Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Vyf kinder- en jeugboeke om vandeesmaand te verslind

Die rooikop, die leeu en die handgranaat
Annelie Ferreira

Adele was nog altyd versot op kuns. Dit was haar díng. Maar sedert die begin van die jaar kry sy skielik vrot punte. Dalk hou die nuwe kunsjuffrou nie van haar nie. Hoekom sukkel sy so met haar selfportret vir die volgende klasprojek? Is dit omdat sy haar bos rooi hare en kurwes so verwens?

Die afgelope tyd voel dit buitendien of ’n groot hand haar wêreld gevat en geskud het. Soos daai ou bordspeletjies wat hulle kleintyd saamgevat het op vakansies. Iemand stamp per ongeluk net liggies aan die Slangetjies-en-Leertjies en al die knope en dobbelsteentjies is deurmekaar, en niemand het meer ’n cooking clue of hulle naby die einde of die begin is nie.

En dit alles begin die middag toe sy van die skool af stap en ’n leeu in hulle tuin ontdek …

Annelie Ferreira het al twee maal die Sanlamprys vir Jeuglektuur gewen. Sy skroom nie om moeilike onderwerpe aan te raak nie. Hierdie nuwe jeugverhaal uit haar pen is ’n holderstebolder wipwarit vol humor, romanse, aksie en avontuur.

Dromers
Fanie Viljoen

Dans is Byron Carelse se hele lewe. Dit is sy energie, sy passie, sy geluk … sy vonk. Wanneer die ritme sy lyf beetkry, vergeet hy van die probleme wat by die huis op hom wag.
Sy beste vriendin, Tasha, sê altyd hy moenie toelaat dat ander mense sy vonk steel nie. Maar sy weet nie van die dinge wat by sy huis gebeur nie. En dalk is dit beter so. Wat sal sy van hom dink?

Op ’n dag sien iemand Byron se talent raak. Hy kry saam met ’n groepie ander township-kinders die kans om deel te wees van ’n glansryke vertoning by die kunstefees. Die kans om groot drome te droom … groter as die township waar hy bly. Maar wat doen jy as die lewe jou drome probeer steel?

Hierdie splinternuwe jeugroman uit die pen van Fanie Viljoen is in eenvoudige, maklik verstaanbare taal geskryf – perfek vir trae lesers of lesers wie se tweede of derde taal Afrikaans is.


Hoezit 12: Die wonderwêreld van vreemde diere

Waar sal jy vlieënde paddas kry?

Watter soort bok het tande soos Dracula?

Watter diertjie kan kilometers onder die see en selfs in die buitenste ruimte oorleef?

Waar sal jy ’n verkleurmannetjie kry wat so groot soos ’n kat is?

Ontdek van die vreemdste diere op ons planeet met hierdie boek propvol prettige feite en aktiwiteite! Met 48 bladsye vol prettige feite, volkleurfoto’s en hope aktiwiteite, speletjies en kopkrappers waarmee jy die wonderwêreld van vreemde diere kan verken, is hierdie boek gewaarborg om jong feitevrate se tone te laat omkrul van lekkerkry!

Maak van naderby kennis met vampiervlermuise, ietermago’s en tapirs – en verstom jou aan van die eienaardigste diere wat jy ooit gesien het! Die temas en aktiwiteite maak hierdie reeks boeke die perfekte hulpbron vir skoolprojekte en sal sorg vir ure se prettige vermaak by die huis.

Lana en Rakker 3: Speeltyd vir Rakker
Holly Webb

Die skool se sportdag is om die draai en Lana is bekommerd sy gaan heel laaste in elke enkele item kom. Maar dan kry sy ’n briljante idee: Sy kan saam met Rakker begin oefen om lekker fiks te word!
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

Lana en Rakker 4: Die pajamapartytjie

Holly Webb

Dit is amper Lana se verjaardag, en sy beplan ’n pajamapartytjie. Maar dan erken Lana se nuwe maat, Lisa, dat sy bang is vir honde. En in Lana-hulle se huis is daar geen wegkomkans van die spelerige Rakker nie.
 
 
 
 
 
 
 
 
Boekbesonderhede

Twee verruklike deegdisse uit Theresa de Vries se Deeg

Deeg is die enigste boek oor deeg wat jy ooit nodig sal kry!

Alle soorte deeg om terte of pasteie te maak word bespreek – broskors, blaarkors, skilferkors, warmwaterkors, fillo en strudeldeeg, ook die gewilde Marokkaanse ouarkadeeg.

’n Besonderse boek wat al die kunsies van deeg fynkam: bestanddele, toerusting, basiese beginsels en puik resepte.

Deeg dek ook algemene foute wat by deeg kan voorkom en die oorsake daarvan. En om die terte of pasteie te laat pronk gee Theresa wonderlike aanwysings oor hoe om dit alles te versier.

Word ’n bobaas bakker met hierdie boek wat selfs intimiderende deegresepte maklik maak.

Hier is twee verruklike deegdisse – een vir die vleisliefhebbers én die met ‘n soettand!
 

Springbok Wellington

 

Lewer 4 porsies

DEEG
1/2. x resep Blaarkorsdeeg (sien bl. 76)
1 eiergeel vir bo-oor verf

VULSEL
500 g sampioene, skoongemaak en in skyfies gesny
90 ml olyfolie
200 g spinasie, stingels verwyder
1 stuk Springbok-rugfilet (sowat
25 cm lank) of beesfilet sout en peper na smaak
25 ml aangemaakte mosterd
Hanepoot-jagtersous
1 ui, fyngekap
250 g sampioene, skoongevee en fyngekap
25 ml olyfolie
125 ml hanepoot-soetwyn
250 ml vleisaftreksel
125 ml room
50 ml fyngekapte pietersielie sout en peper na smaak

1. Vulsel: Braai sampioene in 40 ml olie tot gaar. Skep sampioene uit pan. Laat afkoel.

2. Dompel die spinasie in ’n kastrol met kokende water net tot dit verwelk. Skep spinasie met gaatjieslepel uit water en plaas oop op kombuispapier om te dreineer. Laat afkoel.

3. Plaas sampioene in ’n voedselverwerker en verwerk tot ’n pasta. Hou eenkant.

4. Geur die vleis met sout en peper. Smeer die vleis reg rondom met mosterd. Plaas in ’n vlak pan en braai in die 50 ml olie tot verse.l aan alle kante. Skep vleis uit die pan. Draai vleis styf toe met kleefplastiek en plaas vleisrol in yskas om heeltemal af te koel.

5. Voorverhit die oond tot 200 ÅãC. Smeer of spuit ’n bakplaat.

6. Deeg: Rol deeg uit in ’n vierkant van 30 cm – en 5 mm dik – op ’n meelbestrooide oppervlak.

7. Smeer die sampioenpasta in die middel van die deegvierkant – so breed soos die vleisrol is.

8. Versprei die spinasie eweredig oor die sampioenlaag.

9. Haal vleisrol uit yskas en verwyder kleefplastiek. Plaas die vleisrol op die spinasielaag. Rol die deeg styf op, soos vir ’n rolkoek. Plaas die deegrol op die bakplaat, met die naatkant na onder.

10. Rol orige deeg uit. Sny blaartjies of versierings uit en plaas op die deegrol. Verf deeg met eiergeel.

11. Bak deegrol vir 30-40 minute of tot goudbruin.

12. Sous: Braai die ui en sampioene in die olie tot sag en deurskynend. Voeg die wyn by en kook vir 2 minute tot die alkohol weggekook het.

13. Voeg die aftreksel en room by. Kook tot sous effens verdik.

14. Roer die pietersielie by. Geur met sout en peper en kook die sous deur.

15. Haal die deegrol uit die oond en sny in porsies. Sit voor met die sous.

 

Suurlemoen-en-grenadellablommetjies

 

 
Lewer 12 groot tertjies

Deeg
1 x resep Warmwaterkorsdeeg
(sien bl. 138)
eierwit vir bo-oor verf

Vulsel
250 ml water
200 g suiker
120 ml mielieblom
6 groot eiergele, geklits
125 ml vars suurlemoensap
1 blikkie (115 g) grenadellapulp
5 ml gerasperde suurlemoenskil
100 ml suurroom
30 ml botter, in blokkies gesny

Meringue
4 eierwitte
2,5 ml kremetart
80 ml witsuiker
45 ml versiersuiker

1. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer of spuit 12 holtes van ’n groot muffinpan.

2. Deeg: Rol louwarm deeg uit tot 3 mm dik op ’n meelbestrooide oppervlak. Druk 12 groot blompatrone met ’n koekiedrukker uit die deeg. Voer holtes van die muffi npan met deegpatrone uit. Sny die kante netjies en prik die deeg met ’n vurk. Bak blind vir 15 minute (sien metode, bl. 13).

3. Haal uit oond, verwyder waspapier en verf eierwit oor die boom van die deeg. Plaas vir nog 5 minute in die oond.

4. Vulsel: Plaas die water, suiker en mielieblom in ’n kastrol.

5. Voeg die eiergele en suurlemoensap by en verhit oor lae hitte. Roer en bring tot kookpunt. Laat kook tot verdik.

6. Voeg die grenadellapulp en suurlemoenskil by die suikermengsel.

7. Roer die botter en suurroom by. Verwyder van hitte. Plaas ’n vel kleefplastiek direk bo-op die vulsel. Laat afkoel.

8. Meringue: Klits die eierwitte en kremetart tot skuimerig en wit.

9. Klits die suiker en versiersuiker stadig by en klits aanhoudend tot dik.

10. Verwyder kleefplastiek en verdeel die vulsel tussen die voorbereide korse.

11. Skep meringue in die spuitsak en spuit klein rosies op die vulsel. Sprinkel die klapper oor.

12. Bak tertjies vir 20 minute of tot die meringue verkleur.

Wenk
Klein blommetjies: Die tertjies kan ook in 2 klein muffinpanne gemaak word om 24 klein tertjies te lewer. Druk 24 kleiner blompatrone met ’n koekiedrukker uit die uitgerolde deeg, voer die 24 muffinholtes daarmee uit en bak en berei soos beskryf.

Deeg

Boekbesonderhede

"Ek hoop die digkuns sal ’n soektog vir my bly" - Johan Myburg by die bekendstelling van Uittogboek

Die bekendstelling van die gerekende skrywer, joernalis en kunskritikus, Johan Myburg, se nuwe digbundel Uittogboek het onlangs by Love Books, Johannesburg plaasgevind.

Johan was in gesprek met Bibi Slippers, wie se debuutbundel, Fotostaatmasjien, vroeër vanjaar met die 2017 UJ-debuutprys bekroon is.

Die gesprek is ingewy deur ‘n vinnige inleiding van dié twee gedugte woordsmouse se kennismaking met mekaar: Johan het vir Bibi haar eerste werk aangebied toe sy destyds ‘n kunsstudent was.

Hy was opsoek na die ‘vlinkste, slimste’ student in haar klas om Beeld se kunsblaaie te behartig – “Ongelukkig het daardie persoon tragies gesterf,” het Bibi geskerts.

Die gehoor het dié uitlating terdeë geniet…

Bibi wou eerstens graag by Johan weet waar en wanneer die digkuns hom gevind het. “Ek weet nie of dit my al gevind het nie … ek hoop dit sal ‘n soektog bly,” het Johan peisend geantwoord.

Hy het wel bygevoeg dat hy van skool af ‘n voorliefde vir lees koester en Van Wyk Louw ‘n noemenswaardige invloed op sy skryfkuns gehad het.
 

Die gehoor is deur die loop van die aand bederf met voorlesings uit Uittogboek. Menigte van die gedigte wat in die bundel verskyn is beïnvloed deur klassieke geskiedenis, die liefde, die dood, reistogte, en ja, selfs hadedas maak ‘n verskyning!

Johan Myburg lees sy gedig “Jozi” voor

 
 
Een van die die “perks” van joernalis wees, voer Bibi aan, is om ‘n “behind the scenes” blik op dinge te kry. Dié dat sy bewus is van die oorspronklike titel van Uittogboek, naamlik “Fremdkörper”. Hierdie Duitse woord kan vertaal word as “foreign body” of “vreemde liggaam”.

Johan se uitgewers by Protea het hom oorreed om die titel te verander aangesien boekhandelaars en lesers gaan sukkel om ‘n boek met hierdie indrukwekkende titel a) te kan uitspreek en b) te kan opspoor.

“Dink jy mense sou die boek anders benader het met die aanvanklik titel?” wou Bibi toe weet.

“Ja,” het Johan na ‘n ruk geantwoord, “maar ek is nie spyt oor die uitgewers se keuse nie.”

Uittogboek is deurtrek met Latynse aanhalings – ‘n taal waaraan Johan op skool bekendgestel is – as ook verwysings na die grootse keiser Hadrianus. Johan het wel bygevoeg dat hy nie glo daar bestaan iets soos ‘n vertaling nie. “Jy skryf iets oor in ‘n ander taal.”

Johan het ‘n biografie van Hadrianus gelees, wat hom laat nadink het oor sterflikheid. Hy is van mening dat biograwe die enigste werklike onsterflikes is, aangesien hulle werke vir jare nog gelees word en die mens oor wie hulle skryf dus in ewigheid vasgevang word.

Die onderwerp van liefdesgedigte het volgende opgeduik, met Bibi wat nuuskierig was oor die invalshoek wat gebruik word met die skryf van ‘n liefdesgedig.

Dit is juis nie die aanwesigheid van ‘n geliefde wat die skryf van ‘n liefdesgedig aanspoor nie, maar die afwesigheid, het Johan besin.

Alhoewel ‘n deurlopende tema van Uittogboek die dood is, het Bibi genoem hoe sy onkant gevang is deur die humoristiese wyse waarop Johan oor verganklikheid skryf.

Johan het geantwoord dat die lewe eintlik as ‘n reistog beskou moet word; iets om te vier en werklik uit te leef. Ons moenie die dood as ‘n treurige affêre beskou nie, maar liewers Lewe (met ‘n hofletter ‘l’) voluit aanpak.

Daar het julle dit.

 

Uittogboek

Boekbesonderhede

"Die Anglo-Boereoorlog was almal se oorlog" - Fransjohan Pretorius bespreek die heruitgawe van Verskroeide Aarde

Die Britse beleid van “verskroeide aarde” en konsentrasiekampe tydens die Anglo-Boereoorlog het bitter herinneringe en trauma veroorsaak wat dekades ná die oorlog steeds by Suid-Afrikaners spook.

In dié nuut opgedateerde uitgawe van ’n topverkoper gee vooraanstaande historici ’n vars en sober blik op hierdie hoogs omstrede aspek van die oorlog. Dié vokleurboek verken die perspektiewe wat ná meer as 100 jaar moontlik is, en bring nuwe insigte oor een van die mees omstrede aspekte van die oorlog. Die inleding as ook die slothoofstuk is ook heeltemal nuut.

Hier bespreek die redakteur van die heruitgawe en skrywer van die eerste uitgawe van Verskroeide Aarde, Fransjohan Pretorius, die inhoud van die boek en nalatenskap van die oorlog.

Wat het jou aangespoor om ’n ‘nuwe’ weergawe van Verskroeide Aarde te skryf?

Belangstelling in die Anglo-Boereoorlog het sedert die 100-jarige herdenking daarvan en die verskyning van die eerste uitgawe van Verskroeide Aarde in 2001 nie afgeneem nie, maar inderdaad toegeneem! Jy sien dit in die publikasie van talle historiese romans (waarvan PG du Plessis se Fees van die Ongenooides sekerlik die hoogtepunt is) en geskiedenisboeke oor die konsentrasiekampe (soos Die oorlog kom huis toe van Grundlingh en Nasson) en oor persoonlikhede (soos Elsabé Brits se boek oor Emily Hobhouse, Geliefde Verraaier). Verder het ek sedert die eerste uitgawe van Verskroeide Aarde blitsvinnig uitverkoop is, oor die jare talle navrae van die publiek gekry oor waar hulle die boek in die hande kan kry. En natuurlik is daar nuwe temas wat aandag moes kry.

Boere in die Magersfontein-loopgrawe op die westerse front. Na aanloop van hierdie bekende stryd is die loopgrawe dieper gegrawe. Die skadutent het verligting gebied teen die somerhitte van 1899-1902.

 
 
Hoe het die navorsingsproses verskil met dié van die ‘oorspronklike’ Verskroeide Aarde?

Maryna Lamprecht, Tafelberg se redakteur van die boek, en ek het dankbaar van Etna Labuschagne van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein se hulp gebruik gemaak, en twee dae daar deurgebring om goeie en nuwe foto’s uit te kies. Daar is meer as 260 foto’s en illustrasies in die boek, waarvan bykans 160 nuut is of nie in die 2001-uitgawe was nie. Daarbenewens is daar oor die vyftig kleurfoto’s by, en saam met die pragtige uitleg en goeie gehalte papier, het ons hier ’n absolute wenner.

Ek het my as redakteur veroorloof om nuwe aspekte in kassies by te voeg, soos oor die kinders se doen en late in die konsentrasiekampe, ’n besinning oor Britse en Europese propaganda oor die kampe, soos die Lizzie van Zyl-geval, sterftegetalle van sowel wit mense as swart mense, en so meer.

Britese troepe onder beheer van Maj.- Gen. R.A.P. Clements marsjeer in Colesberg in op 28 Februarie 1900, na drie-en-’n-half maande van Boerebewind.

 

Die herbesinning van die sogenaamde Anglo-Boereoorlog speel deesdae ’n groot rol in ons verstaan van die oorlog en land se geskiedenis. Kan jy bietjie uitbrei oor die ‘hedendaagse’ kennis wat ons oor die oorlog het? (Onder meer die rol wat swart Suid-Afrikaners in die oorlog gespeel het.)

Dit wat in akademiese werke oor die Anglo-Boereoorlog verskyn, neem ’n tydjie om by die publiek inslag te vind. Wat vir een leser nuut is, is vir ’n ander leser reeds bekende geskiedenis. Omdat skoolsillabusse deesdae die struggle geskiedenis voorop stel, het jong lesers nie dieselfde verwysingsraamwerk oor die Anglo-Boereoorlog as hul ouers of grootouers nie. Hierdie boek kan daardie leemte hopelik help vul.

Historici skryf al meer as veertig jaar oor swart betrokkenheid in die Anglo-Boereoorlog, en nogtans is swart mense se rol in die oorlog by baie lesers nie bekend nie. In die eerste plek was dit ’n oorlog tussen Brittanje en die Boererepublieke, maar swart mense is net soveel soos wit mense (Afrikaners) deur die oorlog geraak, en was gewapende swart mans in die Britse leër en swart groepe wat in die guerrillafase op die plase rondgeswerf en geplunder het, ’n groot bedreiging vir die Boerekommando’s en die Boerevroue en hul kinders wat in die veld weggekruip het. Ons moet egter daarteen waak dat ons die pendulum nie volkome na die ander kant laat swaai en dit voorstel asof swart mense die enigstes wat by die oorlog betrokke was en as gevolg van die oorlog gely het nie.

Brittanje se besluit met die vredesvoorwaardes om nie die beperkte stemreg vir swart mans van die Kaapkolonie na die verslane republieke uit te brei nie, moet egter begryp word, want dit het ’n wesenlike invloed op die swart struggle geskiedenis van die 20ste eeu gehad.

’n Boer-woonhuis wat sopas opgeblaas en afgebrand is. Wat gaan deur die Britse soldaat se gedagtes soos hy sy perd van die toneel weglei?

 
 
Verwag jy dat die boek kritiek van ‘stoere Anglo-Boereoorlog-voorstanders’ gaan ontlok, of ’n bydrae gaan lewer tot die gesprek wat tans oor die werklike aard en die betrokke partye van die oorlog gevoer word?

Geen geskiedenisboek kan kritiek vryspring nie. As jy met ‘stoere Anglo-Boereoorlog-voorstanders’ bedoel mense wat slegs belangstel in wat met die Boere gebeur het, sal daar sekerlik kritiek wees. Maar ook vir sulke denkrigtings is daar hopelik genoeg waarmee hulle hul kan vereenselwig. Benewens die Boer-Brit-stryd wat aandag moet kry, moet ons egter besef die Anglo-Boereoorlog was almal in Suid-Afrika se oorlog, wat almal op een of ander manier geraak het. Ons het drie hoofstukke oor swart konsentrasiekampe en betrokkenheid en ervarings in die oorlog – neem jy dit weg, verskraal jy die geskiedenis van die oorlog.

Uiteraard vertrou ek dat die boek ’n bydrae tot die gesprek oor die werklike aard en die betrokke partye van die oorlog sal lewer. Moet net nie die Britte en die Boere uit die oorlog haal nie.

Dooie Britse soldate in die vlak loopgrafte wat haastig gegrawe is naby die kruin van Spioenkop net voor die stryd op die oggend van 24 Januarie 1900. Die lyke is daarna met wit klippe bedek wat vandag nog sigbaar is.

 
Hoort ons nog steeds na die oorlog as die ‘Anglo-Boereoorlog’ te verwys? Dink jy die ‘Suid-Afrikaanse oorlog’ sal ooit in ons woordeskat begin verskyn? (Hetsy deur middel van kinders wat dit op skool geleer word, of ’n groter gebruik daarvan in algemene diskoers/gesprekke?)

Shakespeare het gevra wat is in ’n naam, maar hy is nie heeltemal reg nie. Rondom die name Anglo-Boereoorlog, Tweede Vryheidsoorlog, Boereoorlog, Engelse Oorlog en Suid-Afrikaanse Oorlog, is daar baie emosie. Geen benaming is werklik bevredigend nie. Persoonlik gebruik ek meestal Anglo-Boereoorlog, want die stryd was amptelik tussen Brittanje en die Boererepublieke. Die probleem daarmee is egter dit dui slegs op ’n stryd tussen die Engelse en die Boere, terwyl daar Skotte, Iere, Walliesers, Australiërs, Nieu-Seelanders, Kanadese en swart mense aan Britse kant betrokke was. Boonop is swart burgerlikes deur die oorlog geraak. Die benaming Suid-Afrikaanse Oorlog gee ’n aanduiding dat almal in Suid-Afrika betrokke was of daardeur geraak is, maar dit verwys nie na Brittanje nie – en feitlik alle historici stem saam dat Brittanje die grootste aandeel aan die oorsake van die oorlog gehad het (en in elk geval dat hulle hier geveg het!). Die Viëtnamese praat nie van die Viëtnamese Oorlog nie, waarom dan die Suid-Afrikaanse Oorlog? Maar, op skool is dit Suid-Afrikaanse Oorlog, en wie weet, oor ’n geslag of twee is die benaming Anglo-Boereoorlog dalk vergete. Dit hang af of die ouer garde hul boodskap by die jongeres gaan tuisbring. En dis waarvoor Verskroeide Aarde nuttig gaan wees.

Een van die mees roerende beelde van die oorlog. Die lyk van die drie-jarige Japie Berg van die Bloemfonteinkamp buite die tent waar hy dood is.

 
 
Verskroeide Aarde

Boekbesonderhede

Filmverwerking van Jaco Jacobs-roman begin binnekort speel

Oor 'n motorfiets, 'n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word
“My naam is Martin Retief. Ek is dertien jaar, elf maande en twaalf dae oud. My ma noem my Martin, maar almal by die skool noem my Hoender. Ek hou daarvan om dinge te tel.”

Hoender Retief se hele lewe verander een middag toe sy pa op pad huis toe by ’n winkel stilhou om ’n snoek te koop.

En terwyl sy gesin probeer om hul verlies te verwerk, versorg hy sy Leghorn-hoenders, verkoop eiers aan die mense op die plotte en doen saans wiskunde as hy sukkel om te slaap. Maar op ’n dag ontmoet Hoender vir Drikus. Drikus wat aan ’n siekte ly wat na iemand vernoem is. Drikus wat daarvan droom om sy eie zombiefliek te maak.

Wat volg, is ’n avontuur vol skouhoenders, skelms, mooi meisies, wiskunde, kammabloed en zombies.

’n Hartroerende en dikwels humoristiese grootwordverhaal wat ’n ongewone blik bied op gesinne, vriendskap, die hantering van verlies … en langdeelsomme.

Die film Nul is nie niks nie, gegrond op Oor ‘n motorfiets, ‘n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word begin eersdagaags in teaters draai.

Fliekvlooie en boekliefhebbers kan hulle vanaf 7 Julie bioskoop toe wend om dié rolprent, waarvan Morné du Toit die regie behartig, te kyk.

Klik hier om jou kyk-lus met die voorprent aan te wakker.

Boekbesonderhede

Nie vir Ma's Nie is dié resepteboek vir pa en die telge

Met dié boek word ma’s tydelik uit die kombuis verban, want jou wederhelf en kinders is van plan om jou te bederf met heerlike kos wat hulle sonder hulp of te veel moeite kan voorberei.

Nie vir Ma’s Nie se resepte is maklik, beproef en het stap-vir-stap aanwysings wat enige groentjie gemaklik sal laat in die kombuis.

Die boek verskaf ook die nodige omskakelingstabelle en wenke en laat kinders toe om meer te leer oor die doel van kombuistoerusting. Buiten heerlike resepte, is daar ook ’n hele hoop wenke wat kosmaak sommer kinderspeletjies maak.

Komaan, pa! Jy en die telge kan!

Daar is heerlike idees vir ontbyte, ligte etes, voorgeregte, kitskos, aandetes, bykosse, braaidisse, nageregte, teetyd-versnaperinge en smulgoed vir smulpape.

 
 

Boekbesonderhede