Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

“Genoeg geflankeer. Haak af met Afrikaans en borg ’n woord!” – Deon Meyer aangewys as beskermheer van die WAT

Deon Meyer

 
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) het onlangs die bekroonde spanningverhaalskrywer Deon Meyer aangewys as die nuwe beskermheer van die Borg ’n Woord-projek.

Meyer se uitdaging aan alle taalliefhebbers is maklik om te verstaan: “Genoeg geflankeer. Haak af met Afrikaans en borg ‘n woord!”

As beskermheer van die Borg ’n Woord-projek is Meyer die eksklusiewe eienaar van die woord “spanning”, wat hy teen R5 000 geborg het.

Ander bekende skrywers wat die projek ondersteun is Marita van der Vyver en die wyle Proff TT Cloete wat die woorde “kardoes” en “tiekie” onderskeidelik geborg het.

Hoe om deel te neem

Vir slegs R100 kan jy enige Afrikaanse woord borg, of teen R5 000 kan jy die woord eksklusief aan jou laat behoort.

Twee deelnemers kan ook ‘n kans staan om R25 000 elk te wen in ‘n prystrekking geborg deur Sanlam. Die projek eindig op Donderdag, 24 Maart 2016 en die gelukkige prystrekking sal plaavind op Saterdag, 9 April 2016.

Vandag is dan ook Internasionale Woordeboekdag, en ons kan nie aan ‘n beter tyd dink om ‘n woord te borg nie! Met oor ‘n driekwart miljoen Afrikaanse woorde om van te kies, is ons seker dat jy die regte een sal vind.

Besoek die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se webtuiste vandag om deel te neem aan hierdie wonderlike projek. Volg die WAT ook op Facebook vir meer besonderhede.

 

Die ballade van Robbie de Wee en ander verhaleInfantaIkarusOnsigbaarProteusKobra

 

Persverklaring

Deon Meyer, bekroonde en baie bekende Afrikaanse spanningsverhaalskrywer, is die nuwe beskermheer van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se Borg ’n Woord-projek. Hierdie projek maak Afrikaanssprekendes weer eens bewus van die mooiheid van Afrikaans. Mense dink na oor woorde wat vir hulle besondere betekenis het en dan borg hulle daardie woorde. Deon spoor almal aan om deel te neem met hierdie woorde: “Genoeg geflankeer. Haak af met Afrikaans en borg ʼn woord!”

Deelnemers kan enige Afrikaanse woord borg vir R100 en elke deelnemer ontvang ook ‘n sertifikaat van die WAT met sy naam en die woord of woorde wat hy geborg het. Borgskappe van R5 000 per woord is eksklusief en niemand anders mag daardie woorde borg nie. Teen R100 kan meer as een persoon dieselfde woord borg, maar elkeen kry ‘n sertifikaat met sy naam daarby. Die WAT word 90 jaar oud in 2016 en vier dit onder andere met ‘n Borg ‘n Woord-bonusjaar. Twee deelnemers kan elkeen ‘n Sanlamprys van R25 000 wen. Elkeen wat ‘n woord borg, kry vir ses maande gratis toegang tot die aanlyn WAT en indien jy ‘n woord eksklusief borg vir R5 000 kry jy vyf jaar gratis toegang.

Borg ’n Woord is een van die WAT se lewensare aangesien die staatsubsidie vanaf 2004 drasties ingekort is. Tans verkry die WAT bykans 70 persent van sy jaarlikse inkomste uit donasies en projekte soos Borg ʼn Woord. Die jaarlikse begroting is R5 miljoen terwyl die staatsubsidie R1,6 miljoen bedra.

As omvattende verklarende woordeboek is dit die WAT se taak om die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang vas te vang. Indien die WAT nie voltooi word nie, sal die Afrikaanse woordeskat nooit volledig opgeteken word nie. Dis egter ook vir die ander amptelike tale belangrik dat die WAT produktief en dinamies bly: Rondom 2001 is daar ʼn woordeboekeenheid vir elkeen van die amptelike tale gevestig en die WAT het in samewerking met die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad leksikograwe vir daardie eenhede opgelei. Hierdie opleiding gaan voort en leksikograwe uit ander Afrikalande soos Angola, Gaboen, Malawi, Namibië en Zimbabwe ontvang ook opleiding by die WAT.

Deon het as beskermheer van Borg ’n Woord reeds die voorbeeld gestel en die woord spanning eksklusief geborg vir R5 000.

Mense borg graag die naam van hulle beroep, soos rekenmeester, wynmaker, argitek, padmaker, prokureur, siviele ingenieur, advokaat, ensovoorts eksklusief. Hulle borg ook woorde as verjaardag- of kersgeskenke vir geliefdes of vriende. Die woorde beskryf dan gewoonlik ʼn eienskap van daardie persoon soos liefdevol of vasberade, of dit is woorde wat daardie persoon graag gebruik of soms is dit ʼn troetelwoord wat die geliefde teenoor daardie persoon gebruik.

Mense vra dikwels watter bekende persone woorde geborg het:

Koos Bekker borg skon vir sy ma en plaasboer, douvoordag en noustrop vir sy pa, Cor. Sy ma, Delene, borg kwaggakaiing (koeksister), kiesvleis (wangvleis van gebakte skaapkop) en goewermentsboontjie (sopboon).

Louis von Zeuner borg pypkan en vaskop eksklusief.

Marita van der Vyfer borg kardoes.

Steve Booysen borg waardes eksklusief.

Steve Hofmeyr borg pampoen en toeka eksklusief.

Prof TT Cloete borg tiekie.

Erna Meaker en Edwin Hertzog borg hertzoggie gesamentlik eksklusief.

Jan Braai borg braai.

Gareth Cliff borg uitsaaikorporasie.

Brand Pretorius borg dienende leierskap.

Jannie en Deidre Mouton borg o.a. liewenheerbesie (ladybird).

Riaan Cruywagen borg dinges, pennelekker, woordsmid, kekkelbek, dataproppie. Hy het verlede jaar in ons Nuutskeppingskompetisie R500 met sy inskrywing dataproppie gewen en hy ploeg dit nou terug met hierdie borgskappe.

Daar is pragtige verhale agter die borgskappe:

Riël en Elsabe Gresse van Upington Toyota het ʼn vindingryke manier bedink om Borg ʼn Woord te ondersteun. Sedert Maart 2014 word R100 van die verkoopprys van elke voertuig wat hulle verkoop, gebruik om ʼn woord te borg. Die koper kies sy eie woord en ontvang dan sy sertifikaat saam met sy nuwe voertuig. Ook Engels- en Xhosasprekende kopers kies lustig Afrikaanse woorde waarvan hulle hou. Van die woorde wat kopers reeds gekies het en wat jou ʼn kykie gee in die lewensingesteldheid van die mense van Upington en omgewing is: Samaritaan, skinder, konkoksie, kattebak, betroubaar, aitsa, dorper, holderstebolder, moerse, winkelbek, glo, goedhartigheid, koedoe, rooirokbokkie, familiebande, gesin, bittersoet, bliksemstraal, tevrede, beste, skapie, geduld, landbouer, goijoppie, klontjies kry, geloof, seën, gemsbok.

Meer as 250 voertuie is reeds sedert 2014 op hierdie wyse verkoop wat beteken dat meer as R25 000 reeds tot Borg ʼn Woord bygedra is.

Die tagtigjarige mnr Rautenbach van Bloemfontein borg die woord kafoefel want hy het onlangs ʼn hartomleidingsoperasie gehad en sy dokter het gesê hy moet net nie voortaan te veel kafoefel nie. Hy skryf: “Nie oor ek stout is nie, maar oor ek oud is! Ons het heerlik saam gelag daaroor en sommer nog ʼn honderd jaar by my lewe gevoeg. Nou kan die woord vir ewig in Afrikaans voortleef – in elk geval ʼn wonderlike klankryke woord, wat my nie nodig het nie”.

Barend la Grange en Foeta Krige (Uitvoerende regiseur van Monitor) het in 2014 van die mees suidelike punt van Afrika (Agulhas) tot die mees noordelike punt (Ras ben Sakka in Tunisië) met openbare vervoer gereis. Hulle borg daarom die woorde “Afrika”, “reis”, “toer” en “reisiger”.

André en Stephanie Mostert boer in die Boesmanland op die plaas Dikbek en hulle sê dis vir hulle ‘n voorreg om die volgende woorde te kan borg: Boesmanland, Dikbek, dorper, windpomp en water.

Khaki Goosen, sitrusboer van Pella, borg witgulp. Witgulp is ‘n tipe vrug wat as dit ryp word, ‘n wit streep kry wat lyk soos die gulp van ‘n broek.

Ons kry ook heelwat deelnemers vanuit Nederland:

Annette Mul van Eindhoven, Nederland borg ubuntu, raaksien, liefheid en lewensaak en Dana van Hes, ook van Nederland, borg gramadoelas en twak. Een Nederlander het selfs apartheid geborg, volgens hom ‘n internasionale woord eie aan SA.

Die Instituut vir Nederlandse Leksikografie het onlangs gevra of ons hulle sal help om ‘n Nederlandse weergawe van Borg ‘n Woord op die been te bring. Hulle toekenning vanaf die staat is onlangs ook drasties ingekort. Ons het ingestem omdat daar ‘n baie lang tradisie van wedersydse ondersteuning bestaan.

Borg ‘n Woord het ook aanleiding tot ander projekte rondom woorde soos Velddraf met Woorde waar deelnemers met ‘n woord in plaas van nommer draf en dan kan hulle daardie woord borg.

Einde

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment