Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

’n Keur uit die poësie van Michel Houellebecq is nou in Afrikaans beskikbaar

Tussen die abjekte en die eterieseTussen die abjekte en die eterieseTussen die abjekte en die eteriese

Michel Houellebecq, wie se poësie as melankolies, pynlik selfbewus en bytend satiries teenoor die lewe en die verbruikersamelewing beskryf kan word, is al die “Baudelaire van die supermark”, of “Baudelaire gekruis met Philip Larkin” genoem. Benewens die liriese en melancholiese aard van sy werk, is talle van die sy gedigte ook uiters kompleks weens die diep en ryk filosofies-teologiese en kosmologiese idees wat dit onderlê.

Ek het op die rivier gedobber
Naby die Italiaanse karnivore
In die oggend was die gras vars,
Ek het koers gekry na die goeie.

Die bloed van klein soogdiere
Is nodig vir balans,
Hul beendere en hul ingewande
Is die voorwaardes vir ’n vrye lewe.

’n Mens vind hul weer onder die gras,
Jy hoef net die oppervlak te krap
Die plantegroei is manjifiek,
Dis so kragtig soos die graf.

Ek het tussen die wolke gedryf
Absoluut desperaat
Tussen die hemel en die slagting,
Tussen die abjekte en die eteriese.

OOR DIE OUTEUR
Michel Houellebecq (gebore Michel Thomas), wat in 1956 op die Franse eiland Réunion gebore is, is ’n kontroversiële en veelbekroonde Franse romanskrywer en digter. Vir aanhangers herinner sy werk aan die tradisie van literêre provokasie soos gevind by Markies de Sade en Baudelaire terwyl kritici soms sy werk as aanstootlik en gemaak-skokkend afmaak. Hoewel Houellebecq sy grootste bekendheid (en berugtheid) met sy romans verwerf het, is dit in sy poësie waar die spanning tussen die verhewe (eteriese) en verwerplike (abjekte) ten diepste ondersoek word. Houellebecq is in 2010 met Frankryk se hoogste literêre toekenning, die Goncourt-prys, vereer vir sy roman La Carte et le Territoire (in Engels vertaal as The Map and the Territory).

OOR DIE VERTALER
Henning Pieterse was reeds as kind bekoor deur die verse en klanke van digters soos Thomas Elliot, Breyten Breytenbach en Lina Spies. Henning is vanaf die begin van 2016 professor in die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat. Al behaal hy in 1994 ’n doktorsgraad in taalkunde, is dit veral kreatiewe skryfkuns wat hom na aan die hart lê. Hy debuteer in 1989 as digter met die bundel Alruin wat bekroon word met die Eugène Marais- en Ingrid Jonkerprys. Hy publiseer verskeie akademiese artikels en resensies oor aspekte van die linguistiek, letterkunde en kreatiewe skryfkuns, lewer referate by verskeie nasionale en internasionale kongresse en fasiliteer meer as 150 werkswinkels oor skryfkuns landswyd. Hy was voorheen ook direkteur van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Musiek is die ander groot liefde in sy lewe en hy het onder meer klavier en klarinet gespeel. Deesdae slaan hy tromme en speel ook die eiesoortige didjeridoe. Hy woon saam met sy lewensmaat, Karen Lazenby, en twee kinders in Bloemfontein.

Boekbesonderhede

Oorhandiging van UJ-pryse vir Afrikaans (11 Mei)

Sluit Vrydag, 11 Mei by ons aan vir die oorhandiging van vanjaar se UJ-pryse vir Afrikaans!

SJ Naudé en Jolyn Phillips word afsonderlik vereer vir Die derde spoel en Radbraak.

Boekbesonderhede

Die derde spoel

 
 
 

Radbraak

Herdenk Adam Small met hierdie uitgawe van Kitaar my kruis

Adam Small is een van enkele bruin Afrikaanse skrywers wat in die kanon van die Afrikaanse letterkunde opgeneem is.

Hy was, met die gebruik van Kaaps, ’n voorloper van ’n hele generasie bruin Afrikaanse digters, wat ’n opbloei in protespoësie in die jare tagtig teweeggebring het.

In 2012 het die raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Hertzogprys aan Small toegeken vir sy drama-oeuvre, met spesifieke verwysing na Kanna hy kô hystoe wat as ’n hoogtepunt in die Afrikaanse dramatiese kuns beskou word.

In 2009 is hy ook met die SA Akademie se Eeufeesmedalje bekroon vir sy hele oeuvre.

Kitaar my kruis is vir die eerste keer in 1962 deur H.A.U.M. gepubliseer, en die tweede uitgawe het sewe herdrukke beleef.

In sy huldeblyk getiteld “Die Groot Small”, gelewer te Stellenbosch op 7 Maart 2006 (op LitNet beskikbaar), maak Steward van Wyk die volgende opmerkings oor Small se werk:
 
 

“’n Deurlopende tema in Small se werk is die uitbeelding van die wel en wee van die onderdruktes en die werkersklasgemeenskap onder die beleid van apartheid. In die digbundels Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet loods hy ’n fel aanval op kwessies soos gedwonge verskuiwing, rasseklassifikasie en -diskriminasie en aparte geriewe. Hy maak veral gebruik van satire om die onhoudbaarheid van die stelsel en die valse waardes van gesagsfigure uit te wys.”

Small se identifikasie met sy karakters vind neerslag in sy gebruik van Kaaps – volgens hom ’n volwaardige taal waarin mense hul eerste skreeu en hul laaste doodsroggel gee. Wat in heelparty gedigte opval, is die gebruik van refreine en herhaling, wat as ’t ware die gemeenskap se vrese waarskuwings en aanklagte van die tyd eggo (Van Wyk, 2006). Verder is daar ’n sterk Ou Testamentiese inslag, maar ook talle verwysings na die geboorte en wederkoms van Christus. Volgens Van Wyk word dié gegewe op die lotgevalle van onderdruktes van toepassing gemaak, o.a. die geskiedenis van Moses en die Israelitiese volk onder Egiptiese slawerny: Soos Moses met sy staf, moet die digter met sy kitaar sy mense lei, maar omdat die taak so moeilik is, word die kitaar ironies ook sy kruis. Só lui die openingsgedig byvoorbeeld:

KÔ, LAT ONS SING

Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan! –
yt die twiere boek van Mosas
yt die Exoras
yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse –
o God
maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! –

toe antwoord Mosas en hy sê: ma’ wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?

ma’ die Here sê vi’ hom: djy sal djou mense lei
wat’s in djou hand?
en Mosas sê: ’n staf

nou vrinne
dit was al wat hy gahad het
hierie man van God
’n staf
’n dooie stok
en boenop het hy nog gahakkel ok

ma’ die Here het toe lank moet hom gapraat
oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat
het die Egiptanaar
en Mosas het sy groote kop lat hang
en toe
toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ’n slang!

nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gavra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar

kô, lat ons sing

Boekbesonderhede

Daniel Hugo se vyftiende digbundel tref die rakke

Openbare domein, Daniel Hugo se vyftiende digbundel, bestaan uit toeganklike gedigte vir gewone lesers en letterkundiges.

Hugo is een van Afrikaans se voorste en gewildste digters. Hy is ook een van die bekendste radiostemme in die land.

Hugo het al meer as vyftig werke uit Nederlands in Afrikaans vertaal; dit sluit in romans, digbundels, asook kinder- en jeugboeke. Hy is in 2014 en 2017 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns bekroon vir sy vertaling van onderskeidelik Tom Lanoye se Sprakeloos en Stefan Hertmans se Oorlog en Terpentyn.

Hugo het in 1987 sy doktorsgraad in die letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang vir sy ondersoek na die vernufsvers in Afrikaans. Na ’n tydperk as lektor in Bloemfontein was hy twintig jaar lank radio-omroeper by RSG en daarna uitgewersredakteur by Protea Boekhuis. Deesdae is hy voltyds ’n vertaler en vryskut-taalpraktisyn.
 
 
 
 
 
Boekbesonderhede

Jong musikant verras met bundel wat hartsnare roer

Die jong Johannesburgse musikant, Almero Welgemoed, het onlangs sy aanhangers verras met ’n kortverhaal- en digbundel wat roerende temas bevat. Hy skryf oor onderwerpe waaroor mense moeilik in die openbaar praat, maar wat tog soms baie gesinne agter toe deure raak, soos onder andere huishoudelike geweld.

“Ek het gevoel dis belangrik om te skryf oor die lelike dinge in die lewe en ek hoop mense sal besef hulle is nie alleen nie,” sê hy.

Die bundel, Donderweer Gedagtes, bestaan uit ’n reeks briewe (gerig aan onder andere God en ook aan homself), gedigte, aanhalings uit gesprekke wat ’n bepaalde indruk op hom gemaak het en ook kortverhale, wat alles saam ’n geheelbeeld vorm. Die karakters in die boek worstel met verskeie vrae en innerlike konflik. Elke karakter hanteer dit op ’n unieke manier, wat dan natuurlik weer ’n invloed op ander karakters het en sodoende ’n (somtyds onbewustelike) rimpel-effek veroorsaak.

Kwessies soos depressie, selfskending, selfmoord, sosiale aanvaarding en geloof word aangespreek in die boek. Welgemoed sê hy hoop om veral tieners en studente wat soms in die geheim met hierdie probleme sukkel, te bemoedig en aan te moedig om hulp te kry.

Welgemoed was ook die mede-samesteller van die populêre digbundel Liefde Wen saam met kunstenaar Bouwer Bosch. Donderweer Gedagtes word uitgegee deur Naledi en is beskikbaar by www.naledi.online.

Boekbseonderhede

Wenners van die 2018 UJ-pryse bekend!

Die wenners van die gesogte UJ-pryse vir letterkunde is onlangs bekendgemaak.

Dié pryse woord jaarliks in twee kategorieë toegeken vir uitsonderlike Afrikaanse boeke wat in die vorige kalenderjaar gepubliseer is. Genre word nie in ag geneem nie met die beoordeling van die boeke nie.

Prysgeld vir die UJ-debuutprys beloop R30 000 terwyl die wenner van die UJ-prys met R75 000 beloon word.

Die wenners!

Jolyn Phillips. (©Naomi Bruwer)

 
Die wenner van die UJ-debuutprys is Jolyn Phillips vir haar digbundel Radbraak.

Radbraak is Jolyn, kortverhaalskrywer van Tjieng tjang tjerries, se digdebuut in Afrikaans.

In dié digbundel verbrokkel sy taal, draai sy rug op haar vel-taal, pleeg sy ‘radbraak’ op haar eie taal. Dit is die enigste medium wat sy het, maar sy breek dit, sy vernuwe dit, sy ‘ont’taal dit.

Phillips is ’n nuwe stem in Afrikaans – by tye liries maar deurgaans skreiend en ook uitdagend.

Volgens bekroonde digter Petra Müller is Radbraak ’n ‘klein aardbewing van ’n bundel’.

Ook uit Müller se keurverslag:’Hierdie skrywer het die engel in die klip beet.’

Jolyn Phillips, 27, is gebore en getoë in Blompark, Gansbaai. Haar debuutkortverhaalbundel, Tjieng Tjang Tjerries and other stories, verskyn in 2016. Sy is tans besig om met haar doktorale tesis aan die Universiteit van Weskaapland (UWK). Sy beskryf haarself as ’n woordswerwer maar werk ook deeltyds as ’n dosent en sangeres.

SJ Naudé. ©Liné Enslin.

 
Die wenner van die UJ-prys is SJ Naudé vir sy roman Die derde spoel.

Etienne is twee-en-twintig en studeer filmkuns in London nadat hy uit Suid- Afrika gevlug het om diensplig te vermy. Dit is 1986, die tyd van Thatcher, optogte teen apartheid, en Vigs, maar ook van eksperimentele kuns, postpunk en die Royal Vauxhall Tavern. Etienne raak verlief op ’n Duitse kunstenaar in hierdie skadustad waar mense in bouvallige kunstenaarskommunes woon.

In Londen kom Etienne af op die eerste van drie filmspoele wat tydens die dertigerjare in Duitsland verfilm is. Etienne begin na die verlore spoele soek, ’n soektog wat ’n obsessie word wanneer sy geliefde vermis raak in Berlyn. Terwyl Etienne die gevaarlike ruimtes weerskante van die Muur navigeer, begin die verhaal van ’n groepie Joodse filmmakers in Nazi-Duitsland vorm aanneem.

Etienne word egter teruggeruk na die hede en na Suid-Afrika, maar sy soektog na die vermiste film duur voort.

Argitektuur, kinematografie, seks, musiek, siekte, verlies en liefde deurweek SJ Naudé se kosmopolitaanse en roerende Die derde spoel, waarmee hy nuwe grond vir die roman in Afrikaans breek.

Boekbesonderhede