by Amanda on 16 May 2012
Louise Westerhout moes nadat kanker in haar linkerdybeen gediagnoseer is ‘n prostese kry en van voor af begin loop. Vandag is die kanker in remissie en het sy pas ‘n kookboek met gesonde gesinskos, Cook Eat Love Grow, die lig laat sien.
Annelize Visser het met Westerhout gesels oor hierdie nuwe hoofstuk in haar lewe:
Sy moet mooi loop. Sit sy ’n voet verkeerd, kan sy val en dan gaan die trane rol en die nagmerrie van voor af begin.
Toe sake begin skeefloop het vir Louise Westerhout vroeg in 2008, was die mooi vrou met die kort donkerrooi hare en fyn sproete skuins voor 40 en pas geskei van haar Sweedse man. Terwyl sy haar balans as enkelma probeer herwin het, was kanker besig om haar linkerdybeen stil-stil weg te vreet. Teen die tyd dat sy met stadium 4-limfoom gediagnoseer is, was dit te laat om haar knie te red. ’n Week later is dit vervang deur ’n mega-prostese, ’n tegnologiese wonder van titanium waarmee sy van voor af moes leer loop.
Boekbesonderhede
by Chris on 16 May 2012
Willie Esterhuyse bewaar steeds die notatjie wat Thabo Mbeki tydens ‘n geheime ontmoeting in 1989 in Londen aan hom oorhandig het.
“Wat ook vir my fantasties was, en ek raak daaroor wel ’n bietjie sentimenteel, is hy skryf toe vir my in Afrikaans,” het Esterhuyse aan Murray la Vita gesê tydens ‘n onderhoud oor sy boek Eindstryd: Geheime gesprekke en die einde van Apartheid.
Esterhuyse was een van die lede van die Afrikaanse “binnekring” wat op versoek van die Nasionale Intelligensiediens geheime gesprekke met ANC-leiers gevoer het, as voorloper tot die onderhandelinge wat tot die nuwe Suid-Afrika gelei het:
’n Oproep uit Pretoria het ’n Stellenbosse filosoof se lewe, en die koers van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, onherroeplik verander.
Prof. Willie Esterhuyse staan in sy studeerkamer met ’n wit plastiekroomysbak in die hand.
Daaruit haal hy twee stukke papier. Een is ’n A4-groot gelinieerde vel aan albei kante gevul met woorde in swart ink. Dit is sy handskrif.
Lees uittreksels uit Eindstryd waarin Esterhuyse onder meer beskryf hoe Winnie Mandela op ‘n vliegtuig met NP-minister Kobie Coetsee gaan gesels het, waarna hy besluit het om Nelson Mandela in die hospitaal te gaan besoek:
Dis een van die groot historiese ironieë van Suid-Afrika se oorgangsproses na ’n inklusiewe demokrasie: Die vurige en charismatiese Winnie Mandela, toe nog die vrou van die politieke gevangene Nelson Mandela, gooi ’n tou uit na die NP-minister Kobie Coetsee, ’n gebeurtenis wat eindelik sou lei tot Mandela se ontmoeting met P.W. Botha in Tuynhuys, Kaapstad, op 5 Julie 1989.
Winnie Mandela, op pad om haar man in die hospitaal te gaan besoek (Mandela is in November 1985 in die Volkshospitaal in Kaapstad opgeneem vir ’n prostaatoperasie), was op dieselfde vliegtuig as Kobie Coetsee, wat by Jimmy Kruger as minister van justisie, polisie en gevangenisse oorgeneem het. (Kruger het Winnie Mandela in 1977 na Brandfort, ongeveer 60 kilometer vanaf Bloemfontein, verban.)
Boekbesonderhede
Foto te danke aan Beeld
by Carolyn on 16 May 2012

Uitspraak: wortel
Die titel en die kragtige bandontwerp (’n kunswerk deur Christiaan Diedericks, Death of the Inside Warrior) roep die aflegging van aspekte van die self op.
In “Skielik skemer” word die titel van toepassing gemaak op die digter John Berryman, wat in 1972 selfmoord gepleeg het, maar dit word deurgetrek met betrekking tot die liriese spreker in verskeie verse en van toepassing gemaak op die korpus van De Lange se vorige bundels.
Boekbesonderhede
by André Pretorius on 16 May 2012
Tydens ‘n reis na Spanje het ek die stad Granada besoek, wat ‘n groot invloed op Federico Garcia Lorca se digkuns gehad het. Ek het ook ‘n draai gemaak by die Cap de Creus-skiereiland waar Lorca by sy goeie vriend Salvador Dali gaan kuier het.
In die onderstaande artikel vir Versindaba ondersoek ek die manier waarop Lorca se leefwêreld in sy werk neerslag gevind het:
Die kuspad hierlangs heet die Camino de Ronda. Dit eggo met herinneringe aan smokkelary – ‘n voetpad langs die baaitjies en oor die naakte heuwels van die Cap de Creus-skiereiland, waar die uitlopers van die Pireneë hulleself in die Middellandse See verloor.
In die see-inhammetjie van Port Lligat staan Salvador Dali se fantasie van saamgeflanste vissershuisies. In die eertydse vissersdorpie van Cadaqués maak elke hotel en drinkplek aanspraak op ‘n Dali-eggo, want Cadaqués was ‘n muse vir Surrealisme, Kubisme, Dali, Pablo Picasso, Georges Braque en vele ander.
Boekbesonderhede
Foto te danke aan Poesiae Letteratura
by Izak on 16 May 2012
Cas Vos het die gedig “Uitkyk” geskryf ná ‘n gesprek met sy goeie vriend Gerben Heitink wat kort tevore sy seun in ‘n valskermspringongeluk verloor het. Vos en Heitink het oor die misterie van lewe en dood gesels en die filosofie van Charles Taylor bespreek.
Vos vertel in ‘n onderhoud op Versindaba dat hy Taylor se siening van ‘n “poreuse wêreldbeeld” in die gedig “Uitkyk” gebruik het, wat in sy nuutste bundel, Weerloos lewe, opgeneem is:
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit gaan om twee lewens- en wêreldbeskouings wat mekaar nie hoef uit te sluit nie. Behalwe as die geslote beskouing geen voorsiening vir die poreuse beskouing laat nie. ʼn Geslote lewens- en wêreldbeskouing berus onder andere op die filosofie van René Descartes, Karl Popper, Jürgen Habermas (die rede), John Locke en David Hume (die empiriese, dit wat ʼn mens kan waarneem), Friedrich Nietszche (die nihilisme) en Jacques Derrida (dekonstruksie). In dié siening is alles “dig”. Selfs god bly doodgerus op die solder van vergetelheid. En daar vergaar net stof van die laaste dae.
Boekbesonderhede
by Carolyn on 16 May 2012

Uitspraak: wortel
Die kamer langsaan is ‘n besondere roman wat ligvoets tussen erns en luim, tussen die tragiese en die romantiese beweeg. Dit sorg vir afwisseling en balans in die leser se ervaring. In die hoofkarakter is dieselfde tweeledigheid te bespeur. Sy wissel tussen speelse sensualiteit en diep hartseer, met ‘n gesonde skoot woede en opstand tussenin. Sy is ‘n karakter waarmee ‘n mens kan identifiseer, iemand wat jy graag sou wou ken.
Die verhaal binne ‘n verhaal herinner ‘n mens aan Eleanor Baker se Verbeelde werklikheid, een van my groot gunstelinge. Die hoofkarakter beleef haar eie verhaal terwyl sy dié van ‘n ander karakter opteken. En uiteindelik word verbeelding en werklikheid so inmekaar gevleg dat die leser nie meer heeltemal seker is waar die een ophou of die ander begin nie.
Boekbesonderhede