Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Die intrige loop hoog in Chris Marnewick se nuutste aflewering - die regsdrama, Redelike twyfel

Manon Viljoen is ’n jong advokaat en ywerige motorfietsryer. Sy word ingeroep om as amicus curiae die regter by te staan in ’n moordsaak om ’n regverdige uitspraak te lewer.

Die beskuldigde is Charles Mouton, ’n suksesvolle senior advokaat wat een oggend wakker word langs die bebloede lyk van sy vrou en van haar moord aangekla word. Hy weet nie wat gebeur het nie. Of so beweer hy. Hy weier om aan die verhoor deel te neem omdat hy glo die hof moet die waarheid soek.

Dit val dus op Manon se skouers om die waarheid te soek en voor die hof te lê.

Manon se aanstelling word bemoeilik deur die feit dat sy en regter Nantes Castel ’n geskiedenis het. Die verhoor loop allerande draaie terwyl Manon na redelike twyfel soek en terselfdertyd haar gevoelens vir Nantes bevraagteken. Stel hy nog belang, of terg hy haar sommer net?

Vind Manon die waarheid waarna sy soek ‒ oor die identiteit van die moordenaar en ook oor Nantes se gevoelens vir haar? Of is daar redelike twyfel?

Chris Marnewick het as senior advokaat afgetree en bly nou in Nieu-Seeland. Shepherds & Butchers was sy eerste roman en hy het op die kortlys verskyn van die M-Net Litêrere toekennings en die Sunday Times-toekennings en het die K Sello Duiker-prys gewen. Dit het in 2016 verskyn as In die laksman se skoot. Hy is ook die skrywer van Engelse titels The soldier who said No (2010), A Sailor’s Honour (2011) en die roman Clarence van Buuren: Knew the Words, but not the Music (2012) wat deur Protea Boekhuis gepubliseer is met die Afrikaanse vertaling daarvan Clarence van Buuren: Die man agter die donkerbril wat ’n jaar later verskyn.

Boekbesonderhede

My Eerste Woordeboek: Afrikaans, Engels, Noord-Sotho, Zoeloe is ’n moet-hê-boek vir elke gesin se boekrak!


Dit is ’n vrolike, prettige eerste woordeboek vol kleurryke illustrasies. Kinders sal hope pret hê en basiese woordeskat in vier van Suid-Afrika se amptelike tale aanleer terwyl hulle hierdie boek speel-speel verken. Maklike woord-prent-assosiasies word in Afrikaans, Engels, Noord-Sotho en Zoeloe volgens verskillende temas gerangskik.

Van die temas sluit in: klere, kos, tuin, teenoorgesteldes, voëls, diere, skool, my liggaam en my familie.

Dit is ’n moet-hê-boek vir elke gesin se boekrak!

Hierdie teks volg op Maja se eerste samestelling, My eerste woordeboek: Afrikaans, Engels, Xhosa, Zoeloe. Dié teks is onlangs herdruk en is ook weer in die handel beskikbaar.

Maja Sereda is oorspronklik van Pole, maar het in 1989 na Suid-Afrika verhuis. Haar liefde vir die Suid-Afrikaanse tale het gemaak dat sy die twee woordeboeke saamgestel het vir japsnoete. Maja illustreer sedert 2007 kinderboeke en het reeds verskeie toekennings vir haar illustrasies ontvang. Haar werk is ook al in Frankryk uitgegee. Sy het ’n B.A.-graad in Inligtingsontwerp. Sy woon deesdae in Seattle, VSA, saam met haar gesin, maar behou kontak met Suid-Afrika. Maja hou daarvan om tyd in die natuur deur te bring en staproetes te verken. Haar ander passies is fotografie, heerlike kos, die aanleer van nuwe tale, poësie en keramiek.

Boekbesonderhede

Die Afrikaanse vertaling van Paulo Coelho se The Spy het sopas die rakke getref!

Toe Mata Hari in Parys aangekom het, was sy platsak. Kort daarna is sy gevier as die elegantste vrou in die stad.

As ’n danseres het sy gehore geskok en verruk, as ’n vertroueling en courtisane het sy die rykste en magtigste mans van haar era betower.

Maar paranoia as gevolg van die oorlog het Frankryk verteer, en Mata Hari se leefstyl het haar onder verdenking geplaas. In 1917 is sy gearresteer in haar hotelkamer aan die Champs-Élysées en van spioenasie aangekla.

Die Spioen is die onvergeetlike verhaal van ’n vrou wat dit gewaag het om die konvensies van haar tyd uit te daag en die prys daarvoor betaal het, soos vertel in Mata Hari se stem in haar finale brief.

OOR DIE OUTEUR
Paulo Coelho is in 1947 in Rio de Janeiro gebore. Hy is ’n topverkoper en een van die wêreld se mees invloedryke skrywers. Meer as 215 miljoen eksemplare van sy romans is al in meer as 170 lande verkoop en sy werk is in 81 tale vertaal. Besoek die skrywer aanlyn by www.paulocoelho.com.
 
 
“Hierdie Brasiliaanse towenaar laat boeke van die winkelrakke af verdwyn.”
New York Times

“[Coelho se] boeke gee nuwe betekenis aan miljoene mense se lewens.”
London Times

OOR DIE VERTALER
Kobus Geldenhuys het in 2015 die Elsabé Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur in Afrikaans ontvang vir Cressida Cowell se Hoe om jou draak te tem: Hoe om Drakonees te praat (Protea, 2014), en in 2016 is hy met die Alba Bouwerprys vir kinder- en jeugliteratuur bekroon vir sy vertaling van Michael Morpurgo se Hoekom die walvisse gekom het (Protea, 2015). Hy het by geleentheid ook Artes- en Safta-toekennings ontvang, en is verskeie kere benoem vir sy gesinchroniseerde vertalings van TV-reekse en animasiefilms vir die destydse SAUK-oorklankingsafdeling. Wanneer hy nie vertaal nie, skryf hy televisietekste vir Suid-Afrikaanse sepies en dramas soos Villa Rosa, Swartwater en Binnelanders.

Boekbesonderhede

Kristel Loots se Blom in die hare is ’n donker roman wat siniese vrae vra oor die samelewing se borrelgomidees van die liefde en die huwelik

Blom in die hare is ’n donker kragtoer.

Kaila is g’n Salomo nie, waarom moet sy nou keuses maak soos hy?

Die leser loop die pad met Kaila vanaf haar hoërskooljare tot Kaila se seun in die hoërskool is. Daar is mooi én bitter oomblikke op haar pad. Telkens is daar keuses wat opduik in die roman, maar uiteindelik, is daar een wat haar die seerste maak: Haar seun se meisie is swanger. Wie se kant moet sy kies? Die jong man met die pyn in sy oë, of die ongebore baba? Die ma van die ongebore baba is boonop die dogter van hóm wat sy heimlik gehoop het vir háár ’n bietjie plesier sou kon bied.

Kaila ken van verwerping. Sy is agterlaat deur ’n vreemde vrou en toe aangeneem deur ’n ewe wêreldvreemde vrou wat toe ook sommer eendag verdwyn het. Haar eerste liefde was haar Wiskunde-onnie, wat ook oornag verdwyn. Blom in die hare is ’n donker roman, een wat siniese vrae vra oor die samelewing se borrelgomidees van die liefde en die huwelik.

Tog: Die boek bied hoop. Die laaste bladsy in hierdie boek is ’n hoogtepunt, dit bring alles bymekaar en bring ’n enorme verligting aan die leser.

Loots krap op plekke waar ander nie wil nie. Juis daarom is daardie laaste bladsy so belangrik! Regdeur die boek is daar pragtige oomblikke, maar die liefde kan ook seermaak, dit word nooit ontken nie.

Kaila weet, o sy weet, ’n mens het meer nodig as ’n blom in jou hare om gelukkig te wees. Maar wat doen jy as jou aanneemma jou geleer het dat ’n blom jou enigste verweer teen die wêreld is?
Saam met Kaila leer die leser ook die bittersoet geheim van die blomme ken.

Blom in die hare is Kristel Loots op haar beste. Sy beskryf die leefwêreld van gewone vroue van verskillende ouderdomme en verskillende figure. Loots skryf met ontsettende patos, maar weet ook hoe om deurgaans humor te gebruik. Jy lag, jy lag, dan pink jy ’n traan saam met die karakters.

Hierdie doyenne van Afrikaanse vrouefiksie het al weggestap met ’n ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans, en met baie lesers se goedkeuring.

Boekbesonderhede

Die Vyfde Aspoester delf in die lewenslange invloed wat geweld (in al sy vorms) op die psige van ’n mens kan hê

Dié boek gaan jou in die maag skop.

Die vyfde Aspoester begin met ’n donkerkopmeisie wie se liggaam in ’n agteraf hotel in ’n Aspoester-uniform gevind word. Haar linkervoet se tone is afgesny sodat die voet in die glasskoen kon pas. Haar oë is netjies verwyder. Daarna is haar nekaar gekloof sodat sy kon doodbloei.

“Hoe sal jy voel as ek dieselfde met jóú dogter doen? Haar naam is mos Franci?” Dit is wat die elektronies vermomde stem vir doktor Olaf Demeyer, forensiese profileerder, vra terwyl hy die dossierfoto’s van die moordtoneel bestudeer.

“Hoekom sou jy dieselfde met my dogter wou doen?”

’n Koggellaggie klink op. “Dit is wat jy moet uitvind, Doktor. Kom ons kyk of jy werklik so baie vir verontregde vroue omgee soos wat die media beweer. En kom ons kyk of jy my betyds met jou agtste sintuig kan uitoorlê.”

Die lyke van nog drie meisies word binne ’n paar dae gevind. Olaf besef hy sal baie diep in sy eie donker profiel moet delf na die waarheid as hy wil verhoed dat sy enigste dogter die vyfde slagoffer van die Aspoestermoordenaar word.

Herinneringe aan sy traumatiese kinderjare, sy oordrewe skuldgevoelens en sy fobie vir lemme, maak nie sy taak vir hom ligter nie. Intussen voel hy hoe die uurglas baie vinnig vir Franci leeg loop.

Wat maak die boek anders? Die Vyfde Aspoester delf in die lewenslange invloed wat gesinsgeweld, asook geweld in die algemeen, op die psige van ’n mens kan hê. Dit ondersoek ook die invloed wat geweld teen vroue en kinders op die samelewing het. Kwessies soos pedofilie, geestesversteuring en seksverslawing word aangespreek teen die agtergrond van ’n reeks bisarre misdade waarin jong meisies grusaam vermink word voordat hulle sterf.

Jan Vermeulen publiseer sy eerste kortverhaal, Die Sneeuprins van Alaska, toe hy net veertien jaar oud is in 1976 in die destydse jeugtydskrif Patrys. Sy debuutroman van 1998, Die Laaste Dans, is ’n grensoorlogroman en haal die kortlys van die Eugene Marais-prys. Intussen rig hy ook stringe pryse in vir sy uitstekende jeugromans.

Boekbesonderhede

In Die pasiënt as vennoot skei die bekende dr. Dawie van Velden die kaf van die koring en gee praktiese raad om holistiese welsyn te bereik

Daar is soveel teenstrydige inligting beskikbaar oor watter dieet om te volg, hoeveel oefening om te doen, hoeveel water om te drink, watter medisyne om te neem, ensovoorts.

In Die pasiënt as vennoot skei die bekende dr. Dawie van Velden die kaf van die koring en gee praktiese raad om holistiese welsyn te bereik: wanneer die liggaam, siel en gees optimaal gesond is. In hierdie boek wys dr. Dawie hoe die pasiënt medeverantwoordelik is vir sy of haar eie gesondheid.

Dr. Dawie van Velden praktiseer in Pietersburg en Sabie waarna hy aansluit by die UOVS as Direkteur van die Studentegesondheidsdiens. In 1984 word hy aangestel as senior lektor aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy die Departement Huisartskunde vestig tot en met sy aftrede in 2003. Hy ontwikkel ’n belangstelling in sportgeneeskunde en holistiese gesondheidsorg en is betrokke by navorsing oor die gesondheidsvoordele van matige wynverbruik en die Mediterreense dieet.
 
 
Boekbesonderhede