit só sleg ontvang, dat hy sy rug op die teater gekeer het. Totdat dit in 1898 weer op die planke gebring is – hierdie slag met groot lof en Tsjechof se ster as dramaturg helder.
Lanklaas was só ’n span gerekende akteurs saam op ’n enkele verhoog in Suid-Afrikaanse teater. Sandra Prinsloo en Marius Weyers het pas Kaapse gehore op hul voete gehad met hul meesterlike spel in Wie’s bang vir Virginia Woolf? Albert Pretorius en Rolanda Marais het elk ’n Fiësta-toekenning gekry as beste akteur (manlik en vroulik), ondermeer vir hul spel in Die Seemeeu. Ná die KKNK word Cintaine Schutte en Deon Lotz elk met ’n Kanna vereer vir hul besondere spel en by Aardklop wen regisseur Christiaan Olwagen die Beeld-Aardvark vir grensverskuiwende werk vir sy regie van Die Seemeeu.

Maar die werklike prys gaan aan die talent van ‘n skrywer soos Anton Tsjechof, wat bekende, menslike emosies soos verlange, versugting, hoop, en doodloopstrate só tydloos kon verwoord. Met Charl-Johan Lingenvelder se baie slim klankbaan en kostuums wat elke karakter net soveel meer tot hul reg bring, word Die Seemeeu ’n drama vir 2015, Kaapstad, en spreek dit kwessies aan waarvan ons elke dag in die dagblaaie lees.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment