by Carolyn on May 16th, 2012

Uitspraak: wortel
Die titel en die kragtige bandontwerp (’n kunswerk deur Christiaan Diedericks, Death of the Inside Warrior) roep die aflegging van aspekte van die self op.
In “Skielik skemer” word die titel van toepassing gemaak op die digter John Berryman, wat in 1972 selfmoord gepleeg het, maar dit word deurgetrek met betrekking tot die liriese spreker in verskeie verse en van toepassing gemaak op die korpus van De Lange se vorige bundels.
Boekbesonderhede
» read article
by Carolyn on May 16th, 2012

Uitspraak: wortel
Die kamer langsaan is ‘n besondere roman wat ligvoets tussen erns en luim, tussen die tragiese en die romantiese beweeg. Dit sorg vir afwisseling en balans in die leser se ervaring. In die hoofkarakter is dieselfde tweeledigheid te bespeur. Sy wissel tussen speelse sensualiteit en diep hartseer, met ‘n gesonde skoot woede en opstand tussenin. Sy is ‘n karakter waarmee ‘n mens kan identifiseer, iemand wat jy graag sou wou ken.
Die verhaal binne ‘n verhaal herinner ‘n mens aan Eleanor Baker se Verbeelde werklikheid, een van my groot gunstelinge. Die hoofkarakter beleef haar eie verhaal terwyl sy dié van ‘n ander karakter opteken. En uiteindelik word verbeelding en werklikheid so inmekaar gevleg dat die leser nie meer heeltemal seker is waar die een ophou of die ander begin nie.
Boekbesonderhede
» read article
by Carolyn on May 15th, 2012

Sonja Loots en Theo Kemp het vanjaar ATKV WOORDtroFEES ontvang vir die informatiewe, verhelderende, diepsinnige en substansiële gesprekke wat hulle tydens die US Woordfees oor hul romans gevoer het.
Loots het met die titel van uitstaande, gevestigde woordkunstenaar weggestap vir haar gesprek oor Sirkusboere, terwyl Kemp as debuutskrywer vir sy bespreking van Skool bekroon is.
Amanda Strydom het die trofee vir kontemporêre musiek vir die produksie Binnekamer gekry. Wessel Pretorius is vir sy eenmanstuk, Ont, in die kategorie vir beste dramaproduksie bekroon. Cape Consort is as die beste klassiekemusiekkunstenaars aangewys en Willem Stydrom is as visuele kunstenaar vereer.
Ivor Fortuin van New Orleans Sekondêr en America van der Merwe van die Hoër Tegniese Skool Proteus is vir hul bydrae tot onderwys met die Woorde Open Wêrelde-toekennings bekroon.
Kyk die KykNET-program Bravo se video van die glansgeleentheid waar die wenners bekendgemaak is en lees die persverklaring:

Persverklaring:
Die ATKV WOORDtroFEES, wat jaarliks toegeken word vir uitnemende aanbiedings op die US Woordfees, is op 3 Mei 2012 tydens ’n spoggerige geleentheid op Bon Esperance buite Stellenbosch toegeken. Dit is die derde keer wat dié spogtoekennings gemaak word.
Twee romansiers het weggestap met die louere as Woordfees 2012 se uitstaande Woordkunstenaars. Sonja Loots, skrywer van Sirkusboere, en Theo Kemp, wat in 2011 gedebuteer het met Skool, is onderskeidelik as gevestigde en debuutskrywer bekroon vir hul feesgesprekke oor hul romans. Verlede jaar het Elsa Joubert en Deborah Steinmair met dié gesogte toekennings weggestap.
Boekbesonderhede
Scribd.com book preview:
Sirkusboere
» read article
by Carolyn on May 15th, 2012

Uitspraak: wortel
Na twee digbundels, Die vloedbos sal weer vlieg (2006) en Woud van nege en negentig vlerke (2009), verskyn Wildvreemd (2011) as Carina Stander se eerste roman. Die roman vertel die verhaal van ’n vrou wat alleen in die oerbos in die Waterberg woon. Sy boer met bye en gaan net op vaste tye dorp toe om haar heuning en die kerse wat sy self maak te verkoop. Hierdie vrou is stom, sy het ’n erge letsel aan haar nek en sy beskryf haarself soos volg: “Ek is stilte. Stilte is ek.” In ’n onderhoud met Bibi Slippers (op Litnet) vertel Carina Stander dan ook dat die roman gegroei het uit die volgende sin: “Stilte is ’n oergeluid.”
Hierdie eerste hoofstuk van die roman stel die toonaard van die hele teks vas. Die skrywer werk met die basiese dinge soos stilte, water en vuur en met teenstellings soos lewe en dood, lig en donker, stilstand en vloei, oerbos en menslike gemeenskap. Die leser sal agterkom dat die verhaal werk met die elemente in die natuur en met argetipiese dinge. Dit is ook duidelik dat die skrywer tot hierdie onderlaag van die menslike psige aangetrokke is en in terme daarvan dink. Hierdie waarneming word versterk deur die motto wat kom uit Clarissa Pinkola Estes se “Women who run with the wolves” (1992) en die meer gekompliseerde Jungiaanse assosiasies (in die vorm van duidelike vroulike argetipes soos die wilde vrou, die wyse ou vrou, die jaloerse vrou, die oermoeder). Die hoofkarakter leef dan ook deurentyd na aan die natuur, in die bos en langs die rivier; sy werk met plante, met groente en kruie; maar sy is ook altyd bewus van diere en insekte, die hiëna (die wolf), die bye en die insekversameling.
Boekbesonderhede
» read article
by Carolyn on May 10th, 2012

Uitspraak: wortel
By die eerste optel van Réney Warrington se debuutroman, Oktober, val ’n paar dinge my op: die bladuitleg is besonder lesersvriendelik en die formaat is effens breër as ander romans.
Die boek rus ook voelbaar swaarder in die hand vanweë die gehalte van die papier waarop die swart-en-wit foto’s aan die begin van elke hoofstuk en die kleurafdrukke daarvan in die middel van die roman gedruk is.
Boekbesonderhede
» read article
by Carolyn on May 10th, 2012

Uitspraak: wortel
Rugbyballe en bikini’s is beslis die nuwe Mills and Boons vir hedendaagse tieners!
Wat ek baie van die verhaal gehou het, is dat die skrywer sommer met die spreekwoordelike deur in die huis val en dadelik die storie uit die hoofkarakter, Anelle, se perspektief begin vertel.
Boekbesonderhede
» read article
by Carolyn on May 9th, 2012

Uitspraak: wortel
Twee skrywers aan een boek loop die gevaar om in ’n selfingenome maalgat te val. Of om ’n lewendige, selfs huppelende trant aan ’n storie te gee. Daar’s dus ewe veel kans van sink as swem.
Een stad drie rooikoppe sewe dae kry dit reg om te wil-wil sink; net om triomfantelik en dankie-tog te oorleef.
Boekbesonderhede
» read article
by Carolyn on May 9th, 2012

Evette Weyers se boek, Wat die hart van vol is, is deels dagboek, outobiografie en reisjoernaal, wat ryklik met foto’s geïllustreer is. Dit vertel die verhaal van haar kunstenaarskap en haar verhouding met haar man, die akteur Marius Weyers.
Cas van Rensburg het by die Weyers-egpaar in die Kogelbiosfeer naby Hermanus gaan kuier en uitgevind dat Evette inspirasie put uit die natuur, haar “oermatriks”, en woorde waarvan sy die oorsprong en betekenis noukeurig naspoor:
Emoyeni. Dit is die naam van die huis waarin Evette en Marius Weyers in die Kogelbiosfeer naby Hermanus woon. Dit is ’n saamgestelde Zoeloe- en Xhosa-woord wat “in die wind” of “in die gees” beteken, en dalk gepas, want dit is hier dat Evette haar beelde maak en Marius sy woorde leer en die kreatiwiteit dwarrel.
Vandag is dit egter windstil. Marius kom op die stoep langs met ’n wasgoedmandjie in die arms.
Dié keer is die onus nie op hom nie, maar op Evette. Sý dagtaak wag in die waskamer. Die honde kom eerste hek toe om te groet, en Marius sê: “Wag eers dat hulle jou ruik.” Die groot rifrug, Tookwie (dit is ’n Khoi-woord vir “donderende reën”), styg behoorlik bo die hek uit terwyl Paljas, ’n straatnommer, onderlangs snuif.
Lees ‘n lekker lang uittreksel uit Wat die hart van vol is, wat met foto’s aangevul word:
Verhoudings herinner my aan ysberge – nege-tiendes verborge onder die oppervlakte. Ek het ’n hele reeks beelde van ysberge gemaak. Een van Tsjekof se dramas en een van Goethe se gedig oor die Elwekoning wat die ylende kind kom haal. Nog een van my en Marius. Dit was gebaseer op ons goeie verhouding, ten spyte van ons uiteenlopende geaardhede. Ek voel ons kyk in verskillende rigtings, maar ons handpalms raak aan mekaar. Ons staan rug aan rug en maak mekaar sterk. Die nege-tiendes onder die oppervlakte van ons ysberg is propvol liefde, paradokse, respek, tergery, verdraagsaamheid, kontraste, aweregse humor, ’n bietjie woede en nog tergery. Marius het van die liefdesgedigte waarvan ons baie hou, op die ysberg-beeld geskryf; onder andere Marlize Joubert se “Ballade van die minnaars”. Een van die liefdesgedigte van Pablo Neruda is ook op die ysberg geskryf. Ons het dit in Spaans geleer en dra dit saam voor terwyl ons soggens oefeninge doen. (Ons noem dit grappenderwys ons “paringsritueel”, want ons doen die oefeninge teenoor mekaar, soos in ’n spieëlbeeld van mekaar.) Marius het die beeld van ons liefdes-ysberg herdoop na “Wie sal my kan sê hoe díép die liefde lê”.
Spies, skild.
In ’n Chinese verhaal van drie eeue voor Christus probeer ’n man ’n spies en skild verkoop. Mense vra hom hoe sterk sy spies is. “Dit kan enige skild deurboor,” is die antwoord. Nou wil hulle weet hoe sterk sy skild is, en hy sê dit kan alle spiesaanvalle weerstaan. “Wat sal dan gebeur as hierdie spies hierdie skild tref?” vra iemand. Daarop het die man geen antwoord nie.
Terloops: Die Chinese woord vir paradoks het uit hierdie storie ontstaan. Letterlik vertaal, is dit “spies-skild”.
Boekbesonderhede
» read article
by Carolyn on May 9th, 2012

Uitspraak: wortel
“Johannes Garries kyk na die Swart Karoo. Dis sy wêreld. Die ongenadiglike wildernis wat hy liefhet. Donkiekarretjies met ’n gedeelte van die familie op pad. Asook drie skape, ’n hoenderhok met twee henne en ’n haan op die flap van die karretjie. Hy het skielik sy armoede en die wildernis lief.”
Só skryf Etienne Leroux in Onse Hymie (1982). Die aanhaling bo verskyn ook in prof. Michael de Jongh se boek oor die Karretjiemense, Roots and Routes.
Boekbesonderhede
» read article
by Carolyn on May 8th, 2012

Uitspraak: wortel
Kort ná Tom Gouws se bekroonde bundel Ligloop (2010) verskyn Stigmata (2012). Oppervlakkig gesproke lyk dit of die beklemtoning van die lig nou plekmaak vir ‘n visie op die donker; asof die bundel die beginsel van verwonding, en veral tekens of manifestasies daarvan, aan die orde stel en die digter daarmee ‘n somber terrein betree. Maar is dit so, en hoe pak Gouws dit aan?
Eerstens is die digter klaarblyklik sterk onder die indruk daarvan dat hy tekste skep tussen, uit en saam met ‘n magdom van geskrewe en ander tekste. Deur die motto’s wat dikwels die verse vergesel, sowel as deur verwysings binne die gedigte, sit hy die ketting van optekening voort om die idee van ‘n gelaagdheid van tekste oor te dra en die nuutgeskepte poësieteks in ‘n breër perspektief te plaas. Die leser word nie slegs gekonfronteer met ʼn enkele stuk weefwerk, selfs die enkele draad van Gouws se hand nie, maar gedwing om wyer en dieper te kyk – na ‘n oneindige of tapisserie, ʼn web waarin verskillende weefsels meespeel om dimensie aan die nuwe teks te gee. Lesers weet al dat dit ‘n kenmerk van hedendaagse tekste is en dat die postmodernisme so ‘n veelheid en verweefdheid sanksioneer omdat dit die kompleksiteit van dinge onder die aandag bring. Hierdie benadering van hibriditeit, vermenging en veelheid is die keersy van die eenvoudige en gestroopte siening, aanbieding of gedig, en ʼn enkelvoudige kyk op sake. Vir Gouws gaan dit hier om die web en die wonder daarvan; dit is wat hy wil sigbaar maak.
Boekbesonderhede
» read article