Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Nathan Trantaal wen die 2015 Ingrid Jonker-prys vir Chokers en survivors

Nathan Trantaal

 
Chokers en survivorsAandag! Nathan Trantaal is pas aangekondig as die wenner van die 2015 Ingrid Jonker-prys.

Trantaal se oorrompelende debuutbundel Chokers en survivors het in Junie 2013 verskyn en is in 2014 met die ATKV-Woordveertjie Prys vir Poësie bekroon. Die bundel het ook die kortlyste vir die 2013/2014 UJ Debuutprys (Afrikaans) en die 2014 Elizabeth Eybers Prys vir Poësie gehaal.

Chokers en survivors gee ‘n stem aan die lewe in en om die Kaapse vlakte en is geskryf in die taal wat eie is aan die gebied: Afrikaaps. Trantaal hanteer die alledaagse lewe op die Kaapse vlakte met kragtige verse wat die leser laat huiwer tussen lag en huil.

Die Ingrid Jonker-prys is ‘n gesogte poësieprys wat jaarliks beurtelings aan die beste debuutwerk in Afrikaans of Engels toegeken word. Karin Schimke het verlede jaar die prys gewen vir Bare & Breaking: poems, en Hennie Nortje het in 2013 die vorige Afrikaanse prys gewen vir sy debuut, In die skadu van soveel bome.

Die kortlys vir die 2015 Ingrid Jonker-prys het bestaan uit Leiboom deur Eunice Basson, In ligte laaie deur Jannie Malan en natuurlik Chokers en survivors.

Lees die persverklaring hieronder vir kommentaar van die beoordelaars.

Baie geluk, Nathan!
 

* * * * * * * *

 
Persverklaring

Wenner van die Ingrid Jonker-prys 2015 vir Afrikaanse poësie

Die wenner van die Ingrid Jonker-prys 2015 vir Afrikaanse poësie is pas bekend gemaak. Dit is Nathan Trantraal, wie se debuut, Chokers en survivors, deur een van die beoordelaars as “een van die opwindendste bundels” in Afrikaans bestempel word, met temas wat “verras en ontroer”.

Die bundel word geloof vir die “sterk en pretensielose kommentaar” wat dit lewer op die “wanhopige sosiale milieu” van die Kaapse Vlakte en die stryd om oorlewing waarin mense hul bevind. Die outobiografiese aspekte van die bundel word “aangrypend en eerlik uitgebeeld, sonder enige sentimentaliteit”. Die leser word in aanraking gebring met ʼn wêreld wat “onthuts, vermaak en skok”. Die galgehumor en kwinkslae bring egter “bloot tydelike verligting”, want die leefwyse en ervarings van die gesin en die gemeenskap word “onomwonde in al sy pynlike weerloosheid en wroeging” gedemonstreer. Die taalgebruik en taalaanbod word as een van die heel sterkste elemente van die bundel bestempel. Verder word daar in ʼn beoordelaarsverslag verwys na die “blatante opstand” in die bundel – “óók teenoor die digterlike vader (en moeder)”.

Die Ingrid Jonker-prys word jaarliks beurtelings aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Dit is ’n prys vir digters toegeken deur digters. Beoordelaars moet dus ook gepubliseerde digters wees.

Die drie debuutbundels wat vanjaar op die kortlys was, is deur al drie beoordelaars as topdrie uitgesonder. Die ander twee bundels op die kortlys is Eunice Basson se Leiboom en Jannie Malan se In ligte laaie. Die beoordelaars was Marlise Joubert, Vincent Oliphant en Hennie Nortjé, die vorige wenner van die Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie in 2013.

Danie Marais is die sameroeper van die Ingrid Jonker-komitee. Die ander komiteelede is Ronel de Goede, Leon de Kock, Finuala Dowling en Diana Ferrus.

Die Ingrid Jonker-prys 2015 word volgende jaar by die Woordfees oorhandig. Dit bestaan uit ʼn kontantbedrag en ʼn medalje wat deur Bill Davis ontwerp is.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment