Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Lees ons redakteur se Taalgenoot-artikel oor die toekoms van wetenskapsfiksie in die Afrikaanse skryfkuns

Die Herfs-uitgawe van die kwartaallikse tydskrif Taalgenoot is onlangs met die vergunning van PEN Afrikaans op LitNet se webblad gedeel.

Die oorhoofse tema vir dié uitgawe was futurisme/ ‘n toekomsblik en bevat artikels wat wissel van onderwerpe oor post-waarheid en vals nuus tot tegnologie in klaskamers tot die daling in e-boek aankope.

BooksLive se redakteur, Mila de Villiers, se bydra oor die toekoms van wetenskapsfiksie in die Afrikaanse skryfkuns en die gewildheid van hierdie genre, met ‘n klem op speculative fiction kan hier gelees word:

Om die toekoms oop te skryf

Wetenskapsfiksie. Die woord roep beelde op van ruimteskepe, lasers, seinborde en vuurpyle. En name soos Isaac Asimov, Robert A. Heinlein en Frank Herbert. Stories van bo-aardse antagoniste; ‘n onvoorspelbare toekomsblik – óf distopies óf utopies, afhangende van die mens se vermoë om dit wat die toekoms bied, te omarm.

Tog is wetenskapsfiksie nie tot een veld beperk nie, sê Tertius Kapp, dramaturg en uitgewer by Tafelberg. Wetenkapsfiksie word al hoe meer gesog onder Afrikaanse uitgewers en Tertius skryf dit aan groeiende belangstellings onder jonger lesers toe.

Volgens Simone Hough, ‘n redakteur by Human & Rousseau, is ‘n groter belangstelling in fantasie- en wetenskapsfiksietitels vir jong volwassenes die laaste paar jaar “beslis ‘n merkbare tendens internasionaal en ook in die plaaslike mark”.

Skrywers soos Beth Revis, Marissa Meyer, Veronica Roth, Lois Lowry, Suzanne Collins en Rick Yancey maak die genre baie gewild, en aangesien van hierdie boeke ook in flieks verwerk word, het dit ‘n groot aanhang.

“Hoewel daar min Afrikaanse skrywers was wat fantasie- en wetenskapsfiksie vir jonger lesers in die verlede geskryf het, is daar wel meer voorleggings vir hierdie soort verhale,” sê Simone.

“Dit is vir ons wonderlik om plaaslik ook wêreldklas-jeugfiksie in hierdie genre te kan publiseer, in Afrikaans én Engels, met skrywers soos Nelia Engelbrecht (Die poort-reeks, Tafelberg), Elizabeth Wasserman (Anna Atoom-reeks), Edyth Bulbring (The Mark), Helen Brain (Elevation-reeks) en dies meer.”

Veral Engelbrecht se Die poort-vierluik, waarvan die eerste twee aflewerings, Bewakers en Reisigers, net ‘n paar maande uit mekaar gepubliseer is (onderskeidelik in Julie en Oktober 2016), dui op die gewildheid van wetenskapsfiksie onder ‘n jonger Afrikaanse gehoor.

Michelle Cooper, ‘n uitgewer en redakteur by Tafelberg, meen Afrikaanse lesers wil uit dieselfde verskeidenheid genres as Engelse lesers kan kies. Brain se Elevation-trilogie, wat in ‘n futuristiese, distopiese Kaapstad afspeel, word deur Engelse tieners opgeraap.

“Goeie wetenskapsfiksiemanuskripte wat oor my lessenaar kom, sal beslis my aandag trek, aangesien daar nie baie daarvan in Afrikaans is nie,” sê Michelle.

Volgens Tertius bied wetenskapsfiksie moontlikhede om van ‘n leefwêreld sin te maak wat al hoe meer deur tegnologie gevorm en bepaal word. Jonger lesers kan aanklank vind daarby, aangesien sci-fi “die verbeelding baie vrye teuels gee; dit is minder ingebed in die idee van ‘n nasionale letterkunde, met die negatiewe assosiasies wat daarmee saamkom, en nog baie ander”.

Klik hier om verder te lees.

 

Please register or log in to comment