Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Ek was daar – ’n jong Afrikaanse boekjoernalis neem bestek

 
Toe ek ‘n jaar en ‘n half gelede by Books LIVE begin werk het was my Afrikaans ‘n uitgemergelde dier wat ‘n paar jaar onder ‘n emmer gelê en uitbloei het (geseënde Kersfees, jy wen ‘n aaklige metafoor). Na vier jaar by Rhodes en twee jaar in Suid-Korea (om nie te praat van my Engelsman-eggenoot nie) moes ek van voor af leer hoe om sinne te maak.

Ek kon nie vir ‘n beter leerskool as Books LIVE en die Afrikaanse boekbedryf gevra het nie.

Ek wou nog altyd net boeke gelees het vir ‘n lewe. Ek weet dis ‘n cliché – skuus, ‘n geykte uitdrukking – maar ek kan nie Wiskunde doen nie, ek is nie prakties nie en ek’s te klein en rond vir enigeiets wat fisieke inspanning vereis. So toe ek die Books LIVE-advertensie op Twitter sien, was ek verheug. Dis dit! My droomwerk het in my skoot beland – digitaal, Afrikaans, werk met boeke – perfek.

Die eerste bekendstelling wat ek bygewoon het vir Books LIVE was Bernette Bergenthuin se Stiletto’s van staal by Graffiti Lynnwood Bridge. Ek het so gebewe ek is seker almal kon my knieë hoor klap. Ek het afgespreek om voor die tyd ’n onderhoud met die skrywer te voer, en toe ek haar ontmoet was ek so verskrik ek moes na daardie spesiale plek in my kop toe gaan waar ek vir myself sê: “Jy’s orraait, mense hou van jou, jy’s nie te sleg nie.”

Ek wens ek kan vir jou sê die angs het namate weggegaan, maar dit het nie. Ek het egter geleer hoe om dit weg te steek, of ten minste die draak daarmee te steek: “Hoekom is jy so rooi, Annetjie?” “Ek’s besig met ‘n bestaanskrisis, los my uit.” (Praat ek gedurig met myself)

Kort na my vuurdoop met Bernette het die werk in alle erns begin en angs moes bietjie plek maak vir opwinding: Ek het met Tom Lanoye via Skype gesels oor Sprakeloos wat na Afrikaans vertaal is deur Daniel Hugo (heeveel boeke vertaal Hugo in ‘n jaar? Ek sal graag wil uitvind) en met Marlene van der Westhuizen oor Geheime van ’n Franse kookklas.

Die hoogtepunt van 2014 was egter om Chris Karsten te ontmoet toe hy Die respektabele Meneer Hartslief by die Waverley Biblioteek in Pretoria bekendgestel het. Ek moet bieg, ek het nooit vantevore sy boeke gelees nie, maar sy gesprek met Thys Human daardie aand het ‘n ommeswaai in my houding teenoor misdaad- en spanningsfiksie veroorsaak – en hoe dankbaar is ek nie daarvoor nie! (Later het ek ook Irma Venter ontmoet en haar boeke ontdek, en ek hoop regtig dat meer lesers sal besef hoe blêrriewil goed sy is.)

 
2015 was ongetwyfeld een van die beste jare in my loopbaan as jong joernalis met drome om eendag boeke te skryf wat mense sal wil lees. Die angswekkende rit van Johannesburg na Pretoria in my skedonk sal sigself eendag ‘n goeie storie maak; Graffiti en Protea Boekwinkel in Hatfield het my tweede huis geword en daar het ek wonderlike mense ontmoet en ‘n blik agter die skerms gekry van hoe die boekbedryf nou eintlik werk.

In hierdie kort tydperk het ek aanskou hoe daar boeke in allerhande genres bekendgestel en – belangrik, want dis tog hoekom ons hier is – gekoop en gelees word. Eendag, wanneer ek oud en bewerig is, sal ek kan terugkyk en sê dat ek deel was van ‘n tydsgees waar goeie Afrikaanse boeke uitgegee en ontvang is.

Ek was daar toe Eunice Basson (Leiboom) en Riël Franzsen (Narokkong) hul debuutdigbundels bekendgestel het. Ek was daar toe Keina Swart haar bundel rubrieke en kortverhale, Die potlooddief se bruid en ander stories, met Martjie Bosman gedeel het. Ek het die voorreg gehad om Pat Stamatélos, asook Peet Venter, Martin Steyn en Henk Breytenbach te ontmoet, en ek was daar toe die deurwinterde joernalis Schalk Schoombie sy boek Boomkastele bekendgestel het.

Ek het ook die voorreg gehad om daar te wees toe Nicol Stassen sy projek van twaalf jaar Die Dorslandtrek: 1874 – 1881 gevier het, en toe Ena Jansen haar insiggewende studie na huiswerkers in stadstekste, Soos familie, bekendgestel het.

 
Om al die Afrikaanse skrywers wat ek die jaar ontmoet het op te noem sal heelwat plek opneem, maar gelukkig is ons mos nie ‘n koerant nie: Tinus Horn, Pieter Verwey, Irma Venter, Saskia Goldschmidt, Debbie Loots (en gespreksgenoot Niekie van den Berg!), André Krüger, Irma Joubert en Chanette Paul.

Natuurlik is die boekbedryf, soos enigeiets in ons samelewing, nie immuun teen kritiek nie. Myns insiens is daar te min bruin, swart en vroulike Afrikaanse skrywers wat die diversiteit van ons land in Afrikaanse literatuur verteenwoordig. Daar is te veel boeke wat ‘n nostalgiese blik werp op wit mense se triomfantelike verlede, maar swyg oor hoé die plase/rykdom/weelde verkryg is deur die onderdrukking van “die ander”. Jong mense is kwaad, soos Nathan Trantraal ons by die Open Book-fees herinner het en soos ons kon sien in die kwessies wat in 2015 die lig gesien het – #FeesMustFall, #RhodesMustFall, #OpenStellenbosch, noem op.

Die probleem is dat ons (Afrikaanssprekendes) te ordentlik en te bang is vir ‘n ope gesprek oor die dinge wat ons pla. Dit pla my, byvoorbeeld, dat as jy kyk na al die Afrikaanse boekbekendstellings wat ek die jaar bygewoon het, jy sal agterkom dat al die skrywers wit was. Dis ‘n probleem, veral as jy dit vergelyk met die Engels bekendstellings en literêre feeste wat ek die jaar bygewoon het. Dié was ook grotendeels wit, maar daar was ‘n groter bewustheid van die ongelykhede in die Suid-Afrikaanse literêre sisteem en ‘n groter poging om – al was dit by tye lomp en onbeholpe – ‘n beter weg vorentoe te baan. 2015 sal altyd onthou word as die jaar toe die “White Literary System” onder skoot was.

En ek was daar.

Ek het in een week in Maart vanjaar drie uiteenlopende geleenthede bygewoon – ‘n Engelse wetenskapfiksiebekendstelling in ‘n koffiewinkel in Illovo (tydens beurtkrag), ‘n Afrikaanse bekendstelling by die Voortrekkermonument in Pretoria en die bekendstelling van die Long Story SHORT-projek met Hlubi Mboya en Nozizwe Cyntha Jele by die Olievenhoutbosch Biblioteek in Tshwane. Ek het gejubel oor hoe cool my werk is – ek kry die geleentheid om in al die verskillende groepe van ons samelewing te beweeg en in te pas. Tog, kry enigeiemand anders ooit hierdie geleentheid, en wat was die punt as ek nie iets daaruit geleer het nie?

Een ervaring wat my altyd sal bybly is die bekendstelling van Run Racist Run: Journeys Into The Heart Of Racism deur Eusebius McKaiser, waar die skrywer onder meer gesels het oor sy tyd by Rhodes: “I thought I was self-aware but I walked around Rhodes campus with blinkers on … These spaces were always violent.” Sy beskrywing eggo myne; met oogklappe aan het ek die vier jaar omgekuier; en ek was beslis nie so braaf soos die #FeesMustFall-studente nie, al was ek self op NSFAS en het ek amper weens kostes nie my eerstejaar-eksamen geskryf nie. Die skrywer het die geleentheid afgesluit met die woorde: “We are required as writers to engage with these realities; you can’t write poetry about what’s in your garden.” Is dit dan nie ons plig om dit wat ons ongemaklik maak te belig en oop te praat of te skryf nie?

Dit pla my dat wanneer ons (jong mense) oor hierdie dinge probeer praat, ons pogings afgemaak word as “irrasioneel”, “te emosioneel” of – net nie dit nie – onpatrioties, onAfrikaans, of daardie haatlike woord, libtard. Dit pla my dat ek – wit, Afrikaans, 27-jarige vrou – in ‘n sekere kartondoos moet pas en nie my mond mag oopmaak wanneer die wit ooms praat nie. En dit pla my verskriklik dat, een, ek nie heeltemal uiting kan gee aan die dinge wat my pla nie, en twee, ek dadelik om verskoning wil vra aan al die individuele skrywers vir my uitlatings. Want dit gaan nie oor individue nie, dis die sisteem wat foutief is, en ek is onlosmaakbaar deel van daardie sisteem wat wit bevoorregtig laat herhaal.

Dis soos ‘n roof wat oor en oor gekrap word.

Dit was ‘n voorreg.

En ek was daar.

 

Stiletto's van staalSprakeloosGeheime van ’n Franse kookklasDie respektabele Meneer HartsliefLeiboomNarokkongDie potlooddief se bruid en ander storiesMy groot vet Griekse egskeidingSkuldigPlasentaBoomkasteleBoas Mei is verwardClint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklokSkarlakenDie hormoonfabriekSplitDie DorslandtrekSoos familieImmer wesOfferlamKomplotKodenaam IcarusRun Racist Run

 

Boekbesonderhede

Foto’s met dank aan Graffiti Lynnwood Bridge en Protea Boekwinkel Hatfield

 

Please register or log in to comment