Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Ses moet-lees Maart boeke

Protea Boekhuis het ‘n besige Maart-maand agter die rug gehad. Van verbeeldingryke kinderboeke vir die jongspan, tot geskiedkundige novelles, tot dramatekste wat menslikheid ondersoek, is onlangs geubliseer.

Lees verder oor die volgende ses boeke waarby enige kranige leser sal aanklank vind:
 
 

Die dag is bros/Sandton City GrootdoopDie dag is bros/Sandton City Grootdoop
Wessel Pretorius

AGTERGROND
Twee dramas oor familie, verhoudings, vergifnis en herinneringe. Wat bybly, is dat mense maar net mense is. Dat versoening deel van menswees is. Dat stukkende mense mekaar kan help heel word en dat familie tog familie bly – ondanks omstandighede, persoonlike keuses en uitdagings.

Sandton City grootdoop
‘n Drama oor ’n ma en haar twee dogters wat vir die eerste keer in ’n lang tyd bymekaarkom om die oudste, Danél, se verjaardag in Sandton City te vier. In die proses begin die trio mekaar se verlede, gevoelens en emosies oopkrap met eerlike, en snaakse, oomblikke.
Kara, die ma, is die aktrise wat haar man en kinders op ’n jong ouderdom verlaat het om haar groot droom om wêreldberoemd te word, na te volg. Sy erken dat sy nie bevoeg of beskore was vir moederskap nie, maar probeer tog om tot hulle deur te dring en hulle vertroueling te wees. Haar oudste dogter, Danél, is bipolêr en bly na ‘n onlangse selfmoordpoging weer by haar ma. Sy is naïef en emosioneel en val maklik vir haar ma se manipulasie.
Haar suster, Lisa, is gay en verwyt haar ma dat sy nog niks met haar lewe gedoen het nie. Sy is kwaad en kras en wil graag haar ma skok met haar uitlatings oor seks, maar ’n mens kom agter dat sy eintlik baie kwesbaar is.

“Die minimalisme van die stuk bind jou en hou jou vasgenael tot die einde.” Leonie Bezuidenhout
“Dit is galbitter, snaaks en bitter seer in ewe maat, ’n driekuns wat Pretorius keer op keer regkry. Jy lag, maar jy weet jy moet eintlik ween.” – Leatitia Pople

Die dag is bros
Dis laatmiddag. Elsa, voorheen ’n lektor in Afrikaanse letterkunde, berei ’n driegangmaaltyd voor vir Brian se verjaarsdag. Hy was ’n jeugmisdadiger wat ’n tweede kans gegun is onder Elsa se vlerk. Sy stel hom bloot aan Sheila Cussons en hy vul ’n leemte in haar lewe. Tussendeur word daar speletjies gespeel met Tertius – die vreemde kind wat kersiebloeisels aandra uit Japan. Voor die kos koud kan word sal die dag ’n ingrypende wending neem.

Die dag is bros is benoem vir ’n Fiësta as beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie.

OOR DIE OUTEUR
Wessel Pretorius is die wenner van die 2015 Afrikaans Onbeperk-prys vir ’n jong stem.

Voor ek my kom kryVoor ek my kom kry
Pirow Bekker

AGTERGROND
Die omslag van die bundel met sy abstrakte figure suggereer die gesprek wat in hierdie bundel gevoer word met die self, die geliefde, die lewe en die dood. Die digter ondersoek erskillende fasette van ’n lang en kreatiewe lewe. In die eerste afdeling kom die verhouding met die aarde ter sprake; in die tweede afdeling die ambivalente verhouding met die land waarin hy gekies het om te bly woon, ten spyte van die ongenaakbaarheid van klimaat, plae en sosio-politieke kwessies. In die volgende afdelings kyk die digter op ironiese wyse na die dreigende dood wat hom in verskille gedaantes voordoen. Dan volg gedigte oor die liefde: vir die taal, die woord en vir die geliefde vrou. Die fyn humor waarmee die digter na die ouderdom kyk, sorg dat die laaste gedigte nie neerdrukkend is nie, maar die lewe bly omhels, soos in “Hansie Slim herbesin”, waarin gespot word met die “mediese kernplan” waarmee voorsorg vir siekte en ouderdom getref word.

En tog,
die hele infrastruktuur ten spyt
verlaat Hans sy huis, begeef hy hom
op ’n lukraak ryloopreis
die wyer wêreld in.

Daarom kan die digter in die slotgedig terugkyk op die verrassing van ’n lewe wat sonder beplanning of padkaart, sy eie verloop geneem het.

OOR DIE OUTEUR
Pirow Bekker is ’n veelsydige skrywer van romans, kortverhale en poësie. Sy vorige twee bundels, Van roes en amarant (2008) en Atlas teen die vergeetrivier, (2013) is goed ontvang deur die literêre kritiek.

Kroniek van turfKroniek van turf
Dolf van Niekerk

AGTERGROND
Hierdie novelle sluit aan by twee vorige prosawerke van Dolf van Niekerk, naamlik die jeugverhaal Karel Kousop (1985) en Koms van die hyreën (1994). Kroniek van turf is gedeeltelik ’n prequel vir die vorige twee boeke. Dit vertel die geskiedenis van Gerrit, ’n werknemer van die VOC, wat in die 18de eeu begin boer op ’n leningsplaas in die Roggeland. Omstandighede dwing hom om na die distrik Swellendam te verskuif. Sy twee seuns, Johannes en Daniel, soek albei later ook na ’n veiliger blyplek, aanvanklik in die Kamdebo. Onrus op die Oosgrens laat hulle verder trek; Johannes na wat tans die Vrystaat is en Daniel saam met die Voortrekkers na Natal, waar hy en sy vrou slagoffers van die Bloukransmoorde word.
Waar Johannes hom op ’n plaas tussen die Riet- en die Modderrivier vestig, maak hy weer kontak met die Kousop-Boesmans wat hy vroeër naby die Gariep ontmoet het. Tussen Johannes se nageslag en die Boesmans ontwikkel ’n vae, onsekere band wat oor meer as ’n eeu sou strek. Onverwags maak een van Johannes se nasate, Johan, tydens die Bosoorlog kennis met ’n Boesmanspoorsnyer wat ook ’n Kousop-nasaat blyk te wees en wat ’n bepalende rol in ’n grondeis op Johan se plaas tussen die twee riviere sou speel.

OOR DIE OUTEUR
Dolf van Niekerk is ’n bekende en geliefde skrywer van prosawerke soos Die son struikel (1960), Skrik kom huis toe (1968) en Die haasvanger (1985). Sy mees onlangse publikasies, die digbundels Bleek planeet (2012) en Portrette in my gang (2015), is baie goed deur die kritiek ontvang. Hy is meermale vir sy werk bekroon en het onder andere die Eugène Marais-prys, die M.E.R.-prys en die Scheepersprys ontvang.

Die prinses met die lang hareDie prinses met die lang hare
Annemarie van Haeringen

AGTERGROND
In ’n klein, arm landjie woon daar ’n prinses met ongelooflike lang hare. Sy sou dit graag wou afknip, maar haar pa sê dat ’n dame se hare haar kosbaarste sieraad is . . .

‘n Prettige boek vir meisies wat hou van prinsesse, lang hare en sterk mans.

OOR DIE OUTEUR EN ILLUSTREERDER
Annemarie van Haeringen ontvang in 2000 die Nederlandse Gouden Penseel-toekenning vir hierdie boek – ’n eer wat haar ook met Malmok (1999) en Beer is op Vlinder (2005) te beurt geval het. Ander bekroonde werke van haar is Het begin van de zee en Coco of het kleine zwarte jurkje, wat onderskeidelik met ’n Zilveren Griffel en ’n Zilveren Penseel vereer is.
 
 
 

Die storie van ontdekkingsreiseDie Storie van Ontdekkingsreise
Anna Claybourne

AGTERGROND
Vanaf die vroegste tye verken mense al die aardbol op soek na nuwe plekke om te bewoon, verleidelike skatte, asemrowende vergesigte of die roemryke voorreg om die éérste mens op ’n hoë bergpiek te wees.
Hierdie boek vertel die verhale van onverskrokke ontdekkingsreisigers wat dit tot by die ysige pole gewaag het, bloedig warm woestyne oorgesteek het, riviere vol krokodille trotseer of vir die eerste keer reg rondom die aarde geseil het.
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
Lafras Cuyper in VenesiëLafras Cuyper in Venesië
Karl Kielblock

AGTERGROND

Karl Kielblock het verskeie boeke geskryf, waaronder die Lafras Cuyper-reeks baie bekend is en wyd versamel word. Dit handel oor seeavonture in diens van twee oorlogvoerende moondhede vroeg in die 19de eeu. Hierdie is die sesde boek in dié reeks, propvol opwinding, spanning en avontuur!

’n Besoek aan Venesië – dit is ’n droom wat waar word vir die beroemde kaperkaptein Lafras Cuyper. Dié droom word egter ru onderbreek toe Lafras een aand in die donker stegies aangeval word. Voor hy die raaisel oor die aanval kan oplos, roep Napoleon hom terug na Parys. Lafras moet Venesië verlaat – en ook die aanvallige Justina, wat sy hart so gou verower het. Hy moet met die Turkse goewerneur gaan onderhandel oor drie Franse offisiere wat as gyselaars aangehou word. Tussendeur al die lewensgevaarlike avonture, verskyn die beeld van Justina kort-kort voor Lafras. Hy móét haar weer sien. Hy móét weer terugkeer na Venesië … en sy aanvallers.

Die verhaal van Lafras Cuyper is op feite gebaseer.

OOR DIE OUTEUR

Karl Kielblock is ʼn bekende skrywer en selfs ná sy afsterwe bly sy boeke onweerstaanbaar. In 1936 verskyn sy eerste boek Die skat van Java. Sedertdien het daar verskeie romanse, speur- en spanningsverhale asook verskeie jeugverhale die lig gesien. In 1970 ontvang Kielblock die Scheepersprys vir die boek Rebel.

Book details

 

Please register or log in to comment