Bekendstelling: Die lig skyn daar buite deur Jacques de Viljee (13 Desember)
Die bekendstelling van Jacques de Viljee se debuutbundel Die lig skyn daar buite vind Donderdagaand 13 Desember by The Striped Horse on Kloof (fka The Vic) in Kaapstad plaas. Daar sal 19:30 ‘n gesprek wees tussen De Viljee en Hanno van Zyl, wat die kortverhaalbundel se ontwerp en illustrasies behartig het. Eksemplare van Die lig skyn daar buite kan by jacquesdeviljee@icloud.com bestel word en sal teen R100 by die venue te koop wees.

Die vier verhale in Die lig skyn daar buite kyk deur die oë van ‘n handjievol jongmense na ‘n kontemporêre Kaapstad en Suid-Afrika, na die verwronge spieëls van die internet en aanlynlewe, en na nuwe weergawes van oorleef in ‘n moderne wêreld.
In “#malegaze” strompel Nicolaas Mijburg een aand halfbesope Die Vallende Ster binne. Van agter die kroegtoonbank herken Vink Minnaar dadelik sy skoolheld en -liefde, die debatkampioen wat nou ‘n prokureur is. Vanaand is sy kans, besef Vink terwyl hy Nicolaas se oog probeer vang, ná soveel jare van droom en wonder.
In “#thisiswar” sien Ryno Winterbach op Twitter dat ‘n landswye burgeroorlog pas uitgebreek het. Ryno, ‘n argitek in Kaapstad, moet kant kies, maar met sy meisie oorsee en sy boesemvriend gewond in die hospitaal teen die berg, is hy besig om van sy kop af te gaan.
Vir die oorlewing van sy pa se galery moet Innes Edelhart in “NG Kerk Tyrrhena Patera” vir Jean Kleinhaus, die wunderkind van die kunswêreld, by ‘n uitstalling in Breëstraat opspoor om een van die kunswerke vir die galery te kontrakteer. Hy vind die kunstenaar uiteindelik, maar ná twee cokelyne en te veel witwyn spiraal die aand uit tot ‘n warrelwind van karakters en gesprekke waaraan hy net-net nie kan vatplek kry nie.
In “Liewe Wessel” skryf Amelie Verwey, ‘n uitgesproke jong kunstenaar van Kaapstad, ‘n indringende inskrywingsbrief vir Wessel, ‘n deelnemer op Soort Soek Soort. Sy boor tot in sy diepste self, terwyl sy haarself ook aan hom oopmaak. Amelie is egter onbewus dat Wessel haar brief waarskynlik nooit sal kry nie.
Die karakters in Die lig skyn daar buite soek soos die titel suggereer na waarheid en betekenis wat iewers daar buite blink, maar hulle verdwaal telkens in die donker. Hulle is immers foutryke mense; nie rekenaarkode nie.
“Dit voel soos ek Kaapstad onthou. Hierdie shit is weird en ek like dit so. Hierdie is hopelik die eerste van baie weirder shit. Afrikaans kort weird.”
- Hunter Kennedy
“Jacques de Viljee se kortverhale is rou. Eg. Meesleurend. Skerpsinnig. Diepsinnig. ‘n Hemingway vir die hashtag generasie.”
- Mila de Villiers, BooksLive
Jacques de Viljee is ‘n skrywer van Kaapstad. Sy skryfwerk is al in New Contrast en op Klyntji.com, LitNet en BooksLive gepubliseer. Die lig skyn daar buite is sy debuutbundel en word onafhanklik gepubliseer.
Die bundel se ontwerp en illustrasiewerk is deur Hanno van Zyl behartig. Hanno se uitleg- en produksiewerk sluit in June 16, ‘n herdenkingsboek oor die seminale fotograaf Peter Magubane se werk, Twenty Journey, ‘n fotoboek oor drie diverse jong fotograwe se reis deur ‘n twintigjaaroue demokratiese Suid-Afrika, en WAT BINNE IS, ‘n bundel wat gedigte van Jaco van der Merwe en foto’s deur Wikus de Wet vermeng. Sy illustrasiewerk is in 2016 as Pay Dirt by Salon 91 uitgestal.
Please register or log in to comment