Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Die ware Taalstryd speel hom af in die linies van die Afrikaanse underground-beweging: Koos Kombuis oor die wonder van Ons Klyntji

“Is jy ’n Taalstryder?”

Hierdie vraag word met gereelde tussenposes aan my gestel.

’n Ander moeilike vraag is: “Hoekom neem jy nooit deel aan die ‘Afrikaans is Groot’-konserte nie?”

Dis nie vrae waarop ek ’n maklike antwoord het nie.

Afrikaans is een van elf amptelike tale in Suid-Afrika.

Ons is eintlik nie moerse groot nie.

Ons durf nie onsself aanmatig deur die koning van die mishoop te probeer wees nie. So sal ons nie oorleef nie. Dit sal vyandigheid ontlok by mede-Suid-Afrikaners. Dit ontlok reeds vyandigheid.

So maak mens nie vriende nie. En so oorleef mens nie in ’n harde en kompeterende omgewing nie.

Gedurende die tagtigerjare het ek en my vriende – ons was toe nog jonk en voortvarend – tientalle sogenaamde ‘little magazines’ die wêreld ingestuur. Van hierdie tydskriffies, meesal gefotostateer en vasgekram, het name gehad soos Donga, Die Tagtiger, Koerant, Work in Progress, Kabelkarnimfe, Taaldoos en Graffier. Die inhoud van hierdie tydskrifte was meesal baie alternatief en uitdagend. Omdat hulle anti-N.P. was, is party van hierdie publikasies verbied.

Die laaste ‘little magazine’ is in 1996 gestig. Ek het ’n beperkte oplaag laat druk met ’n borgskap van vyftig rand, bygedra deur my pel One-Love.

Die naam van hierdie tydskrif was Ons Klyntji. Dit was veronderstel om ’n voortsetting te wees van die tydskrif met dieselfde naam wat in die laaste jare van die neëntiende eeu ’n subversiewe rol gespeel het in die bewuswording en tot-standkoming van Afrikaans as volwaardige taal.

Ons Klyntji is vandag die enigste sogenaamde ‘little magazine’ wat nog bestaan. As mens in aanmerking neem dat die eerste uitgawe inderdaad honderd-een-en-twintig jaar gelede verskyn het, het Ons Klyntji die rare onderskeiding dat dit nie slegs die langslewende tydskrif uit die ‘little magazine’-era is nie, maar dat dit amptelik die oudste bestaande Afrikaanse publikasie is. Dis ouer as Die Huisgenoot!

Vir my voel die ontstaan en voortbestaan van ’n tydskrif soos Ons Klyntji werklik soos ’n wonderwerk. Die manier hoe dit gebeur het, en die sinchronisiteit van alles, byna te merkwaardig om waar te wees. Vir ’n volledige geskiedenis van hoe hierdie tydskrif herleef en oorleef het in moderne tye, gaan lees gerus Mila de Villiers se deeglike stuk navorsing getiteld Van ‘Leesstof vir die Afrikaanse Volk’ tot ‘Iets Cools in Afrikaans’.

As ek ’n Taalstryder is, is ek nie een van die groot taalbulle wat raas en blaas vir die toekoms van Afrikaans nie. Ek is die ou wat die klein vlammetjies hier onder aanblaas.

Wie weet; dalk sien die volgende geslag hierdie pogings raak, en bou daarop?

Daar is alreeds vandag twee weergawes van die tydskrif, een wat fisies gedruk is en ’n online-weergawe. Die fisiese tydskrif, met die titel Ons Klyntji, is onder redaksie van Toast Coetzer, Erns Grundling en Alice Inggs, en dit word gedruk met ’n klein borgskap van Oppikoppi. Bydraes – enigiets van gedigte tot kort stories en tekeninge – kan gestuur word aan toast@weg.co.za.

Die aanlyn-weergawe, getiteld Klyntji, is onder die redaksie van Francois Lion-Cachet. (As sy van bekend klink, hy is inderdaad ’n direkte afstammeling van ene J. Lion-Cachet , wie ’n leeue-aandeel gehad het in die Taalbewegings van die laat neëntiende eeu!)

Hierdie tydskrif kan gratis gelees word by http://klyntji.com/ .

Hoewel daar ’n losse samewerking tussen die redaksie van die fisiese en aanlyn-weergawes is, en die inhoud soms oorvleuel, word die aanlyn-weergawe meer gereeld opgedateer.

Ek het die 23-jarige Francois uitgevra oor sy motivering vir die stig van Klyntji, en hy het as volg geantwoord:

Vir my was die hoofrede met die stig van Klyntji om ’n publikasie te skep wat ek wou lees. Internasionaal vind ek aanklank by, onder meer, Dazed, iD en Vice, almal afsonderlik aan die verslaggewende voorpunt van progressiewe wêreld jeugkultuur. Afrikaanse publikasies haak dikwels vas by die “bevordering” of selfs “oorlewing” van die taal, waar dit vir my belangrik was om ’n post-Afrikaanse aanslag na te volg, minder gepla met die “Taal”, en meer gefokus op wat die kultuuragenda is en behoort te wees. Klyntji is nie hoogheilig nie, maar wel edgy en vars.

Dit is my vermoede en hoop dat geskiedskrywers wat eendag terugkyk na die literatuur van die vroeë een-en-twintigste eeu, sal besef dat die ware Taalstryd homself afgespeel het, nie in die rookgevulde sale van die Taalbulle of op die verhoë van ‘Afrikaans is Groot’-konserte nie, maar in die klein en minder opvallende linies van die Afrikaanse underground-beweging. - @KoosKombuis

 

Please register or log in to comment